Vervolging van Christene neem erg toe op Afrika-vasteland

Somalië het weereens die derde plek op Geopende Deure Internasionaal se 2020-Wêreldwaarnemingslys gehaal vir die lande waar Christene die ergste vir hul geloof vervolg word. (Foto: Verskaf.)

Altesaam 309 miljoen Christene oor die hele wêreld ervaar nou ernstige vervolging weens hul geloof, en dit is slegs onder die 50 lande wat Geopende Deure Internasionaal se jongste Wêreldwaarnemingslys gehaal het.

Volgens Jan Gouws, direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, beteken dit ʼn skokkende een uit elke agt Christene wêreldwyd word vir hul geloof vervolg. Christene in altesaam 74 lande ervaar ʼn vlak van vervolging wat as uiterste vervolging, baie hoog of hoog gemeet word.

Maroela Media het vroeër berig oor die organisasie se waarnemingslys vir 2021 wat op 13 Januarie bekendgestel is. Die algemene tendens in hierdie wêreldwye opname, wat monitor hoe moeilik dit is om as ʼn Christen te leef, wys dat die vervolging van Christene teen ʼn kommerwekkende tempo in Afrika toeneem en dat die Covid-19-pandemie diskriminasie teenoor Christene verder vererger het.

Noord-Korea is reeds vir die 20ste jaar agtereenvolgens boaan dié lys. Hierdie land is sedert 2002 deurlopend aan die voorpunt van die rangorde as die land met die ergste vervolging van Christene. Kort op sy hakke is Afganistan in die tweede plek en Somalië in die derde plek.

Die belangrikste veranderinge op die lys sedert Wêreldwaarnemingslys 2020 is:

  1. Nigerië het die top-10 vir die eerste keer sedert 2015 betree – op nr. 9, ʼn verhoging vanaf nr. 12 verlede jaar.
  2. Jemen en Iran het albei een plek gestyg.
  3. Indië bly op nr. 10, die posisie wat dit beklee sedert dit die top-10 vir die eerste keer in 2020 betree het, weens stygende Hindoe-nasionalisme.
  4. Nigerië het weereens die hoogste telling vir geweld behaal (soos in vorige jare), hoofsaaklik omdat gewapende Fulani-veewagters honderde Christelike dorpe verwoes het, asook omdat Boko Haram en ʼn reeks misdaadgroepe aanhou om mense te vermoor, ontvoer en verkrag sonder dat hulle daarvoor gestraf word.
  5. Soedan het egter die doodstraf vir afvalligheid van sy nasionale geloof (bv. om Islam te verlaat) afgeskaf. Die tussentydse grondwet wat in 2019 opgestel is, waarborg vryheid van geloof, laat Sharia weg as die primêre bron van wetgewing en spesifiseer Islam nie meer as die staatsgodsdiens nie – hoewel daar steeds baie weerstand is teen sulke drastiese veranderinge ná 30 jaar. Die land het van nr. 7 tot nr. 13 gedaal.
  6. Irak het van nr. 15 tot nr. 11 gestyg, deels weens die deurlopende onsekerheid van Christene wat na hul huise terugkeer. Christene word steeds doodgemaak, ontvoer en aan fisieke, sielkundige, seksuele en emosionele mishandeling onderwerp. Talle mense in die land wat gevlug het, het ook in die somer van 2020 onder Turkse aanvalle in die Dohuk-gebied deurgeloop.
  7. Sirië het een plek gedaal vanaf nr. 11 tot nr. 12. Ondanks beter toestande, veral in Koerdies beheerde gebiede, is daar steeds gewelddadige Islamitiese aanvalle – een in November 2019 het daartoe gelei dat sewe Christene doodgemaak en nog 70 gewond is.
  8. China is vir die eerste keer in ʼn dekade in die top-20 en het vanjaar tot nr. 17 gestyg, vanaf nr. 23 in 2020. Die Kommunistiese Party het sy regulering van alle streke in 2020 uitgebrei en selfs regeringsgoedgekeurde kerke, Katoliek én Protestant, word voortdurend dopgehou, aanlyn én op ander maniere.
  9. Viëtnam het vanaf nr. 21 tot nr. 19 gestyg. Talle Christelike etniese minderheidsgroepe het gemeld dat hulle uitgesluit is van Covid-19-hulpverlening.
  10. Turkye het vanaf nr. 36 tot nr. 25 gestyg, hoofsaaklik vanweë sy telling vir geweld. Christene sê dat daar ʼn baie meer openlike Islamitiese en nasionalistiese agenda is sedert die poging tot ʼn staatsgreep teen pres. Erdogan in 2016.
  11. Colombië het vanaf nr. 41 tot nr. 30 gestyg. Ná die mislukking van die 2016-vredesooreenkoms het georganiseerde misdaadgroepe aangehou om dele van die land, veral landelike gebiede, te beheer. Hul beheer het gedurende die kwarantyntydperk gegroei omdat hulle die regering se aandklokreëls en ander beperkings vir hul eie doeleindes misbruik het.
  12. Bangladesj het van nr. 38 tot nr. 31 gestyg. Ná ʼn aanval deur ʼn gewelddadige Islamitiese groep in Januarie 2020 word twee mans steeds vermis. Verder is ʼn 14-jarige meisie wat ook ontvoer is, skynbaar onder dwang met ʼn militant getroud.
  13. Mexiko het tot nr. 37 gestyg (vanaf nr. 52 in 2020, hoewel dit in 2019 op nr. 39 was).
  14. Die Demokratiese Republiek van die Kongo het tot nr. 40 gestyg (vanaf nr. 57 in 2020), hoofsaaklik omdat die Islamitiese groep ADF volgens die Verenigde Nasies sedert 2019 sowat 1 000 burgerlikes vermoor het.
  15. Mosambiek het die top-50 op nr. 45 betree (verlede jaar op nr. 66) weens die Islamitiese geweld in Cabo Delgado.
  16. Kameroen, wat sukkel om konflik en toenemende geweld deur Boko Haram en ander Islamitiese groepe te bekamp, het na nr. 42 gestyg vanaf nr. 48.
  17. Die Comore-eilandgroep, oos van Mosambiek, het weer die top-50 betree in posisie nr. 50 (vanaf nr. 54 verlede jaar) ná baie jare lange afwesigheid. Die regering ontken godsdiensvryheid vir sy burgers openlik.

Hoe kan jy vervolgde Christene help?

Volgens Gouws is die eerste ding waarvoor die meeste vervolgde Christene vra nie vir bystand, Bybels of ondersteuning nie, maar vir gebed.

“Mense kan saam met ons broers en susters in Christus bid om hulle te ondersteun en te versterk te midde van die stygende vervolging wat hulle ervaar.

“Om dié rede het Geopende Deure ʼn Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart saamgestel wat luisteraars gratis op ons webwerf kan aflaai. Só kan ons ons geloofsfamilie in gebed ondersteun sodat hulle kan weet dat hulle nooit alleen is nie.”

Die gebedskaart wys die top-50 lande vir 2021 en gee ook meer inligting en spesifieke gebedspunte. Laai die gebedskaart af by Opendoors.org.za.

  • Jan Gouws, direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor die jongste tendense in sy organisasie se Wêreldwaarnemingslys vir 2021. Gouws verduidelik ook hoe jy kan betrokke raak en vervolgde Christene wêreldwyd kan ondersteun. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Androclus ·

Here ek bid dat U almal sal beskerm waar daar vervolging van U woord is in Jesus se naam .
AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.