Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdryf nie. (Hebreërs 2:1)
Toe ons jare gelede in ons huis ingetrek het, was dit erg verwaarloos. Die tuin was woes en leeg, maar daar was gras. Dik groen gras. Met groot sorg en baie moeite het ek kompos aangery, beddings gemaak, besproeiing aangelê en plante gekoop – wat soms gevrek, soms oorleef en soms floreer het. Die gras het nie hierdie spesiale aandag gekry nie. Ek en my tuin het geblom as iemand ’n kompliment na ons kant toe gegooi het.
Toe gebeur dit. Termiete, ’n bouprojek, seuns wat in die tuin krieket speel en ’n nare droogte. My beddings en die bome waarin ek so baie belê het, oorleef … maar die gras lyk soos ’n plakboek waaruit iemand die foto’s geruk het. Die skade is hartverskeurend.
So dikwels aanvaar ons ons geestelike lewe as vanselfsprekend en gee aan soveel ander dinge voorkeur. Maar op ’n dag besef ons ons het ons geestelike lewe so verwaarloos dat dit gestroop voor ons lê. Ons yl geestelike lewe skep ’n moedelose prentjie na buite, terwyl dit eintlik ’n beeld van hoop vir ander moes wees.
Moenie jou geestelike lewe verwaarloos nie. Gryp vandag weer aan die Here vas sodat jy nie van Hom af wegdryf nie.
Here, help my om die meeste tyd en moeite in my verhouding met U te belê. Maak my innerlik sterk om te volhard in my geloof totdat U ons kom haal. Amen.