Video: Die lewe in ʼn Noord-Koreaanse tronk…

Gevangene 42 is vir ʼn jaar in haglike toestande in ʼn Noord-Koreaanse tronk aangehou voordat sy gevonnis en na ʼn arbeidskamp oorgeplaas is (Foto verskaf deur Geopende Deure)

My naam is Gevangene 42 en ek was ʼn geheime gelowige in ʼn Noord-Koreaanse tronk (klik hier om ʼn video [44 mb] af te laai). Die dae was ʼn warreling van hongerte en marteling, en ek het onder onmenslike omstandighede geveg om oorlewing…

Weens die hongersnood in my tuisland het ek na China gevlug. Hier het my pad met dié van ander Christene gekruis en het ek besluit om my hart vir Jesus te gee. Op ʼn dag is ek egter deur ʼn groep mans in ʼn geheimsinnige swart motor ontvoer en na Noord-Korea teruggeneem, waar ek summier in die tronk gegooi is.

Ondraaglike omstandighede

My regte naam is natuurlik nie Gevangene 42 nie – dit is die naam wat die tronkbewaarders aan my gegee het omdat die nommer “42” op my tronkklere geskryf was. Alles word van jou af weggevat – jou naam, vryheid, gesondheid en klere. Jou hare word afgesny en uiteindelik word die daglig ook van jou weggevat wanneer jy in eensame afsondering, weg van ander mense af, in ʼn donker sel toegesluit word.

Elke oggend is ek vir ure lank oor my Christenskap ondervra. Die ondervraging het nooit opgehou nie en dieselfde vrae is herhaaldelik gevra. Wanneer hulle my in die oggend geroep het, het ek ineengekrimp van vrees, want ek het geweet dat ek geslaan, geskop en op ander onmenslike maniere gemartel sou word.

Die temperature in my sel was ondraaglik – bedags was dit bloedig warm en snags snerpend koud. Dit was so klein dat daar skaars genoeg spasie was om plat te lê. Ek is egter nie toegelaat om te lê nie – ek moes regop sit, met my hande oor my gekruisde knieë.

Ek het besef dat ek doodgemaak sou word as ek aan die wagte erken dat ek ʼn kind van Jesus is en Hom liefhet. Al wat ek kon doen, was om te bid en saggies in my gedagtes te sing. Ek het geweet dat die Here my sou beskerm. My hart het na die Vader gesmag en ek het geweet dat daar uitkoms sou wees as ek aanhou om in Sy voetspore te volg.

Vonnis en verskuiwing na die arbeidskamp

Gevangene 42 is in eensame afsondering in ʼn donker sel toegesluit omdat sy Jesus liefhet (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Ná ʼn jaar in die tronk, het ek vir die eerste keer in die hof verskyn. My man was ook in die hof, maar ons kon glad nie met mekaar praat nie en hy was duidelik baie hartseer. Toe die regter hom vra of hy van my wou skei, het hy in ʼn gebroke stem bevestigend geantwoord. Dit het my hart gebreek, maar ek het besef dat hy hierdie keuse ter wille van ons familie en kinders moes maak. Hulle sou almal gestraf word as hy nie van my skei nie.

Danksy my voortdurende ontkenning, kon die regter my nie skuldig bevind daaraan dat ek ʼn Christen is nie. Ek is steeds tot vier jaar in ʼn arbeidskamp gevonnis, waar ek tot twaalf ure per dag moes werk. Elke dag was een lang nagmerrie. Maar ten minste was ek nie meer alleen in ʼn sel nie en het ek vir die eerste keer in ʼn jaar weer die sonlig en wind op my vel gevoel.

Die ergste skok was die swak fisiese toestand van die gevangenes in die arbeidskamp. Hulle was brandmaer en sommige was só swak dat hulle ledemate verloor het.

Hier het die Here my met ander gelowiges in aanraking gebring en ons het ʼn geheime kerk in die kamp gevorm. Wanneer dit veilig gevoel het, het ons bymekaar gekom. Dan het ons die Onse Vader gebid en Skrif uit die Woord opgesê om mekaar te versterk.

Ondanks alles wat ek verduur het en my omstandighede, het God aan my gewys dat Hy my nooit alleen sou laat nie. Hy was elke dag, uur, minuut en sekonde by my in my sel. Hy het oor my gewaak en my verhoed om op te gee, selfs toe dit gevoel het of ek nie meer kon uithou nie.

Die realiteit in Noord-Korea

Gevangene 42 se getuienis is soortgelyk aan dié van duisende ander gelowiges in Noord-Korea. Geopende Deure beraam dat 50 000 tot 70 000 Christene onder soortgelyke omstandighede in Noord-Koreaanse tronke aangehou word.

Hierdie land met sy outoritêre regering is vanjaar vir die 20ste jaar in ʼn ry bo-aan Geopende Deure Internasionaal se Wêreldwaarnemingslys, wat jaarliks die top 50 lande in numeriese volgorde aankondig waar Christene die ergste vervolging vir hul geloof ervaar. Deur Geopende Deure se geheime netwerk word sowat 90 000 geheime gelowiges in die land aan die lewe gehou met geestelike en fisiese ondersteuning.

Maak ʼn verskil

Jý kan vandag saam met ons werk om vervolgde Christene in die wêreld se gevaarlikste plekke, soos Noord-Korea, te ondersteun en ʼn verskil in hul lewens te maak. ʼn Bedrag van so min as R280 kan kos, medisyne en ʼn veilige hawe bied aan ʼn Noord-Koreaanse gelowige wat van uiterste vervolging vlug. ʼn Skenking van R1 400 kan dieselfde doen vir vyf Noord-Koreaanse gelowiges.

Klik hier vir meer inligting en om betrokke te raak by hierdie unieke projek om aan ons broers en susters in geloof te wys dat hulle nooit alleen is nie.

  • Hierdie artikel is gebaseer op die ware verhaal van Gevangene 42, ʼn Noord-Koreaanse Christen wat eers vir ʼn jaar tronk toe en later vir nog vier jaar na ʼn arbeidskamp gestuur is. Sy het ondanks haglike omstandighede in die tronk onwrikbaar aan haar geloof vasgeklou. Sy is ná twee jaar in die arbeidskamp vrygelaat en is vandag ʼn lewende getuie van God se teenwoordigheid in Suid-Korea, waar sy na haar vrylating ʼn toevlugsoord gevind het. Inligting oor ander Christen-gevangenes in Noord-Korea se ervarings is ook hierby ingewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.