Vlog vol waarheid: Verblind deur liefde

Mauritz Zietsman (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

1 Johannes 4:18 (NLV) – “Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie, volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volmaakte liefde bemeester nie.”

Liefde is ʼn wonderlike ding. Die vlinders in jou maag as jy daardie ou of meisie sien waarvan jy al so lank hou, die lekker gesprekke op WhatsApp tot laat in die nag, die koffie drink by Mugg & Bean, die geselsies pouses op die pawiljoen.

Niemand kan stry dat hierdie dinge lekker is nie, maar dit kan soms ook ʼn lokval wees. Jy vra heel waarskynlik nou jouself, wat op dees aarde kan nou ʼn lokval wees aan die bogenoemde? Kom ek verduidelik.

Ons as mens kan soms “verblind” raak deur liefde, tot só mate dat jy elke sekonde en minuut van die dag aan hierdie spesiale persoon dink. Dit is nie noodwendig ʼn slegte ding nie, maar dit kan ʼn negatiewe ding raak wanneer ons fokus en aandag totaal en al van God af gevat word.

Ek was in gr. 9 toe ek vir die eerste keer in die hoërskool ʼn meisie gehad het. Die verhouding het egter op die rotse beland toe ek vir haar gesê het dat ek die naweek by een van my vriende gaan kuier. Sy was nie gelukkig nie en dit het daarop neergekom dat ek ʼn keuse moes maak tussen haar en my vriende.

Mauritz Zietsman en sy vrou, Michelle Rousseau. Foto: Facebook

ʼn Bietjie drasties as jy my vra, maar sy was heeltemal ernstig hieroor. Sy kon nie verstaan dat ʼn mens nog vriende kan hê terwyl jy uitgaan met ʼn ou of ʼn meisie nie. Ek moes net daar die lyn trek en die verhouding maar beëindig.

Soms regeer ʼn liefdesverhouding mens se lewe tot so ʼn mate dat wanneer jy verder in die pad af seerkry, is daar niemand meer rondom jou om jou te vang wanneer jy val nie. Ek het soveel keer op skool gesien hoe mense hul vriende opoffer vir die nuwe ou of meisie in hul lewe en wanneer dinge dan nie uitwerk nie, moet hulle daardie seer alleen verwerk.

Verhoudings was nooit gemaak om in afsondering plaas te vind nie. ʼn Mens kan in ʼn normale en gesonde verhouding wees sonder om jou hele leefstyl aan te pas.

Ons mis dikwels die Here se stem as ons toelaat dat ons “verblind” word deur liefde.

Ek wil jou vandag bietjie uitdaag om die bogenoemde Skrifgedeelte te lees, te ontleed en te hoor wat die Here met jou kommunikeer deur hierdie woorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

Dit is waar…en erken dit todat die Here alles familie,vriende en gelieftes weggevat om ware Agape God kan ontdek dankie Here met my trane x

OWO ·

Liefde het vele fasette.Die liefde wat jy hier beskryf is,filia liefde.Dit dui op ‘n vriendskap of verhoudings liefde.Dit kan kwyn as die een wat liefhet,nie meer vreugde in die geliefde vind nie.
Agape liefde word gebruik vir God se liefde vir ons,en ons liefde vir Hom en vir mekaar.Dit het ‘n ander betekenis as filia liefde.Die verskil kom mooi uit in die gesprek tussen Jesus en Petrus in Joh 21:15.Petrus erken dat hy nie die soort liefde het wat Jesus vra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.