Gedagte vir die dag: Voltyds

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 58:9b-14

… as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is … (Jesaja 58:10)

Die Here is hier besig om deur sy profeet allerlei beloftes aan sy volk te maak. Die ellendige ballingskaptyd sál verbygaan, sê Hy. Hulle moet hulle intussen gereed hou om aan hul Here se wense te voldoen, en die onontbeerlike seën sal daarop volg.

Interessant, dié Godsbevele: Deurentyd val die klem op praktiese sake wat hul medemens raak. Dit is so basies soos: gee brood en klere, verskaf onderdak (vgl. Jes 58:7). En hier word dié versterkende uitspraak bygevoeg: Jy moet jou aan hul behoeftes toe- wy (vgl. v. 10).

Hoe herinner dit nie aan Paulus se latere riglyne nie. Dié lui onder meer só: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid” (Rom 12:13). Hier is van veel meer sprake as  ’n toevallige toebroodjie of ’n aalmoes in ’n bak hand; hier word ’n lewenswyse beskryf, die konsekwente deurvoer van ’n wilsbesluit. Georganiseerde, gestruktureerde hulp.

Almal wat iets hiervan weet, sal sê dergelike aksie het geen einde nie. Dit is ’n lewenslange onderneming. Nie dat die doel daarvan is om mense vir altyd afhanklik te hou nie – inteendeel. Maar wanneer die eertydse behoeftiges eers geleer het om self beter reg te kom, het daar reeds weer nuwelinge by die ry aangesluit.

Nee, barmhartigheidsdiens handhaaf nie kantoorure nie en deernis het nie ’n vervaldatum nie. Dit is goed so, want dit is hier- die voltydse bemoeienis met die weerloosstes wat die son elke dag ook oor jou laat opkom.

Here, U stuur hulle elke dag oor my pad, die hongeriges. Leer my hoe U wil hê ek my aan hulle en hul behoeftes moet gee.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.