Gedagte vir die dag: Die vreugde van my voorregte

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here jou God aan jou en jou huisgenote gee, jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou woon. (Deuteronomium 26:11)

Moenie skuldig voel omdat jy in ’n gerieflike huis woon met mooi meu­bels nie. Wees trots op jou kinders, speel met jou troeteldiere. Lees jou boeke, kyk jou flieks. Gaan koop daardie CD of DVD. Geniet jul samesyn op familiefeesdae, vier doopdae, verjaardae, gradeplegtighede, sportprestasies en bruilofte. Jesus het op sy dag ook ’n bruilof bygewoon en nogal ’n paar kanne water in wyn verander (lees Johannes 2:1–12).

Die Here God gun ons ons lewe, maar dan moet ons dit ook vir ander gun. Hy wil hê ons moet die vrug van ons arbeid geniet, maar nie ten koste van ander nie. Om die rede sluit Hy pertinent die Leviete wat nie landbouers was nie, en die weduwees, wese en vreemdelinge by die Joodse boerderyge­meenskap in. Almal moet kan deel in die voorspoed, maar hulle moet uit dankbaarheid die eerste van die land se opbrengs eers vir Hom bring. ‘Dan moet jy dit neersit in die teenwoordigheid van die Here jou God en Hom aanbid’ (Deut 26:10).

Loof en dank Hom vir al jou voorregte en moenie jou verantwoorde­likhede teenoor die armes vergeet nie. Geniet wat jy ontvang en gun ander dieselfde. Wat van vreemdelingehaat? Mag ons vreemdelinge wat in ons land kom belê het, hul voorspoed beny? Nee, die Here gee alles vir almal, solank ons Hom nie vergeet nie. ‘As jy die Here jou God nie met vreugde en blydskap dien nie omdat jy baie besit,’ waarsku Hy die Jode, ‘sal jy jou vyande wat deur die Here teen jou gestuur sal word, moet dien’ (Deut 28:47–48).

Hebsug veroorsaak misdaad en oorlog. Voorspoed en vooruitgang is tekens van vrede.

Here Jesus, help ons om ons voorregte met mekaar te deel.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ElgeraineR ·

Net om hierdie pragtige stuk te kon lees, is reeds n groot genoeg voorreg om dankbaar voor God te wees! Here, vergewe my as ek nie alles kan opnoem waarmee U my lewe verryk nie, dankie vir ALLES wat ek van U ontvang!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.