Studie toon hoe mense ʼn moeilike baas hanteer

Om ’n moeilike baas te hê kan ʼn mens se droomwerk in ’n nagmerrie laat ontaard. Ter wille van oorlewing ontwikkel mense wat hulle in hierdie soort omgewing bevind verskillende maniere om afbrekende leierskapstyle te hanteer.

“Mense gebruik verskillende strategieë waarvan die graad van doeltreffendheid wissel van gesonde hantering met positiewe uitkomste tot ongesonde hantering met negatiewe uitkomste,” sê dr. Beatrix Brink, ʼn raadgewende sielkundige wat onlangs haar doktorsgraad in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

Haar navorsing het werknemers se persoonlike ondervindings met afbrekende leierskapsgedrag in Suid-Afrikaanse instellings verken en hoe hulle sulke gedrag hanteer.

Brink het meestal vrouewerknemers in die vervaardigings-, kleinhandel-, finansiële dienste-, gemeenskapsdienste- en openbare sektor ondervra. Sy het hulle ook gevra om die sielkundige kapitaal-vraelys te voltooi, wat op die individu se vermoë om sielkundige hulpbronne te gebruik soos om op hoop, doelmatigheid, veerkragtigheid en optimisme te fokus.

Brink sê haar navorsing het getoon dat ten einde die bestuurder se afbrekende leierskapstyl te hanteer, deelnemers probeer het om onder meer hulself van die situasie te distansieer deur die bestuurder se teenwoordigheid te vermy terwyl hulle by die werk is, of deur te bedank, of deur voor te gee dat alles in orde is, of deur hulself emosioneel af te sluit.

Brink se studie het getoon dat mense van die volgende meganismes gebruik maak om ʼn moeilike baas te hanteer.

  • Hulle het positiewe (byvoorbeeld oefening) en negatiewe (byvoorbeeld deur te ooreet) dinge gedoen om na hulself om te sien.
  • Hulle het ontvlugting in geloof of spiritualiteit probeer vind.
  • Hulle het hulle tot maatskaplike en familie-ondersteuning gewend, deur byvoorbeeld hul hart by ’n vriend of familielid uit te stort.
  • Hulle het hulle tot professionele dienste gewend soos om ’n sielkundige te gaan spreek of hulp by hul instelling se menslike hulpbronnebestuur, ʼn mentor en welsyndienste te soek.
  • Hulle het hul gedagtegang probeer aanpas deur na positiewe goed te soek wat hulle uit die ondervinding kon leer.
  • Hulle het probeer om hulself met kennis toe te rus deur inligting oor die hantering van afbrekende leierskapsgedrag te soek.

“Hulle het ook met verskillende grade van sukses gepoog om die afwaartse spiraal van die gevoel van oorweldiging en magteloosheid te probeer beëindig. Hulle het dit gedoen deur hulself te laat geld en deur na maniere te soek om die uitwerking van die bestuurder se afbrekende gedrag te omseil.”

Brink voeg by dat dié werknemers in hulself begin twyfel het en die vaardighede en vermoëns waaraan hulle voorheen baie waarde geheg het, begin bevraagteken het.

“Hulle het vreesbevange en ongemotiveerd geword, en het emosies wat wissel van dom voel en tranerigheid tot woede ervaar. Hulle het behep geraak met die ondervinding en het gesukkel om te konsentreer. Hulle het opgehou om goed te doen wat vir hulle lekker is en sommige het selfs begin om die bestuurder se negatiewe gedrag in hul eie persoonlike verhoudings te weerspieël.”

Brink wys daarop dat die deelnemers afbrekende leierskap as die volgende identifiseer:

  • ’n gebrek aan integriteit
  • selfbeheptheid
  • emosionaliteit en buierigheid
  • aggressie
  • lae selfbeeld
  • die neiging om deelnemers te verkleineer en af te breek
  • blaam en afknouery
  • die inbring van negatiewe mededinging in die werkeenheid
  • gebrek aan ondersteuning vir werknemers
  • sabotasie van die werknemer se vermoë om te presteer deur ’n gebrek aan optrede.

Hierdie soort gedrag het gevolge vir medewerknemers én die bestuurders ingehou.

Brink sê die uitwerking wat dié soort gedrag op ander spanlede het, sluit in dat spanlede teen mekaar afgespeel word, voortrekkery en die onsekerheid oor wie volgende aan die beurt gaan wees.

Werknemers het erken hulle het verlig gevoel wanneer dit nie “hul beurt” was om geteiken te word nie, selfs al het hulle geweet die verligting is net tydelik.

“Die werkers het beskryf hoe hierdie bestuurders se eie loopbane ontspoor is deurdat hul rolle benadeel is, deur middel van posverlagings, afdankings, of sielkundige en emosionele gevolge te dra soos tyd af, vermoedelik weens depressie en senu-instortings. Hierdie nadelige gevolge het tot reputasieskade vir die afbrekende bestuurder gelei.”

“Die bestuurder se vermeende ontwrigting het die magtiging van take en besluitneming verhoed, wat die doeltreffende uitvoering van take en die bereiking van doelwitte belemmer het,” voeg Brink by.

Oor wat werknemers te doen staan wanneer hulle met so ’n bestuurder gekonfronteer word, sê sy dit is belangrik om versigtig te werk te gaan en om met groot omsigtigheid die beste kanale te oorweeg om ’n oplossing vir ’n afbrekende verhouding te soek.

Sy voeg ook by dat bestuurders, ondergeskiktes en organisasies waarskynlik daarby sal baat wanneer instellings ʼn omgewing skep waarin mense sonder vrees openhartige gesprekke oor afbrekende leierskap en die negatiewe uitwerking daarvan kan hê.

  • Hierdie artikel deur dr. Alec Basson, senior wetenskapskrywer van die Universiteit Stellenbosch

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Niklaas

Om te werk waar jou baas of senior ‘n boelie is , is glad nie aangenaam. Ongelukkig moet baie van ons dit beleef . Ek moes daardeur , in my eerste werk . Gewoonlik is die baas ‘n mens met ‘n baie lae selfbeeld en met sadistiese neigings. Dis soms moeilik om hul te vermy in die handel en wandel.

OW

Loop ek my in 1978 vas teen so ‘n baas met ‘n militaristiese houding.My voordeel was dat ek toe ook net klaar met my weermag opleiding was.Ek kon die situasie toe baie goed hanteer het.Lang storie kort.Hy het my verplig om hom elke môre by sy lessenaar te groet en ek moes verder studeer in die bankwese.Net daar besluit ek,ek gooi ‘n dowe oor.Hy kon dit later nie meer hanteer het nie en verplaas my na 10 maande na’n ander tak.My oorblywende tyd by die nuwe tak was baie lekker met nuwe base en kollegas.Ek het self besluit in watter… Lees meer »

Wielspore

Bestuurders wat sy besigheid met ‘n ystervuis bestuur beskik oor ‘n Narcissistic personality disorder. Een van my bestuurders het langs sy lessenaar ‘n lys van tipes oortredings teen die muur wat ‘n werknemer kan ondergaan, insubordination – dismissal / refusal to do work – dismissal ens. As jy ingeroep word neem hy die gesprek oor en sê dan vir jou, “kies self waarmee ek jou kan aan aankla”. Hy doen dit, al het jy geen oortreding began, hy dink self goed uit, praat oorverdowend, jy kan en mag nie terug praat. Wat het ek gedoen, het ‘n opname gemaak van… Lees meer »

Veronica

Ongelukkig gebeur die te dikwels! my man se “baas” is ‘n voorheen benaadeelde vrou en sy weet sy is untouchable! so sy maak en breek net soos sy wil, ek kan sien hoe het my man se selfvertroue ‘n helse knou gekry met sy werk, waar hy voorheen ‘n sterretjie was het hy nou begin terug”val” want sy kla die mans onder haar links en regs aan en sy kom weg daarmee want “sy” is ‘n groot assest vir die maatskappy, min swart engineers en veral vroue, wat ‘n joke dis die wit mans onder haar wat haar laat goed… Lees meer »

AH

Ek het self deurgeloop onder so ‘n baas. Hy het geen idee hoe om met mense te werk nie. Hy is veral lief daarvoor om voor ander personeel en kliënte op mens te skree. Ek het menige angsaanvalle gekry, waaroor ek ook “gestraf” was omdat ek af siek was met ‘n geldige doktersbrief. Genadiglik het dit so uitgewerk dat ek daar kon wegkom en ek voel ‘n ander mens! My simpatie lê by die personeel wat nog daar is. Hy teiken ook een persoon per week en die slegste van alles is dat mens niemand het by wie om sy… Lees meer »