11 wenke vir ’n makliker werk-lewe-balans tuis

(Foto: Nathan Dumlao
/Unsplash.)

Deur Paulize Mahon

Mense sal die jaar 2020 nie maklik vergeet nie. Die dae van werk toe gaan terwyl jy ʼn bietjie olik is, is verby, en ons moet noodgedwonge van die huis af werk en na alternatiewe maniere soek om dinge te doen as waaraan ons gewoond was.

Sommige mense is reeds weer terug by die werk, waar ander mense nie weet wanneer hulle terugkeer kantoor toe nie, indien hulle wel teruggaan.

Daar word gereeld gepraat oor werk-lewe-balans en baie mense se definisie daarvan verskil, maar hoe pas ʼn mens dit toe wanneer jy van die huis af werk? Hier volg 11 wenke om seker te maak jy behou steeds jou werk-lewe-balans as jy van die huis af werk.

  1. Rig vir jou ʼn werkstasie in by die huis
    Maak seker dat jy ʼn toegewyde spasie in jou huis het waar jy kan werk, en sorg ook dat jou werkstasie en jou lewensmaat of huismaat se spasie goed ingerig is sodat almal gemaklik en gerieflik van die huis af kan werk sonder dat enigiets jul aandag aflei of steur. Ons almal weet teen dié tyd, om van die huis af te werk is baie rustiger en meer ontspanne as om by die kantoor te werk; dus is dit baie belangrik om seker te maak dat ʼn mens steeds professioneel optree, veral tydens videovergaderings of videokonferensie-oproepe. Om ’n gerieflike werkstasie in jou huis te skep, sal ook help om by ʼn gesonde roetine te bly. Ons almal het daarvan gedroom om eendag in die winter in die bed te sit en werk, maar dit is juis nou belangrik om ʼn gesonde roetine te behou. Dus moet jy na jou werkstasie gaan wanneer dit tyd is om te werk, en weer die werkstasie verlaat as jy ʼn blaaskans neem.
  2. Stel vir jou ʼn gestruktureerde werkskedule op
    Ons is daaraan gewoond om 08:00 dadelik te begin werk en dan tussenin ʼn paar blaaskanse te neem wanneer jy vir jou ʼn koppie tee of koffie maak en wanneer jy jou middagete eet, of dit nou by jou tafel is en of jy gewoonlik uitgegaan het om buite vars lug te kry by die kafeteria. Jy het tussen vergaderings en rekenaarwerk ʼn roetine by die werk gehandhaaf. Dit is baie maklik om jou persepsie van tyd te verloor as jy van die huis af werk. Party mense kan baie langer ure werk as wat hulle gewoonlik by die kantoor sou doen, en ander mense sukkel weer om van 08:00 tot 17:00 gefokus te bly. Probeer om nie net enige tyd van die dag te werk net omdat jy kan nie, maar werk volgens ʼn skedule wat jy opgestel het wat jou dag in nege uur indeel. Dit sal die kinders ook help om te verstaan dat jy sekere tye in ʼn werkmodus is, en wanneer jy dan nie besig is met jou werkskedule nie, is jy in ouerskapmodus. Die ideaal is dat die kinders aan hulle skoolwerk aandag gee terwyl jy met jou werk besig is. Dit is nou uiters belangrik dat jy ʼn daaglikse werkskedule opstel wat jy volg om seker te maak dat daar minimale ontwrigting en afleidings is wat jou aandag aftrek van die werktake wat jy moet verrig.
  3. Stel ʼn doenlysie op sodat jou dag produktief begin
    As jy reeds vir jou ʼn werkbare skedule opgestel het van hoe jy jou dag gaan aanpak, kan jy aan die einde van elke dag vir jou ʼn doenlysie opstel vir die volgende dag se take waarop jy moet fokus. Om fisiek jou doenlysie af te merk soos wat jy take voltooi, kan ʼn merkwaardige uitwerking hê en dit kan verblydend wees om te sien dat jy wel doen wat jy moet doen. Veral as jy begin wonder of jy tans regtig produktief is, is ’n doenlysie van sleutelbelang om seker te maak jy bly ook gemotiveerd deur take af te handel.
  4. Begin jou dag reg
    Probeer sover moontlik om soggens by jou normale roetine te hou. Staan byvoorbeeld op en gaan stort, trek klere aan waarin jy gemaklik en ook professioneel voel, maak jou hare netjies en eet ’n goeie ontbyt voor jy jou rekenaar aanskakel om met jou dag se take te begin. Jy kan meer onproduktief voel as jy in jou nagklere werk of nie ’n normale roetine volg nie. Dit is dus baie belangrik dat jy die dag reg begin om meer produktief te wees en sodoende te sorg dat jy aan die einde van die dag jou rekenaar met genoegdoening kan afskakel.
  5. Stel grense met jou skedule
    Woon jy saam met ʼn huismaat, ʼn lewensmaat of kinders? Maak seker dat almal in die huishouding jou werksroetine verstaan en jou nie in werksure steur volgens jou spesifieke skedule wat jy opgestel het nie. Kommunikasie is in dié geval uiters belangrik. Baie ouers word nou ook verplig om onderwysers vir hulle kinders te wees, dus moet jy seker maak jy het ʼn spesifieke tydgleuf waartydens jy jou onverdeelde aandag en toewyding aan skoolwerk kan gee. Dit sal die kinders ook help om ʼn goeie roetine te handhaaf.
  6. Probeer om nie meer as een ding op ʼn slag te doen nie
    Ons almal is geneig om te spog dat ons met meer as een ding op ʼn slag besig is. Ter wille van produktiwiteit en akkuraatheid is dit egter nie so ʼn goeie idee nie. Dit kan nog moeiliker wees om nie te probeer om vele take gelyktydig te doen as jy van die huis af werk nie. Wees dus versigtig om jou nie hieraan skuldig te maak nie. Dit kan ʼn groot versoeking wees om gou ʼn bondel wasgoed in die wasmasjien te sit terwyl jy werk, of gou skoon te maak en vloere te was, maar dit kan daartoe lei dat jou aandag van jou werk afgetrek word, wat teenproduktief kan wees. Maak huistake deel van jou beplanning.
  7. Sit genoeg tyd opsy vir ʼn blaaskans
    Staan gereeld op en strek jou bene, en gee jou oë ʼn ruskans weg van die rekenaarskerm. Dit is belangrik om gereeld ʼn kort blaaskans te neem. Dit sal verseker dat jy op lang termyn meer produktief is. ʼn Mens se brein moet ook ʼn ruskans kry van werk, en dit is uiters belangrik om te sorg dat jy vars lug inasem deur net ʼn bietjie buite te gaan staan.
  8. Gebruik jou etenstyd vir eie tyd
    Jou ingesteldheid wanneer jy van die huis af werk – hoe jy daaroor dink, en die belangrikste van alles, hoe jy dit bestuur – het ʼn groot invloed op die sukses wat jy daarmee sal behaal. Maak seker dat jy jou etenstyd aan jouself toewy. Doen byvoorbeeld die bietjie oefening wat jy by die huis kan doen. As jy uit die huis mag gaan, gaan stap en kry vars lug, eet iets gesonds of maak ʼn oproep en gesels met iemand met wie jy graag wil gesels, maar nooit tyd kry nie, of bring die tyd saam met jou gesin deur.
  9. Maak seker jy is georganiseerd
    Sit vir jouself tye op jou kalender of in jou dagboek opsy wat jy aan spesifieke take gaan wy, waartydens jy geen vergaderings gaan bywoon nie, en net op jou doenlysie gaan fokus. Sit ook tyd in jou skedule opsy om seker te maak jy bestee tyd om jou e-posse deur te gaan en dit te beantwoord. Indien daar ʼn e-pos is wat baie tyd in beslag gaan neem, ruim tyd daarvoor in op jou kalender sodat jy weet jy kan dan net aan daardie taak aandag gee. Dit sal jou ook help om by jou sperdatums te bly of nie te vergeet van ʼn taak nie.
  10. Faseer jou werksdag uit aan die einde van die dag
    Begin om jou dag af te sluit deur seker te maak dat jy deur die moet-doen-lysie vir daardie dag gaan en afmerk wat jy afgehandel het. Ruim ook tyd in om ʼn moet-doen-lysie vir die volgende dag op te stel om seker te maak dat jou gedagtes nie heeltyd op onafgehandelde werk gefokus is nie. Dit sal ʼn groot invloed hê op hoe jy die res van die aand gaan rus en ʼn goeie balans handhaaf. Skakel ook jou rekenaar af en verlaat jou werkstasie. As jy dit doen, sal jou brein ook vir jou sê dat jy klaar is met jou werksdag.
  11. Bestee genoegsame tyd saam met jou familie om die werksdag mooi af te sluit
    Doen lekker aktiwiteite saam met jou huismaat of lewensmaat om seker te maak jy skakel af van die dag se werk. Doen iets wat almal geniet, hetsy om te gaan stap, saam te oefen, saam ʼn program op die TV te kyk, bordspeletjies te speel of om saam kos te maak en kosvoorbereidings te doen.

Daar is egter geen regte of verkeerde resep vir werk-lewe-balans nie, en sekere dinge werk vir sekere mense, maar nie vir almal nie. Die beste sal wees om met verskillende wenke te eksperimenteer en te kyk wat vir jou werk.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van S-Leer geplaas. Besoek S-Leer, Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer, vir ‘n verskeidenheid van kursusse om jou loopbaandoelwitte te help bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.