Aëroponika: Kosproduksie te goed om waar te wees

Die verskonings vir voedselonsekerheid raak by die dag minder soos tegnologie verbeter, goedkoper word en inligting meer toeganklik word. ʼn Revolusionêre metode, wat in die 1960’s deur Nasa ontwikkel is en gebruik is om vars groente in die ruimte te produseer, is nou vir Jan Alleman in Suid-Afrika beskikbaar.

Aëroponika is ʼn verbouingsmetode waarmee plante se wortels nie in ʼn medium groei nie. Voedingstowwe word in water opgelos voor dit deur middel van fyn mis in ʼn houer geblaas word, waarin die plant se wortels deur ʼn hele aantal gate steek. Die mis verskaf net genoeg vog om die wortels klam te hou en van die nodige voedingstowwe te voorsien. Boonop word die wortels aan genoeg suurstof blootgestel wat beter groei stimuleer.

Wanneer die houer in ʼn toringvorm gebou word, kan jou “groentetuin” gestapel word om die minimum ruimte te beslaan. Dit was ʼn uitdaging om die optimale balans tussen komponente se wisselwerking en die prys te kry, tot ʼn Suid-Afrikaner met die konsep begin stoei het.

ʼn Aëroponiese stelsel beslaan die minste ruimte as die plante in ʼn toringvorm gestapel word. Foto: Danie Pretorius

Vier jaar gelede is Tony Bryant, ʼn ingenieur wat in Irene woon, deur ʼn Hollandse toergroep besoek wat hulle aëroponika-stelsel aan hom bekendgestel het. Dit het hom geprikkel en kort daarna het hy ʼn paar van hulle torings bestel, maar dit was baie duur, moeilik om te vervoer en onprakties vir die Suid-Afrikaanse mark.

Hy het aan die werk gespring en lang nagte bestee om die stelsel te verbeter. Saam met sy vrou, Tanya, wat saam met die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK)  verskeie opheffingsprojekte bestuur, is sy droom om ʼn eenvoudige stelsel te ontwerp wat jy in landelike gebiede kan neersit om ʼn paar families van kos te voorsien. Hy werk onder andere aan ʼn konsep om ʼn hele aantal torings in ʼn behoueringskrat te sit wat jy selfs in die Karoo kan neersit en net aan ʼn watertenk en sonpaneel hoef te koppel. Sy onderneming se naam is Impilo, wat lewe in Zoeloe beteken.

ʼn Kunstenaarsvoorstelling van Impilo se stelsel in ʼn behoueringskrat. Foto verskaf

Aëroponika maak dit moontlik dat beperkings soos water, krag en ruimte geminimaliseer word en sy stelsel lewer uitstekende resultate. Met genoeg sonlig en/of ʼn kweeklig, ʼn kapitaaluitleg van minder as R9 000, twee liter water, R1,20 se krag (0,5 kW/h) en 50 sent se voedingstowwe per dag, kan genoeg groente vir altyd vir ʼn familie van vier in ʼn woonstel verbou word! “Met aëroponika het jy boonop 80%-wortelabsorbsie teenoor 50% met hidroponika,” sê Tony.

Tony se stelsels beslaan minder as een vierkante meter en word net van herwinde plastiek gemaak en ʼn ander sterkpunt is dat syne modulêr is. Hy kan die toring in A4-grootte plate aftakel en saam met die ander komponente vir jou koerier. Met ʼn bietjie vaardigheid kan ʼn persoon dit binne ʼn uur opslaan en laat werk. Wanneer jy jou toring wil hoër maak, kan jy net nog plate bestel. Wanneer die voedingstowwe klaar is, kan dit ook by Impilo bestel word.

Die voedingstowwe is deur ʼn grondwetenskaplike, dr. Arrie van Vuuren wat aan die Greenhouse Trial & Research Centre in Bapsfontein verbonde is, geformuleer, spesifiek vir aëroponiese doeleindes in Impilo se stelsels.

Impilo bou ook NFT (nutrient film technique)-stelsels wat ʼn variasie op hidroponiese stelsels is. In plaas van mis word die regte hoeveelheid opgeloste voedingstowwe van onder af opgespuit sodat dit teen die binnekant van die tonnel afloop om die plantwortels  nat te maak.

Die Bryant-gesin besit die bekende Railway Cafe in Irene en Impilo se stelsels kan elke oggend die restaurant van vars groente en kruie voorsien.

Tony Bryant en Danie Pretorius se kweekhuis voorsien die Railway Cafe daagliks van vars groente en kruie.

Danie Pretorius is verantwoordelik vir Impilo se groter projekinstallasies en opleiding. Hulle ontvang bestellings van oral oor en hy is tans baie besig om stelsels in kweekhuise op geboue se dakke in Johannesburg se middestad te sit.

Impilo se stelsels pryk bo-op die dakke van ʼn paar hoë geboue in Johannesburg. Foto: Danie Pretorius

Groot maatskappye stel belang in hulle plat muureenhede en Vodacom het een vir hulle voorportaal in hulle hoofkantoor in Londen bestel. Impilo is ook nou in die toetsfase van ʼn stelsel met alle moontlike funksies wat uit vliegtuigkajuitmateriaal gegiet is vir ʼn baie gesofistikeerde kliënt.

Tony Bryant en Danie Pretorius spog met hulle muureenheid wat met alle moontlike funksies toegerus is en uit vliegtuigkajuitmateriaal gegiet is.

Impilo het ook ʼn selfoontoepassing laat bou wat verskeie peilstifte (probes), RFID (radiofrekwensie herkenning)-sensors en die IoT (internet of things) inspan. Daarmee kan hulle die pH, lug- en watertemperature in hulle torings en kweekhuise moniteer. Daarbenewens kan ʼn bestuurder ook die werkers se uitsette in groter projekte in verskeie kweekhuise moniteer en bestuur.

Danie eksperimenteer ook met die kloning van groente en verskillende plantkultivars, waar hy stukkies plantafval gebruik om plante van nuuts af te kweek. Sy suksesse is oral in Impilo se stelsels te sien. Hulle hoef dus nie nuwe plantjies te gaan koop of te laat ontkiem om hulle verouderde plante te vervang nie.

Impilo het ook ʼn samewerkingsooreenkoms met die Universiteit van Pretoria en het reeds ʼn hele aantal stelsels aan hulle voorsien waarop navorsing gedoen word. Tuks sal die eerste universiteit in Afrika wees wat ʼn tesis oor aëroponika gaan skryf.

Die perskleurige kweekligte wat die aëroponiese stelsels aan die lewe hou, is van ver af sigbaar bo-op die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe se dak. Foto: Danie Pretorius

Verlede jaar het Impilo die Corporate Live Wire Prestige-toekenning in Suid-Afrika gewen en is een van die finaliste wat na die internasionale kompetisie deurgedring het.

“Ons bou ons stelsels so gehard en eenvoudig as moontlik om dit vir almal gebruikersvriendelik te maak,” sê Tony.

Gaan kyk gerus op hulle webwerf, www.impiloprojects.com, om meer oor hierdie merkwaardige tegnologie te leer.

Die oud Springbok, Warren Brosnihan het hierdie video van sy NFT Impilo-stelsel gemaak:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Ek het ook n stelsel wat hidroponies en aquaponies so 800 plantjies huisves. Airoponies is goed maar o wee as die krag afgaan.

Heinrich

Indien die ANC aangaan soos hulle huidiglik aangaan, sal ons almal so stelsel aan die gang moet hou met solar krag en watertenks.