App-gedrewe bank open digitale deure

(Foto: Bank Zero)

Bank Zero het die jongste speler in die groeiende Suid-Afrikaanse banksektor geword en beloof benewens ’n geenkosterekening ook transaksie- en kaartsekerheid sonder gelyke.

Die nuwe bank bevind hom in die geselskap van verskeie (ver)nuwe(nde) rolspelers in die bedryf, waaronder TymeBank en Discovery Bank. Terwyl laasgenoemde twee reeds stewig sake doen, kom Bank Zero se amptelike (digitale) opening ná ’n lang vertraging weens die onsekerheid wat die Covid-19-pandemie teweeggebring het.

Planne vir die bank is reeds aan die begin van 2018 aangekondig, met die aanvanklik beplande bekendstellingsdatum wat ’n jaar later sou volg. Die koronavirus het egter ’n stokkie hiervoor gesteek en die bank het Dinsdag stelselmatig toegang tot sy app begin bied. Voornemende kliënte kan op ’n waglys (by die Kontak ons-deel op sy webwerf) aanteken, waarna kliënte stelselmatig toegang tot die app sal kry waar hulle die registrasieproses kan voltooi.

Bank Zero is die saailing van gesoute sakeman dr. Michael Jordaan, voormalige uitvoerende hoof van FNB en hoof van die beleggingsgroep Montegray Capital, en die bankinnoveerder Yatin Narsai. Albei was nou betrokke by die digitale transformasie van FNB tydens hul werktydperk by dié bank.

Volgens Bank Zero is dit ’n app-gedrewe bank en nie bloot ’n bank met ’n app nie. Alle funksies word deur middel van die app hanteer, sonder takke of inbelsentrums. Sy vernaamste waardeaanbod is ’n geenkosterekening waar kliënte se eie transaksies kosteloos is. Transaksies met derde partye, waaronder kontantonttrekkings by kitsbanke en kleinhandelbetalings, is egter aan transaksiekoste onderhewig.

Afgesien van geenkostebankdienste, spog Bank Zero ook met verskeie sekerheidsfunksies en ander digitale innoverings wat hy hoop hom van sy mededingers sal onderskei. Dit sluit in magtiging vir alle aanlyn transaksies, ongeag of die webwerf 3D Secure of iets soortgelyks gebruik. Dit bied ook beheer oor enige nuwe debietorder wat op die rekening gelaai is. Dit word in die app gemerk en kan onmiddellik verwerp word.

Die app stel verskeie mense, hetsy werknemers of familielede, in staat om rekeninge te beheer of toegang daartoe te verkry. Hul selfoonnommers word gelaai op die rekeninge en/of ontvangers waartoe hulle toegang het. Vir individuele rekeninge sal die rekeninghouer transaksies kan magtig of verwerp, terwyl transaksies vir sakerekeninge ’n magtigingsketting volg wat opgestel kan word met tot drie vlakke en tot drie goedkeurings per vlak.

Die 16-syfer-kaartnommer verander ook nie elke keer wanneer die kaart vervang word nie, tensy die kliënt daarop aandring, wat beteken dat jou kaartbesonderhede vir digitale intekeningdienste nie telkens hoef te verander nie. Ander funksies sluit in betalings met QR-kodes, biometriese toegang en tradisionele funksies, soos bewyse van betalings, wat alles digitaal deur die app hanteer word.

Sakebankdienste is Bank Zero se prioriteitsegment, iets wat hy glo groot potensiaal inhou omdat sakelui tans buitensporige bedrae aan bankkoste moet opdok. Die aanbod vir sake-eienaars kom daarom reeds met die integrasie van rekeningkundige sagteware.

Jy kan egter nie vir krediet by Bank Zero aanklop nie. Volgens die bank is daar ’n ooraanbod van krediet in Suid-Afrika en wil hy deur innovering eerder die kredietlas van sy kliënte verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.