Apple blom, Google belê, Samsung beplan

(Foto: iStock)

Die tegnologiespeelveld is so wispelturig en onvoorspelbaar soos Eskom se beurtkragskedules: jy weet iets is op pad, maar ’n mens is net nie seker presies wat nie totdat dit gebeur.

Slimfoongeesdriftiges is behoorlik aan’t gons oor wat Samsung in die mou voer vir sy Galaxy Unpacked-geleentheid wat op 8 Februarie plaasvind (die moontlikheid van ’n nuwe Galaxy S-toestel is deel van dié bespiegelings). Samsung het einde Januarie ’n stewige bedryfswinsverhoging van 53% vir die vierde kwartaal van 2021 aangekondig.

Apple blom in China

Intussen vier Apple fees nadat hy sy vastrapplek in die laaste drie maande van 2021 in China verstewig het. Dit is die eerste keer in ses jaar wat Apple die botoon in dié land voer. Sy markaandeel het oor dié tydperk gestyg tot 23% teenoor die 16% in die ooreenstemmende tydperk in 2020. Dít kom ten spyte van ’n 9%-jaar-op-jaar-daling in slimfoonverkope in China.

Volgens Counterpoint Research het Apple in die drie maande tot einde Desember nie net in China nie, maar ook die res van die wêreld koning gekraai wat slimfoonverkope betref, danksy die uitrol van sy iPhone 13 wat in September verlede jaar bekendgestel is.

Die navorsingsgroep Canalys het op sy beurt gesê Apple en Samsung het die feestyd afgesluit met ’n markaandeel van onderskeidelik 22% en 20%.

As ’n mens na die hele jaar se verkope kyk, het Vivo en Oppo steeds die topposisies in China beklee en albei hou ’n aandeel van bykans ’n vyfde van dié steeds groeiende mark. Dit kom ten spyte van ’n verlangsaming van 6% in Vivo se verkoopsyfers.

(Foto: Verskaf)

Slimfoonverkope lig effens kop

Strategy Analytics raam dat 365 miljoen slimfone in die vierde kwartaal van 2021 verskeep is (’n 3%-daling jaar op jaar), en dat 1,36 miljard eenhede in die volle jaar versend is (dit is 5% hoër as die vorige jaar en kom ná ’n 8%-daling in die hitte van die Covid-19-pandemie).

Apple het volgens dié navorsers 80 miljoen fone in die vierde kwartaal verskeep, met Samsung op 69 miljoen (12% meer as in die ooreenstemmende tyd in 2020 danksy sy innoverende voufone) en Xiaomi derde met 45 miljoen slimfone. Xiaomi se markaandeel het met 1% tot 12% vergroot. Oppo het op ’n jaargrondslag die wêreldwye vierde plek ingeneem met ’n markaandeel van 9%.

Wat ander handelsmerke betref, het Honor, Lenovo-Motorola, Realme en Transsion almal dubbelsyfergroei behaal. Honor het in China veld gewen, terwyl Lenovo-Motorola van LG se markaandeel in die Amerikas opgeraap het. Realme het ’n baie sterk vierde kwartaal in Indië, China en elders beleef en Transsion het reg oor die Afrika-streek sy vastrapplek behou.

‘n Samsung-winkel. (Foto: Verskaf)

Huawei bloei in die VSA, maar staan sterk in SA

Huawei, Apple se vernaamste mededinger in die premiummark, byt steeds die spit af van voortgesette sanksies deur die VSA. Amerikaanse beperkings het die Chinese vervaardiger se vermoë in die wiele gery om kritieke komponente vir sy toestelle te bekom. Wêreldwyd staan sy markaandeel op net meer as 7%.

In Suid-Afrika bult Huawei nog sy spiere met ’n markaandeel van meer as 25%, aldus Statscounter se navorsing. Samsung is die plaaslike markleier op 47,63% met Apple wat die derde plek op die podium inneem op 15,83%. Nokia lê ’n knertsie bo 2% en Xiaomi staan op 1,78%.

Linda Sui, senior direkteur by Strategy Analytics, verwag dat wêreldwye slimfoonversendings in 2022 met ’n matige 3% op ’n jaargrondslag sal toeneem.

“Hierdie jaar sal ’n verhaal van twee helftes wees. Komponenttekorte, prysinflasie en Covid-onsekerheid sal gedurende die eerste helfte van 2022 voortduur en steeds ’n invloed op die slimfoonmark hê, voordat sake in die tweede helfte van die jaar asem sal skep danksy die verslapping van Covid-maatreëls, rentekoersverhogings deur die sentrale banke en minder voorsieningsontwrigting by fabrieke.”

Google gaan groot in Indië

Google het gesê hy beplan om $1 miljard in Bharti Airtel, Indië se tweede grootste telekommunikasie-operateur, te belê, wat hom ’n belang van 1,28% in dié maatskappy sal gee.

Google hoop dié stap sal die koste van slimfone in dié enorme en snelgroeiende mark verlaag. Volgens Airtel wil die twee maatskappye met toestelvervaardigers saamwerk om “die struikelblokke om ’n slimfoon te besit” uit die weg te ruim. Die grootste hiervan is prys, terwyl die uitrol van 5G en wolkdienste in Indië ook deel van die beplanning is.

Indië, die wêreld se tweede mees bevolkte land, het 750 miljoen internetgebruikers, met honderde miljoene meer wat nog aanlyn moet kom. Airtel het byna 500 miljoen kliënte in 17 lande reg oor Suid-Asië en Afrika.

Google het reeds $4,5 miljard in Indië belê, terwyl ander tegnologiegroepe soos Facebook (nou Meta), Amazon en Netflix ook die hand al diep in die beursie gesteek het om hul Indiese bedrywighede uit te brei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.