Apple erken: ‘Ons maak jou iPhone stadiger’

Foto: AP Photo/Alan Diaz

Apple het ná jare se bespiegeling dat sy ouer iPhone-fone doelbewus stadiger word erken dit is wel die geval.

Dit kom nadat Reddit-lede uitgevind het dat Apple se sagteware-opgraderings ouer iPhone-fone se werking stadiger maak. Dít sonder dat Apple vir gebruikers ʼn goedkoop manier gee om ou iPhone-fone se batterye te vervang.

Verbruikers word as’t ware dus gedwing om na die jonger modelle op te gradeer. Apple het gesê dat hy verlede jaar vir die iPhone 6, 6s en SE sy sagteware verander het om die agteruitgang van die batterye meer geleidelik te laat plaasvind.

“Ons hoofdoel is om die beste moontlike ondervinding vir ons kliënte te bied. Dit sluit die algehele werking en verlenging van die toestel se lewe in,” het ʼn woordvoerder van Apple gesê.

Die probleem is dat kliënte die indruk kry dat hulle ʼn nuwe iPhone moet koop, wanneer hulle eintlik net ʼn nuwe battery nodig het.

ʼn iPhone waarsku nie dat jou battery besig is om die gees te gee nie – die foon se verwerkingspoed word bloot net beperk. iPhone-fone gebruik litiumbatterye wat ná meer as 500 keer se laai begin taan. Om jou iPhone se battery te vervang kan ʼn reuseverskil maak. Herstelplekke soos iFixit het gesê ʼn nuwe battery kan ʼn iPhone se werking met 100% verbeter.

Maar om ʼn iPhone se battery te vervang is baie duur. Apple doen dit vir $80 in sy winkels, maar jy kan ʼn nuwe iPhone 6-battery vir so min as $20 koop. Dit is wel baie moeilik om self die battery te vervang. Indien jy dit na ʼn ander winkel neem om te vervang óf jy dit self regkry, verval jou Apple-waarborg.

Die vraag is dus hoekom Apple nie sy fone so ontwerp dat verbruikers self die battery kan vervang nie? Dit het tot gevolg dat al hoe meer verbruikers vra vir wetgewing wat hulle die reg gee om self hul elektroniese toestelle te kan herstel. Dié soort wetgewing is al elders in die wêreld voorgestel, maar talle groot tegnologiemaatskappye, insluitend Apple, het kapsie daarteen gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Hierdie feite het nou nie juis tot gevolg dat ek n Apple handelsmerk entoesias sal word nie.

Halfnuus ·

Dit is nou nie regtig die hele storie nie. Apple se foon hou vir baie jare langer as wat enige ander handelsmerk vir my nog ooit gehou het.

Cherokee ·

Apple is niks beter as enige ander (selfs cheapie) nie. Het self enkele jare gelede oorgeskakel na Huawei omdat Samsung belaglik duur word.

Burger ·

Ons moes onlangs vir die werk tablets aanskaf . Die Apple wat dubbel soveel as die Samsung kos , was nie geskik virdie werk nie.

Gelukkig was Appel bereid om terug te vat omdat hulle spesifiek gevra is oor die werksvermoe .

Basson ·

Oneties om produk se werking doelbewus te verswak. Ek hoop daar kom ‘n klas-aksie.

Frans ·

Motorvervaardigers maak doelbewus onderdele met ‘n beperkte lewensduur wat met verloop van tyd vervang moet word. Ek is onbewus van enige klas-aksie wat al hieroor teen dié vervaardigers ingestel is. Apple produkte, alhoewel duur, is van uitstekende gehalte, gebruikersvriendelik vir hul spesifieke toepassings, en iOS (en MacOS) is in my ervaring veel beter as Android of Windows. Apple is nie verniet die grootste globale handelsmerk nie!

Nee wat apple ? ·

Pateties en erg gulsig van hul apple ,dit kom basies neer op bedrieging…Nie n groot aanhanger van appel of apple mac nie hul probeer jou beperk en boelie om elke draai vir peper duur produkte!

Leon Fourie ·

Ek het n iPhone 6S Plus al vir twee jaar en daar is absoluut niks fout met die spoed of battery lewe tot dusver nie.Sou die foon stadiger word sal ek eenvoudig n nuwe battery laat insit net soos enige foon wat oud raak.

Renier Wessels ·

Die skrywer het duidelik nie al sy/haar navorsing gedoen nie.

Die titel is misleidend en die rede wat daarvoor gegee word, is die battery wat verouder en die foon stadig maak. Die rede daarvoor is sodat die battery nie veel erger skade lei of veroorsaak aan die foon self nie. Die battery kan nie meer soveel prosessering hanteer later in sy leeftyd nie en Apple maak die prosesse stadiger sodat die battery nie oppak, oorverhit of die iOS laat afskakel en “reboot” nie. Dit word verduidelik as eenders as ‘n waterpyp wat later in sy leeftyd nie meer soveel water kan hanteer meer nie.

‘n Battery vervanging is bitter eenvoudig en maklik en WeFix het my vir R350 binne ‘n uur gehelp om dit te doen. Mens kry wel ook nie namarkse egte Apple batterye in die mark nie en almal is generies en hou self nie baie lang nie. Dus is die foon binne ‘n paar maande weer stadig. Apple bied wel in die US en UK sekere gebruikers gratis battery vervangings aan as deel van hulle battery replacement program.

Doen asseblief beter navorsing in die toekoms, vermy “click-bait” artikels en verstaan mooi wat julle skryf voordat julle bloot skurkverslagdoening doen soos hierbo. Dis onakkuraat, onnodig en bloot swak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.