Apple gee opnuut die pas aan

Die iPhone 14 is in vyf kleure beskikbaar. (Foto verskaf)

Dit is dalk die begin van herfs in die VSA, maar in die tegnologiereus Apple se boord staan sy vlagskipprodukte in volle blom. Die wêreld se waardevolste maatskappy, wat met ’n markkapitalisasie van sowat R2,5 biljoen (trillion) spog, het aan sy bekende handelsmerke gesnoei en dit hope kunsmis gegee. Die vrug: beter, blitsiger en bestendiger fone, oorfone en selfs ’n horlosie vir fiksheidsgeesdriftiges.

iPhone 14

Die iPhone het die selfoonmark 15 jaar gelede op sy kop gekeer en honderde mense het dae lank uitgekamp en tou gestaan om hul hande op dié “iPod, telefoon en mobiele internetkommunikasietoestel in een” te lê.

Sedert die eerste iPhone in 2007 verkoop is en mense skepties na die Nokia in hul hand en die “herontdekking” van die foon op die skerm agter wyle Apple-meesterbrein Steve Jobs gekyk het, het die iPhone reuse-ontwikkelingspronge gegee. Dit het die groep 72 dae geneem om meer as 1 miljoen van die eerste iPhone-weergawe te verkoop. Sedertdien is meer as 2,2 miljard iPhones wêreldwyd verkoop.

Vier nuwe modelle is die afgelope week tydens Apple se gebruiklike September-produkbekendstelling, gepas getiteld “Far Out”, aanlyn vanuit Kalifornië vertoon: die iPhone 14, iPhone 14 Plus, iPhone 14 Pro en iPhone 14 Pro Max (die iPhone Mini se dae blyk getel te wees).

Die iPhone 14 Pro en Pro Max het nie meer ’n kerf (notch) nie, maar ’n klein pilvormige keep boaan die skerm wat Dynamic Island heet. (Foto verskaf)

Hoewel die ontwerp van die foon nie veel van die iPhone 13 verskil nie, lê die brul onder die enjinkap, waaronder ’n uur langer batteryleeftyd. Hier is nog vyf hoogtepunte van die iPhone 14:

  • Hallo, e-SIM-kaarte: Hoewel Apple nie ’n groot bohaai daaroor gemaak het nie, sal die iPhone 14 sonder die gebruiklike SIM-kaartlaaitjie in die VSA uitgerol word en uitsluitlik op eSIM-tegnologie staatmaak. eSIM’s is virtuele SIM-kaarte wat reeds ’n paar jaar beskikbaar is, maar Apple hoop dat die klok finaal vir fisieke kaarte sal lui met die bekendstelling van die iPhone 14.
  • Satellietverbinding: Hoewel dit vir eers net in die VSA en Kanada beskikbaar is, is dié funksie merkwaardig. iPhone 14-gebruikers sal ’n noodteksboodskap binne 15 sekondes met behulp van satelliet kan stuur, selfs al is daar geen selfoonopvangs of WiFi-toegang nie. Dié SOS-diens via satelliet sal ná ’n iOS 16-sagtewarebywerking in November vanjaar beskikbaar wees.
  • Dynamic Island: Die iPhone 14 Pro en Pro Max het nie meer ’n kerf (notch) nie, maar ’n klein pilvormige keep boaan die skerm wat Dynamic Island heet. Volgens Apple is dit daarop gemik om ’n vreedsame huwelik tussen sagteware en hardeware te verseker. Die Dynamic Island dien as die spilpunt vir jou agtergrondtoepassings: jy kan oproepe beantwoord, na sporttellings loer en kyk hoe lank jy nog vir die Uber-bestuurder moet wag.
  • Ligte, kamera, aksie! Die nuwe reeks fone spog met verskeie bywerkings aan die kameras. Wat beslis uitstaan, is die iPhone 14 Pro se 48 megapixel-kamera (ideaal vir wyehoekfotografie) en die rolprentmodus wat 4K-beeldmateriaal teen 30 raampies per sekonde kan opneem.
  • Spoedvraat: Die A16 Bionic-skyfie in die iPhone 14 Pro en Pro Max is die wêreld se mees gevorderde mobiele verwerker. Dit beskik oor 16 miljard transistors en volgens Apple stoot dit die verwerkingspoed met 40% op terwyl dit 30% minder krag gebruik.

Apple Watch

Apple Watch Series 8. (Foto verskaf)

Apple poog om gereeld die doelpale te verskuif wat sy slimhorlosies betref, aangesien hy stewige mededinging van Fitbit en Garmin kry. Apple hou sowat 36% van die slimhorlosiemark, terwyl Samsung volgens Counterpoint Research in die tweede plek is op net meer as 10%.

Die nuwe Apple Watch Series 8 spog met ’n kragbesparingsverstelling wat die batteryleeftyd van 18 tot 36 uur opstoot, ’n nuwe temperatuursensor en ’n waarskuwingstelsel as jy sou val of in ’n motorbotsing is. Gebruikers wat hul horlosies ook as foon inspan, sal teen einde vanjaar voorts naatloos van een diensverskaffer na ’n ander kan swerf as hulle internasionaal reis.

Dit is egter die nuwe Apple Watch Ultra wat behoorlik sy spiere bult. Dit is enige fiksheidsgeesdriftige en selfs diepseeduiker se droom in terme van werkverrigting en funksionaliteit. Dit is gebou om te hou en reuse-temperatuuruiterstes die hoof te bied. Dit weeg ’n rapsie meer as 60 g en spog met ’n 49 mm- Always-on Retina LTPO OLED-saffierkristalskerm wat in van skerp sonlig tot swak lig sy man kan staan.

Benewens die lugvaartgegradeerde titaniumomhulsel en ’n bielie van ’n battery (wat jou volgens Apple deur ’n hele ultramarathon van draf, fietsry en swem sal hou), is dit waterbestand tot op 100 m (’n EN13319-dieptegradering). Dié robuuste horlosie se luidspreker is 40% harder (86 dB) en die mikrofoon demp geraas soos die wind deur jou hare suis.

Apple Watch Ultra. (Foto verskaf)

Die kant van die horlosie is herontwerp (die sogenaamde digital crown) om dit makliker te maak om te gebruik as jy handskoene dra. Die nuwe aksieknoppie (in oranje vir sigbaarheid) kan geprogrammeer word om verskillende funksies te verrig. Die horlosie bied ook meer akkurate “dubbelfrekwensie”-GPS-opsporing.

Apple het drie splinternuwe bandjies vir die Ultra ontwikkel: die naatlose Alpine Loop Band, die rubber- Ocean Band, en die ultraligte, rekbare Trail Loop-bandjie.

Die Ultra se prys is ewe robuust en sal jou na verwagting dubbel die prys van die Series 8 (oftewel dieselfde prys as die grootste iPhone 14) uit die sak jaag.

Tweedegenerasie-AirPods

Musiekliefhebbers is veral opgewonde oor Apple se langverwagte tweedegenerasie- AirPods Pro met sy kenmerkende kristalhelder klankgehalte en klankdempingsvermoë.

Tweedegenerasie AirPods. (Foto verskaf)

Die nuwe AirPods se H2-skyfie beloof twee keer meer klankdemping, ’n beter deursigtigheidsmodus (active transparency) en ’n verpersoonlikte ruimtelike belewenis (personalised spatial audio). Die oorfone het ’n ekstra proppie vir beter oorpassing en jy kan die volume nou ook op die oorfoonstammetjie verstel.

Die battery behoort jou sowat ses uur te hou en jy kan die splinternuwe kassie, benewens met ’n Lightning-kabel of MagSafe-laaier, ook met ’n Apple Watch-laaier laai. Die nuwe AirPods Pro-kassie bied Find My-ondersteuning en het ’n ingeboude luidspreker sodat jy dit sonder sukkel kan opspoor. Die kassie is voorts sweet- en waterbestand, en daar is ’n lussie waaraan jy ’n nekkoord (lanyard) kan vasmaak.

Apple het sedert 2016 na raming reeds meer as 150 miljoen van dié katoeters verkoop en in 2021 het Apple nagenoeg $12,1 miljard (meer as R200 miljard) net uit AirPods-verkope verdien. Dit is meer as die algehele inkomste van tegnologiemaatskappye soos Twitter, Spotify en Snapchat, berig Headphones Addict.

  • Kyk gerus hier na die volledige bekendstellingsgeleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.