Apple kóók in Cook-dekade

Tim Cook die uitvoerende hoof van Apple. (Foto: Austin Community College/ En.wikipedia.org)

’n Dekade gelede het beleggers en tegnologiebegeesterdes asem opgehou toe Tim Cook se naambordjie op 24 Augustus 2011 teen die grootbaas se deur by Apple opgehang is. Sou hy die legendariese Steve Jobs, wat net twee maande tevore oorlede is, se skoene kon volstaan?

Niemand het verwag dat Timothy Donald Cook, wat vroeër onder meer by IBM en Compaq gewerk en hom op 11 Maart 1998 by Apple aangesluit het, die leisels van die tegnologiereus sou oorneem nie. Maar Jobs het dit duidelik in sy bedankingsbrief gemaak dat dit tyd is dat Cook uit sy skadu stap: “Ek beveel sterk aan dat ons ons opvolgingsplan uitvoer en Tim Cook as uitvoerende hoof aanstel.”

Die aandelehouers het hul sterte gewip en bykans $10 miljoen van die maatskappy se waarde is oornag uitgewis. Vandag, tien jaar later, kan dié vinnige verkopers hulself sekerlik skop met die groep se aandeelprys wat die afgelope tien jaar van $13,46 tot $149,78 gestyg het.

Nog geen uitvoerende hoof in die geskiedenis kon tot nog toe soveel waarde vir aandeelhouers ontsluit nie.

Cook, wat met ’n MBA-graad spog, het boonop iets gedoen wat Jobs nooit sou doen nie: hy het ’n dividend begin betaal. As jy dié dividende herbelê het, sou $1 000 wat tien jaar gelede belê is, vandag meer as $16 000 werd gewees het.

Onder Cook se vlerk het Apple die eerste Amerikaanse maatskappy geword wat ’n markwaarde van $2 biljoen (trillion) kon bereik – groei van meer as 600% tot $2,5 biljoen vandag. Microsoft is op sy beurt net minder as $2 biljoen werd; Amazon se markkapitalisasie is $1,7 biljoen; en Alphabet, houermaatskappy van Google, is ongeveer $1,5 biljoen werd.

Apple se inkomste het met meer as 150% opgeskiet van $108,2 miljard in 2011 tot $274,52 miljard verlede jaar en die konsensus onder ontleders is dat ’n blink verkoopsyfer van tot $366,12 miljard vir 2021 wink.

Waar Jobs deur en deur daarop ingestel was om uitnemende produkte soos die iMac, iPod, iPhone en iPad op die mark te plaas, het Cook buite die (kenmerkende wit) boks bestuur en belê. Dié fokusverskuiwing van produk na diens het Apple getransformeer van (net ’n) toonaangewende toestelvervaardiger tot ’n vrugteboord wat van betaaldienste soos Apple Music en Apple TV tot ’n Oscar-genomineerde televisie-en-rolprentproduksiehuis insluit.

Cook het Apple nie verander deur die kosteskêr in te lê nie, hy’t dit gedoen deur baie geld op doelgerigte en dapper maniere uit te gee. Meer as 100 ondernemings is by dié mandjie gevoeg, waaronder Beats wat in 2014 vir $3 miljard verkry is, asook Intel se slimfoonmodemonderneming in 2019 vir ’n koopprys van $1 miljard.

Sedert hy ’n maand ná sy aanstelling die verhoog met die nuwe iPhone 4S betree het, het die getal aktiewe iPhone-gebruikers met meer as 640% toegeneem van ’n geskatte 135 miljoen tot ongeveer 1 miljard. Apple se heeltydse werknemerskorps het voorts vergroot van 60 400 tot 147 000.

Voeg hierby suksesvolle produkbekendstellings soos die Apple Watch in 2015 (waarvan sowat 33,9 miljoen in 2020 verskeep is) en AirPods in 2016 (die helfte van alle koordlose oorfone wat in 2020 verkoop is, was Apple-produkte), die belyning en besparing deur produkte wat net twee dae op pakhuisvloere staan, wolkstoring wat danksy iCloud die hoogte ingeskiet het, en ’n mens kan nie help om te wonder wat skuil tussen sy sowat 53 nuwe patente nie.

Die 61-jarige Cook het onlangs gesê hy beplan nie noodwendig om nog tien jaar by Apple te wees nie, maar opwindende dinge lê voor. Dit sluit in ’n Apple-motor (wat volgens Tesla-baas Elon Musk ’n “ope geheim” is), ’n versterkterealiteit-bril (augmented reality) wat binne ’n jaar of twee sy verskyning kan maak, sy eie mikroskyfie en die mikpunt om teen 2030 koolstofneutraal sake te doen.

Apple het boonop sy filantropiese voetspoor in Januarie vanjaar verder vergroot deur onder meer ’n skenking van $100 miljoen vir inisiatiewe om rassegeregtigheid in die hand te werk.

Cook se aanvaardingstoespraak in 2010 lees vandag byna soos ’n profetiese vooruitskouing: “Ek het geleer om verder te dink as my ingenieursopleiding. Ingenieurs word geleer om besluite analities en grootliks sonder emosie te neem, maar daar is tye in jou lewe dat jy jou intuïsie moet vertrou.”

Dat dié stil sakeman uit die suide van die VSA se pensgevoel nie net reg was nie, maar volop vrug dra, is onbetwisbaar. Ja, Cook se dekade aan die skip se stuur was sekerlik nie springgetyloos nie en ’n suksespad vorentoe is allermins gewaarborg.

Maar soos een ontleder opgemerk het: “Apple is vir seker ’n stem van vooruitgang en verantwoordelikheid in die sakewêreld.” Vir sy reusetreë verdien Cooks meer as net ’n Bells, want sy nalatenskap mag dalk net groter as dié van Steve Jobs wees.

Bykomende bronne: Apple Insider; CNN; The Economist; Nasdaq en Statista.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.