Apple verras, vernuwe, verbeter

Apple se nuwe iPad. (Foto: Verskaf)

Wanneer enige tegnologie-nuutjie die mark tref, spits my drie tieners (vir ’n slag) hul ore. Bankbalanse en beursies word benoud bestudeer om te sien of hul spaarpogings dalk dié jaar vrug sal dra.

Toe Apple Dinsdagaand Suid-Afrikaanse tyd sy jongste verbeterde produkte bekendstel, was die skoolwerk in rekordtyd afgehandel en ons soos Eugène Marais-bobbejane gemesmeraais saam met meer as 2,5 miljoen ander geesdriftiges wat op Apple se regstreekse aanlyn aanbieding, California Streaming, ingeskakel het.

Pleks van ellelange tegniese detail aframmel, het die tegnologiereus se ringkoppe, onder stuurmanskap van raakvatter-grootbaas Tim Cook, ’n rolprentreis van 90 minute geskep wat dit opnuut duidelik gemaak het dat Apple veel meer as nét ’n produkmandjie is.

Apple TV+ se rolprente en reekse het immers sedert die stroomdiens in November 2019 bekendgestel is reeds 389 nominasies ontvang en 112 toekennings opgeraap.

Wat kan gebruikers verwag wanneer Apple se produkte later vanjaar op Suid-Afrikaanse rakke sal pryk?

 iPad & iPad Mini

Apple het verras deur die nuwe iPad en die iPad Mini baie vroeër as verwag bekend te stel. Dit volg nadat verkope van die iPad die afgelope jaar met 40% toegeneem het.

Die sakpas-miniweergawe is beslis die ster van die oomblik en spog onder meer met ’n magnetiese pen (tweede generasie), landskap-stereoluidsprekers, dieselfde kragtige A15-mikroskyfie as die nuwe iPhone 13 (wat ’n 40% vinniger verwerkingspoed verseker), ’n 12 MP- ultrawye kamera, USB-C-funksionaliteit en ’n 8.3 duim-Retina-skerm. Die identifikasie-raakknoppie is na die bokant van die raamwerk verskuif om skermgrootte te optimaliseer. 5G-versoenbaarheid asook Wi-Fi 6 is vir die eerste keer deel van dié kragtige klein masjien.

Die iPad word op sy beurt aangevuur deur ’n A13-mikroskyfie en beloof ’n verwerkingspoed wat 20% vinniger is as sy ouboet en drie keer vinniger as die Chromebook. Met ’n 10.2 duim-Retina-skerm en 12 MP-kamera vertoon die negendegenerasie-iPad ook veel skerper en pas by jou omgewing en beligting aan. Bergingspasie wissel van 64 Gb tot 256 Gb (gigabyte oftewel gigagreep in Afrikaans) en batterylewe beloof om tot 10 uur lange snuffeltyd te kan hanteer.

Apple Watch 7

Apple Watch 7 (Foto: Verskaf)

Fiksheidsfanatici en mense wat (soos Apple se grootbaas) ’n gesonde leefstyl handhaaf, sal vir seker van die verbeterde slimhorlosie hou. Die skerm strek nou van hoek tot kant op die gesiggie wat 20% groter, slegs 1,7 mm dun en 70% helderder is. Sowat 50% meer karakters kan op die skerm pas en ’n sleutelbord maak boodskappe stuur heelwat makliker.

Hoewel verskeie moderne en modieuse skermopsies en bandjies deel van die nuwe model vorm, is dit allermins ’n pieperige bykomstigheid. Die skerm is kraakbestand, stofbestand én jy kan na hartelus die tyd dophou terwyl jy branderplank ry. Boonop weet die horlosie wanneer die fietswiele begin rol (of stop) én wanneer jy in die stof neerploeg (jy kan met die druk van ’n knoppie hulp ontbied).

Die horlosie se battery hou glo 18 uur en elke 8 minute se laaityd (33% vinniger as die vorige generasie) sal jou 8 uur lange skermtyd in die sak bring, sê Apple.

Fitness +, wat hand aan hand met die Apple Watch draf, spog met alles van pilates-klasse tot begeleide meditasie en selfs groepklasse waar jy en jou vriende (met SharePlay) saam kan sweet. Dink Zoom, maar op jou oefenfiets. Fitness + word binnekort uitgebrei om in 21 lande en ses tale beskikbaar te wees.

iPhone 13

iPhone13 Pro (Foto: Verskaf)

Ofskoon nie almal hulle dalk na hul plaaslike iStore gaan haas om hul iPhone 12 vir die nuwe bielie in te ruil nie, spog die iPhone 13 met indrukwekkende verbeterings. Soos Maroela Media voorspel het, is vier weergawes van dié foon bekendgestel, die iPhone 13, iPhone 13 Mini, iPhone 13 Pro en iPhone 13 Pro Max.

Hoewel die verwagte kleiner kerf (notch), wat die kamera voorop huisves vir onder meer gesigidentifikasie, en verbeterde (diagonale) kameras agterop geen verrassing was nie, is die verbeterde batterylewe en blitsige verwerkingspoed allerweë verwelkom.

Die A15-mikroskyfie, die vinnigste van sy soort in enige slimfoon, verhoog die verwerkingspoed drasties. Dit maak gebruik van 5-nanometer-tegnologie en bevat 15 miljard transistors. Die iPhone 13 se battery hou 2,5 uur langer en die iPhone 13 Mini s’n 1,5 uur as die iPhone 12.

Die iPhone 13 Pro is die kroonjuweel en sy 50% vinniger grafikaverwerking sal speletjiesgeesdriftiges opgewonde maak. Die helder Super Retina XDR-skerm het ’n vinniger verfrissingsnelheid, batterylewe van ’n dag lank en die opsie vir 1 Tb-stoorplek. Dit is dubbel die maksimum bergingspasie wat tot nog toe in enige model gebied is.

Die diagonale kamerastelsel het ook ’n welkome bywerking gekry. Dit spog met ’n nuwe 77 mm-telefotolens met 3 keer optiese zoom, asook nuwe wyehoek- en ultrabreë kameras.

Aspirantrolprentmakers sal veral munt slaan uit die Cinematic Mode-opsie wat die iPhone in ’n videoliga van sy eie plaas.

Spioenasie-skuiwergat toegestop

Intussen het Apple Maandag ’n noodbywerking van sy iPhone-sagteware ingestel om kritieke kwesbaarheid vir kuberspioenasie te keer wat volgens onafhanklike navorsers gebruik is om joernaliste en menseregte-aktiviste in verskeie lande dop te hou.

Navorsers van die Universiteit van Toronto se Citizen Lab, wat die swakplek raakgesien het, het gesê die bywerking deur Apple het die skuiwergat in iMessage-sagteware, waarmee kuberkrakers ’n gebruiker se foon ongesiens kan binnesluip sonder dat die gebruiker op enige skakels klik, toegestop.

 Nog baie appeltjies te skil

iPhone (Foto: Verskaf)

Ondanks die opwinding oor Apple se produkuitbreidings en -verbeterings, gaan hy meer as ’n slimhorlosie nodig hê om die regulatoriese berge wat hom omring, kaf te draf. Regter Yvonne Gonzalez Rogers het verlede week in Kalifornië gelas dat Apple nie app-ontwikkelaars kan verbied om gebruikers na (hul eie) betalingsopsies buite die App Store te herlei nie.

Dit volg ná die videospeletjiereus Epic Games, skepper van onder meer die gewilde Fortnite, die tegnologiereus voor die hof gedaag het oor “buitensporige kommissie” van tot 30% wat app-ontwikkelaars via die App Store aan Apple moet betaal. Apple het wel ’n gedeeltelike oorwinning gesmaak toe Gonzalez Rogers die groep nié tot ’n monopolie verklaar het nie. Tog is dié hofsaak lank nie verby nie met appèlskrifte wat reeds deur Apple én Epic ingedien is.

Suid-Korea was die eerste land wat ’n grens getrek het oor Apple se betalingsbeperkings en het vroeg in September ’n wet aanvaar wat vereis dat Apple en Google alternatiewe betaalstelsels aan hul gebruikers hier moet bied.

Apple is voorts onder die vergrootglas van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers en Senaat, asook reguleerders in die Verenigde Koninkryk en Europa.

Apple se pogings om die uitbuiting van kinders te bekamp deur foto’s van kindermishandeling op te spoor, is boonop in omstredenheid gehul. Die uitwerking wat dit op privaatheid kan hê, het Apple se planne vir eers gest(r)onk.

  • Plaaslike pryse was teen publikasie nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SlinkseKoljander ·

Ek vat maar my Samsung S21 Ultra enige dag oor `n nuwe iPhone 13

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.