Apple vryf MacBook blink

ie nuwe MacBook Pro is in 14- en 16-duim beskikbaar en spog met ’n batterylewe van tussen 17 en 21 uur. (Foto: Verskaf)

Net meer as ’n maand nadat Apple sy splinternuwe iPhone13, Apple Watch 7 en iPad Mini bekend gestel het, het die tegnologiereus die langverwagte verbeterings aan en verjongingskuur van sy MacBook-reeks en AirPods aangekondig.

Apple-geesdriftiges wag reeds vyf jaar vir die jongste MacBook en het lank gegis oor watter woema in dié masjien sou skuil. Apple het Maandag uiteindelik die sluier gelig tydens ’n aanlyn bekendstelling genaamd “Unleashed”.

En die wag was beslis die moeite werd. Die nuwe MacBook Pro is in 14- en 16-duim beskikbaar en spog met ’n batterylewe van tussen 17 en 21 uur. Boonop laai albei modelle binne 30 minute tot 50% kapasiteit. Die magnetiese laaivermoë (MagSafe) is ook teruggebring.

Die skermoppervlak word tot die maksimum in die ronde hoekies gedruk. Die 16-duim se aktiewe skermspasie is tot 16,2 duim vergroot en bied ’n superskerp 7,7 miljoen pieksels, terwyl die kleiner weergawe se skermspasie tot 14,2 duim vergroot is en met 5,9 miljoen pieksels spog.

Die nuwe ontwerp is dunner én ligter, en waaiers verseker dat 50% meer lug deur die kragtige masjien beweeg. Twee nuwe skyfies sal die verwerkingspoed na ’n splinternuwe vlak neem en tesame met Liquid Retina XDR-vertoning en uitstekende luidsprekers videoproduksie en -stroming seepglad laat verloop.

Die M1 Pro-skyfie het 32 GB-spasie (“unified memory”) en beloof 72% beter verrigting as die vorige generasie MacBooks. Die tweede skyfie, die M1 Max, bied 64 GB-spasie – die grootste wat tot nog toe deur Apple gebou is.

Een kenmerk waaroor daar gemengde gevoelens is, is die verwydering van die interaktiewe raakbalk (“Touch Bar”) aan die bokant van die sleutelbord. Die raakbalk is in 2016 bekend gestel en het onder meer teksvoorspelling en kortpaaie gebied. Nie al die gebruikers was ewe gaande hieroor nie en dit het Apple laat besluit om eerder na die konvensionele, fisieke sleutels bo-aan die sleutelbord terug te keer. Daar is wel ’n vingerafdruksensor in die kragknoppie.

Soos musiek in die ore

Die AirPods 3 bied, soos al Apple se ander nuwe produkte, ’n langer batterylewe van tot ses uur. (Foto: Verskaf)

Hoewel verwag is dat hy reeds in September met ’n nuwe generasie oorfone sou spog, het Apple besluit om nou eers die derde generasie- AirPods, wat met van die bobaasfunksies van sy ouer boetie, die AirPods Pro spog, uit te rol.

Die AirPods 3 het ruimtelike klank (“spatial audio”), beter klankgehalte (die basklank is propvol skop en die hoë frekwensies vlymskerp) en fiksheidfanatici sal verheug wees oor sy sweet- en waterbestandheid.

Benewens ’n nuwe ontwerp (sonder die rubberproppies wat in die oor pas) en aanpasbare EQ (klankbalans), pas die klank intyds aan deur die frekwensies aan te pas op grond van dit wat jy hoor.

Die AirPods 3 bied, soos al Apple se ander nuwe produkte, ’n langer batterylewe van tot ses uur. Sowat vyf minute se laaityd sal ’n uur se luistertyd verseker en koordlose laai in die kassie danksy MagSafe is voorts bygevoeg, sê die groep.

Ook op die musiekfront spog Apple se klein luidsprekerstelsel, genaamd HomePod Mini, met nuwe kleure. Dié klein maar kragtige appelvormige 360 o-luidsprekers is benewens wit en donkergrys nou ook in rooi, geel en donkerblou beskikbaar.

Die Suid-Afrikaanse pryse was teen publikasie nog nie beskikbaar nie, maar die MacBook Pro se intreevlakprys in die VSA is sowat $2 000, terwyl die AirPods 3 vir sowat $179 beskikbaar is. Die HomePod Mini sal teen sowat $99 verkoop word.

Kyk gerus hier wat jy alles van die nuwe MacBook Pro te wagte kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.