Bekende sprekers gesels nou in jou sitkamer

Van die land se voorste sprekers en bekendes soos Je-Ani Swiegelaar, Hykie Berg en Leandie du Randt, is van vandag (Vrydag) te sien in Die sitkamersessies, ʼn aanlyn sprekersinisiatief wat deur Speakers Profile aangebied word.

Speakers Profile, met sangeres Irene-Louise van Wyk aan die stuur, verteenwoordig sprekers soos Melinda Bam, Johrné van Huyssteen, Donnalee Roberts, Ivan Botha, Kim Cloete en Cindy Swanepoel.

“Ons het probeer kreatief wees om ʼn inkomste te genereer tydens die staat van inperking, want soos almal weet het kunstenaars geen inkomste op die oomblik nie,” verduidelik Van Wyk die idee agter Die sitkamersessies.

“Ons wêreld het nou positiwiteit nodig en ek dink ons almal voel bang en onseker. Daarom het ek gedink om ʼn paar sprekers te kry wat mense kan bemoedig en ʼn positiewe boodskap kan uitdra,” sê sy.

Daar is ook twee musiekuitvoerings wat deel vorm van Die sitkamersessies. Van Wyk sal te sien wees waar sy al die snitte in haar jongste album, Ek voel soos oee, sing en die sanger en liedjieskrywer Dozi sal kykers vermaak met sy gewilde treffers.

Speakers Profile verteenwoordig sprekers soos Melinda Bam, Johrné van Huyssteen, Donnalee Roberts, Ivan Botha, Kim Cloete en Cindy Swanepoel.

Die aktrise Je-Ani Swiegelaar sal oor gewigskwessies gesels en Hykie Berg sal mense bemoedig met ʼn boodskap van hoop in dié onsekere tye. Die aktrise en spreker Leandie du Randt is ook te sien in haar jongste praatjie, “Dis oukei om jouself te skei (van alles)”.

Van Wyk vertel mense van reg oor die wêreld het reeds kaartjies gekoop om van Die sitkamersessies by te woon. “Mense so ver as Perth en Nederland gaan na die praatjies kyk. Dit is wonderlik dat ons soveel mense kan bereik.”

Sy voeg by dat tydsones nie ooreen hoef te stem om die praatjies te kan kyk nie. “Die skakels na die praatjies is vir 24 uur geldig ná afloop van die praatjie en as jy ʼn kaartjie het, kan jy weer na die praatjie kyk. Die kaartjies kos R50 elk en die hele gesin kan saam kyk.”

Besoek Speakers Profile se webwerf vir meer inligting of om kaartjies te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.