Blitstrein maak buiging in China   

China het onlangs ‘n nuwe sneltrein met ‘n topspoed van 600km/h bekendgestel. (Foto: iStock)

Dink net hoe lekker sou dit wees om per trein, koffie en koerant in die hand, in minder as ’n uur van Johannesburg tot Durban te blits. Wel, China, die wêreldvoorloper op die gebied van sneltreine, skuif gereeld die spoeddoelpale met die bekendstelling van ál vinniger treine.

Die jongste is ’n splinternuwe sneltrein wat in Qingdao bekendgestel is. Dié trein, wat deur die staatsbeheerde China Railway Rolling Stock Corporation ontwikkel is, blits teen ’n allemintige 600 km/h. Alles danksy maglev-tegnologie, oftewel magnetiese levitasie. Dié tegnologie laat dit lyk asof die trein bokant die spore sweef danksy elektromagnetiese krag.

Die trein, waarvan die binnekant ’n mens aan ’n luukse Boeing laat dink, het ’n lae onderhoudskoste en veroorsaak glo baie minder geraasbesoedeling as sy spoedeweknieë.

Teen 600 km/h sal die maglev-trein jou binne twee en ’n half uur van Beijing na Sjanghai neem – ’n rit van meer as 1 000 km. In vergelyking duur dié reis drie uur per vliegtuig en vyf en ’n half uur per (gewone) sneltrein, berig Reuters.

Hoëspoedtreine in China handhaaf tans ’n gemiddeld van 350 km/h. Dit is meer as dubbel die spoed van die Gautrain, wat teen ’n topsnelheid van 160 km/h sleg tweede in dié skilpad-en-hasie-wedloop sou eindig.

Die uitbreiding van China se treinnetwerk is hoog op die agenda in ’n poging om reiskoste en reistyd in dié land met sy enorme bevolking van 1 443 981 565 te verminder.

Volgens die staatsbeheerde uitsaaier CCTV het China teen einde 2020 reeds meer as 140 000 km se spoorweë gebou, met 38 000 km wat vir hoëspoedtreine bestem is. Japan en Duitsland is nog twee lande wat planne het om treine soos dié vlerke te gee.

Al wat die uitrol van meer treine soos dié Chinese spoedvraat in sy spore stuit, is die gebrek aan spore wat die maglev-tegnologie kan hanteer. China het tans slegs een maglev-lyn in gebruik, wat die Pudong-lughawe van Sjanghai met die Longyang Road-stasie in die stad verbind.

Danksy ’n spoed van meer as 430 km/h duur dié reis van ongeveer 30 km slegs ’n rapsie meer as sewe minute. Dié lyn het sowat $1,7 miljard (sowat R25 miljard) gekos om te bou.

Met Suid-Afrikaanse treininfrastruktuur en stasies wat rot en kaal geplunder word, baie onveilig is én bedenklike transaksies soos die R3,5 miljard-kontrak vir 70 Afro 4000-diesellokomotiewe wat te hoog vir ons spoorweë is, is sneltreine soos dié ons ongelukkig nog lank nie beskore nie.

Bykomende bronne: Edition.cnn.com en www.scmp.com

Kyk hier na ’n video van die trein:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Lanfear

Fantastiese tegnologie!