Die alternatiewe kultuur waarin strokiesprent-helde nog seëvier

Figuurtjies word deur jonk en oud versamel. (Foto: Nicholas Retief.)

Deur Linette Retief

Lank gelede, toe een sent nog twee Wilsons-toffies kon koop, kon mens met 10c behóórlik uithaal en wys.  Speelgoed was nog so 30 of 40c ver, maar ’n wonderwêreld van strokiesprentboeke vol superhelde, ougat eende, vriendelike spoke en vele meer, het gewag by die naaste hoekkafee of boekwinkel – natuurlik net so neffens een van die éintlike groot sondes van die era (aldus die meeste ouers): Fotoboekies soos Ruiter in Swart, Suster Teresa en Mark Condor.

Van die middel van die jare sewentig het ’n nimmereindigende tsunami van tegnologiese verbetering en visuele vermaaklikheidsopsies – van Suid-Afrika se eerste nederige TV-pogings tot die glans van die silwerskerm, van DVD tot DStv, van Betamax tot Showmax – die outydse comics mettertyd in vergetelheid laat verval.

Of só het ek gedink.

Niks kan verder van die waarheid af wees nie. Nie by die hoekkafees van gister of die CNAs van vandag nie.  Nie in Tarkastad of Texas en Londen of Lynnwood nie. Nie in New York nie. En beslis nie Northcliff, Johannesburg waar Cosmic Comics koning kraai met eienaar Shane Brocklehurst aan die stuur nie.

Dié strokiesprentparadys is ’n multiverdieping alternatiewe heelal wat ’n dekade of twee gelede begin het as ’n nederige tafel by ’n vlooimark aan die Wes-Rand waar Shane CNA se oorskiet-strokiesprentboekies verkwansel het. Vandag is dit deel van ’n groeiende internasionale fenomeen – en die onteenseglike bewys dat strokiesprente nie nou bloot herleef nie, maar dat dit nooit weg was nie.

Cosmic Comic se deure staan nie net vir die jong(er) garde oop nie. In die beginjare was die gemiddelde strokiesprentleser weliswaar tussen sewe en 16 jaar oud. Deesdae wissel dit van 16 tot 30, plus nog ’n ouer mark wat maar te gereed is om ’n paar duisend dollar te betaal vir ’n lewensgrootte replika van die Batmobile of ʼn soortgelyke versamelaarsitem.

Met die uitsondering van Batman se wiele, het Cosmic Comics skynbaar alles onder die strokiesboek-son in voorraad. Besoekers, beleggers, loerders, lesers en kopers kan hulle verlustig in strokiesboeke, grafiese romans, aksiefigure, en bekers, deurmatte, T-hemde en sleutelringe met hul gunsteling strokiesprent-handelsmerk op.

Aksiefigure, van piepklein tot lewensgroot, vertel Shane, is die nuwe groot ding. By verre die gewildste handelsmerk in dié genre is Funko Pops, ougat figuurtjies van 10 tot 12 cm lank met pryse wat wissel van sowat R250 tot om en by R350. Daar is ’n verskeidenheid wat die hele spektrum van nostalgies tot volksvreemd dek. Hier wag The Incredible Hulk, daar elke karakter uit The Living Dead, doer anderkant die hele boksombende uit Toy Story. En die figuurtjies wat soos soetkoek uitverkoop, is die besending karakters uit die ikoniese 1980’s-reekse soos The Golden Girls en Murder, she Wrote!

Cosmic Comics aan die Wes-Rand. Foto: Nicholas Retief

Beleggingsbonanza

’n Mens kan weliswaar ’n piepklein aksiefiguurtjie vir R60 koop, of per spesiale geleentheid ’n strokiesprentboek vir R25 losslaan, maar strokiesprente en die vele vertakkings daarvan het dikwels verbysterende beleggingswaarde. ’n Klein Elvis-figuurtjie wat ek so sewe jaar gelede vir net duskant R300 vir my sussie Debora gekoop het, beduie Shane, is deesdae so om en by $300 (ongeveer R5 229) werd.

Van die grootste geld lê in suksesvolle flieks.

“Wanneer ’n treffer soos Despicable Me of Captain America uitkom, stormloop honderde speelgoedmaatskappye na die twee groot strokiesreuse, DC en Marvel, om vervaardigingslisensies vir handelsware soos T-hemde en aksiefigure te bekom,” vertel Shane. “Kry jy dit, is dit vir alle praktiese doeleindes ’n lisensie om geld te druk.”

DC Comics Inc. en Marvel Comics is nie net visioenêre reuse in hul bedryf nie. Hulle is grootbroers met oë wat wyd en fyn dophou. Shane vertel van ’n kennis wat gereeld as ’n Spiderman by kinderpartytjies opgetree het – totdat hy ’n waarskuwingsbrief van Marvel gekry het omdat hy hom sonder lisensie as die superheld voordoen.

Strokiesboeke, grafiese romans en aksiefigure is ooglopende keuses vir versamelaars. Daar is egter ook minder ooglopende en meer genuanseerde alternatiewe. Sedert die 1990’s is daar versamelaars wat wil uitvind wanneer ’n spesifieke karakter, byvoorbeeld die Green Goblin (’n superbooswig uit die Spiderman-reeks), die eerste keer sy verskyning gemaak het. En in die VSA, is daar foendies wat spesifieke skrywers se werk versamel. Want om ’n strokiesprentboek of grafiese roman te skryf, is ’n kuns. Dit behels ruim hoeveelhede inspirasie en perspirasie van spanne skrywers wat tot twee jaar lank werk aan nuwe storielyne wat skynbaar soomloos spruit uit die oorspronklike narratiewe van toeka se dae en lesers betower.

En die storielyne wat reeds bestaan, verseker Shane my, verdwyn nie. Elkeen bly deel van die oorspronklike mitologie.

“Cosplay” word al as ‘n soort uitvoerende kunsvorm erken. (Foto: Comic Con Africa 2019/Reed Exhibitions)

Gesonde gesinspret – en uithaler-uitvoerende kuns

Terwyl die aantrekkingskrag van strokiesprente dikwels as anderwêrelds of alternatief beskou word, is die versameling van aksiefigure skynbaar ’n gewilde gesinsaktiwiteit.

“Jy kry pa’s en seuns wat sokkerfiguurtjies bymekaarmaak terwyl die kleinsussie My Little Ponies versamel en die ma, byvoorbeeld, Walt Disney-prinsesse en -dierekarakters,” vertel Shane.

Verder word strokiesprentboeke en grafiese romans en alles wat daarmee gepaard gaan, nie net gelees nie, maar gelééf. ’n Hoogtepunt op Cosmic Comics se jaarlikse sosiale kalender is hul Free Comic Book Day in Mei. Van die vele trekpleisters sluit in, gratis strokiesboeke en groot pryse vir die beste kostuumspelers (cosplayers). En moenie dink ’n kostuumspeler is jou buurman in ’n Batman-pak nie. Wikipedia beskryf “cosplay” as ’n samestelling van die woorde “kostuum” en “speel” – én ’n uitvoerende kunsvorm waartydens die spelers kostuums en bykomstighede dra om ’n spesifieke karakter te verteenwoordig.

Dan is daar elke Woensdag se Worldwide Comic Book Day en die weeklikse ComicTon op YouTube wat aankondig presies wat strokiesboeke werd is.

“Dis soos ’n effektebeurs vir strokiesprente,” verduidelik Shane.

Die eienaar van Cosmic Comics hoef egter nie ComicTon te kyk om die waarde van sy produkte te besef nie. Al wat hy hoef dop te hou, is die klante wat instroom en die verskeidenheid handelsware wat uitstroom om homself te herinner dat die lenigste superheld oornag in ’n vet wins omskep kan word.

Strokiesprent-geleenthede om dop te hou

  • Comic Con Africa is ons vasteland se eweknie: ’n vier dae lange fees van strokiesboeke, populêre kuns en kultuur asook vermaak met elemente uit ’n verskeidenheid genres, onder meer animasie, speelgoed, klerasie en ander speletjies. Dit word vanjaar van 24 tot 27 September aangebied.
  • San Diego Comic-Con International is ’n multigenre vermaaklikheids- en strokiesboekbyeenkoms wat sedert 1970 jaarliks in San Diego, Kalifornië in die VSA gehou word met die doel om die algemene publiek se bewustheid van en waardering vir strokiesprentboeke en verwante kunsvorms te bevorder. Die 2020-geleentheid is weens Covid-19 gekanselleer, maar word weer van 22 tot 25 Julie in 2021 aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.