Duur prentjies: Waarom miljoene op NVI-kuns bestee?

ʼn Collage van die “Bored Ape Yacht Club”. (Foto: Sothebys.com)

Honderde kunstenaars, sommige so jonk soos 12, werskaf daagliks daaraan om kunswerke te skep wat as nieverwisselbare items (NVI, ook bekend as NFT’s) in aanlyn uitstallings verkoop kan word.

Dié mark floreer. Die gewildste stukke kan vir etlike miljoene dollar verkoop word, maar ʼn buitestander wonder dalk hoekom iemand enigsins iets hiervoor sal betaal.

Geen fisieke kunswerk word bekom in hierdie soort transaksies nie. Kopers gebruik kripto-geldeenhede en ontvang hulle NVI – ʼn unieke stuk rekenaarkode wat verband hou met die kunswerk – wat op ʼn blokketting gestoor word.

Die NVI-mark het in 2021 ontplof en word deur hoëprofielveilings gedryf. Chainalysis, ʼn ontledingsfirma, sê verkope van meer as $40 miljard (sowat R614 miljard) het al in dié mark plaasgevind.

En as jy reken verlede jaar se pryse is nie volhoubaar nie, kyk maar weer, want die popster Justin Bieber het verlede week meer as $1,3 miljoen (sowat R20 miljoen) vir NVI uit die versameling bekend as Bored Ape Yacht Club betaal.

Die versameling, wat 10 000 spotprentbeelde van ape bevat met algoritme-gegeneerde variasies in die agtergrond, het in Januarie alle rekords verpletter met tientalle NVI’s wat vir ʼn gemiddelde prys van ongeveer $250 000 (sowat R3,8 miljoen) verkoop is.

Vroeër die week het ʼn NVI-kunstenaar ʼn prent van ʼn asblik vir $252 000 (sowat R3,9 miljoen) verkoop. Dit het soortgelyke herrie in die kunswêreld ontketen as toe Marcel Duchamp in 1917 ʼn urinaal as kunswerk vir ʼn gesogte kunskompetisie ingeskyf het.

Robness, ʼn NVI-kunstenaar van die VSA wat die voorstelling van die asblik 64 Gallon Toter noem, sê hy kan nie eens behoorlik onthou waar of wanneer hy dit gemaak het nie. Dit kunswerk bestaan uit ʼn groot asblik met ʼn tegniese steuring, wat dit ʼn psigedeliese voorkoms gee.

Kritici sê suiwer winsbejag motiveer hierdie groot transaksies, met finansiële rolspelers wat mooi tegniese woordjies en glanspersoonlikhede gebruik om hul doelwitte mee te verdoesel.

Aanhangers staan egter toegewyd by die kuns en aanlyn verkope, en sien die tegnologiese kompleksiteit as eie aan die soort kuns se waarde.

Die Maleisiese kunstenaar met die gebruikersnaam mumu_thestan sê egter dit is ’n gevarieerde landskap.

“Jy kan nie die hele NVI-gemeenskap oor dieselfde kam skeer nie,” het sy in ’n telefoniese onderhoud aan AFP gesê.

“Die hoofstroom gehoor dink NVI gaan daaroor om ’n jpeg vir miljoene te verkoop of om ’n oulike aapprentjie te maak. Dis beslis nie al wat dit is nie.”

Van punks tot ape

Dié NVI-kunswerk getiteld “64 Gallon Toter” van ʼn asblik het duisende dollar vir die kunstenaar Robness besorg. (Foto: @robnessoffical/Twitter)

Mumu, ʼn 33-jarige illustreerder wat anoniem wil bly, werk aan haar skeppings – van konstellasies van flitsende beeldpunte tot welige fantasiestyl beelde van vroue en drake, en verkoop dit vir ’n paar honderd dollar per stuk.

Sy het gewerk om ’n nismark te skep, en het geweier om op die hoofbeurse vir NVI te verkoop omdat dit van die energie-honger ethereum-blokketting gebruik maak.

David Leonard, self ʼn kunstenaar, versamel werke van kunstenaars soos Mumu omdat hy glo sy doen besonderse werk en verdien die ondersteuning van aanhangers en die kunsgemeenskap.

“As ʼn kunstenaar wil ek die soort versamelaar wees wat ek wens ek gehad het. Ek sal nie wil hê dat my versamelaarsbasis slegs aan wins moet dink nie,” het hy aan AFP gesê.

Tog is een van die hoofverhale rondom NVI een van spekulante wat rekordwinste maak deur hul bates te verkoop.

ʼn Opbloei word aangevuur deur ʼn bohaai op sosiale media en glanspersoonlikhede se steun.

Verlede jaar was die versameling wat heelwat aandag getrek het “CryptoPunks” wat bestaan het uit blokkerige beelde van die 1970-styl aanhanger van die rebelse teenkultuurbeweging in musiek. Sommige beelde is vir miljoene verkoop, met eienaars wat bekendes soos Jay-Z, Snoop Dogg en YouTuber Logan Paul insluit.

Nou is dit “Bored Ape” met Bieber wat met sy aapbeeld by sy 200 miljoen Instagram-volgelinge gespog het. Die tennisster Serena Williams besit ook NVI uit dié versameling.

Die meeste NVI-skeppers kan net droom van hierdie soort publisiteit.

“Die gemiddelde kunstenaar verloor eintlik geld op hul NVI,” sê Stephen Diehl, ʼn sagteware-ontwikkelaar en uitgesproke kritikus van kripto-geldeenhede.

Diehl meen die klein spelers, wat ʼn enkele weergawe van ’n oorspronklike kunswerk maak, betaal oor die algemeen hulle bietjie wins in fooie en koste uit – en dis die gelukkige paar kunstenaars wat hoegenaamd enigiets verkoop.

‘Ek wil nie verkoop nie’

‘n Besoeker loop tussen die kunswerke wat in die Seattle NVI Museum uitgestal word. (Foto: Jason Redmond / AFP)

Mumu erken haar bekendheid is hoofsaaklik te danke aan Mike Shinoda van die Amerikaanse rockgroep Linkin Park, wat ʼn groot aanhanger van haar werke is. Verder het dit bloedsweet gekos om genoeg aanhangers vir haar kuns bymekaar te maak sodat sy dit uiteindelik kon bekostig om NVI voltyds te skep.

Sy het slegs 13 000 volgelinge op Twitter in vergeleke met die 600 000 wat Bored Ape volg.

Die sleutel tot sukses is om publisiteit rondom die werk te handhaaf, of dit noukeurig gekonstrueerde oorspronklike kunswerk of algoritme-gegenereerde aapprente is.

Hierdie gemeenskapsbou het duidelike parallelle met die tradisionele kunsmark waar jong kunstenaars dikwels so hard daaraan werk om ʼn aanhang te kry, as wat hulle doen met die skep van hulle eie kunswerke.

Die gerespekteerde afslaer Christie het gehelp om hierdie mark te bevestig deur ’n NVI deur die Amerikaanse kunstenaar Beeple verlede jaar vir $69 miljoen (R1 059 miljoen) te verkoop, wat hom die wêreld se derde duurste lewende kunstenaar maak.

Die koper kon ’n Van Gogh of Monet in die sak gesteek het aangesien dié werke verlede jaar vir soortgelyke pryse onder die hamer gekom het.

Net soos die kunsmark glo die kleiner rolspelers in die NVI-wêreld daar is veel meer aan hul bedryf as bloot net geld.

Brian Beccafico, ’n Franse versamelaar, het in 2020 daarin geslaag om ʼn Beeple-werk vir $1 (sowat R15,36) op ’n aanlyn veiling in die hande te kry.

Dit is waarskynlik nou meer as $100 000 (sowat R1 536 miljoen) werd, maar hy stel nie daarin belang om die werk te verkoop nie.

“Ek weet ek sal nie nog een kan koop nie,” sê hy.

In tussen het ʼn museum vir NVI in Seattle in die VSA geopen. Die Seattle NVI Museum stal van die oorspronklike kunswerke uit saam met verduidelikings van die tegnologie daaragter. Die museum hoop om besoekers te help om die wêreld van NVI en die unieke kriptografiese bewys (“token”) beter te verstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.