E-afval: Herwin meer, ontgin minder

Teen einde vanjaar sal elke mense op aare gemiddeld 7,6 kg e-afval produseer. (Foto: iStock)

Terwyl baie klem gelê word op en talle organisasies hulle beywer vir die vermindering van besoedeling, kry die aarde se groeiende e-rommelhoop min lugtyd. Of dit ’n stukkende selfoon of stokou skottelgoedmasjien is, al meer elektriese en elektroniese produkte word sommerso op die ashoop gesmyt.

Volgens die Verenigde Nasies sal elke mens op aarde teen einde vanjaar gemiddeld 7,6 kg e-afval produseer, wat beteken dat 57,4 miljoen ton van dié rommel wêreldwyd ophoop. Dit is die grootte van 350 reuse-passasierskepe of genoeg om ’n lyn van 125 km lank te vorm.

Slegs 17,4% van alle elektroniese afval, wat uit skadelike stowwe én kosbare minerale bestaan, word behoorlik versamel, behandel en herwin.

Internasionale e-afvaldag, wat vanjaar op 14 Oktober gevier word, het ten doel om verbruikers aan te moedig om die hergebruik, herskepping en herwinning van e-produkte te versnel. Meer as 120 organisasies uit 50 lande het dié inisiatief verlede jaar ondersteun.

Volgens die Waste Electrical and Electronic Equipment Forum (WEEE-forum) lei die trae herwinningskoers wêreldwyd tot die verlies van waardevolle hulpbronne. Tot 16 ton koper, 350 kg silwer, 24 kg goud en 14 kg palladium kan uit elke miljoen selfone herwin word.

E-afval is ’n goudmyn en bied in sommige opsigte ryker geleenthede as tradisionele mynbou. Die waarde van onherwinde minerale uit e-afval word op meer as $57 miljard (meer as R850 miljard) geraam, wat baie meer is as talle lande se totale bruto binnelandse produk.

“Hoe minder ons herwin, hoe meer moet ons ontgin, wat ’n enorme impak op die omgewing het,” sê Pascal Leroy, direkteur-generaal van die WEEE-forum.

Volgens hom is daar verskeie faktore wat ’n rol speel om die elektroniese sektor meer hulpbrondoeltreffend te maak. “Die belangrikste is dat meer mense hul gebruikte, stukkende e-ware na versamelingspunte moet terugstuur, dit verkoop óf vir liefdadigheid moet skenk.”

Volgens die WEEE-forum het die koronaviruspandemie ’n reuse-toename in die gebruik van elektronika en digitale oplossings teweeggebring. “Die gebruik van tegnologie het in elke huishouding toegeneem en talle mense maak steeds staat op e-produkte om in kontak met kollegas te bly.”

Volgens navorsing wat in opdrag van die Europese Parlement gedoen is, het die vraag na persoonlike rekenaars in die Europese Unie in 2020 met bykans 5% toegeneem. “Terselfdertyd verval ou toerusting in onbruik en lei die meer as 80% onherwinde e-afval tot ’n rommelhoop wat net groter word,” sê die forum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.