E-handelplatform takel peperduur kos

(Foto: iStock)

Voedselpryse het die afgelope tyd historiese hoogtepunte bereik weens die oorlog in Oekraïne, rentekoers- en brandstofprysverhogings, asook wispelturige weerpatrone. AgriKool, ’n e-handelsplatform, fokus daarop om die koste van voedsel te verlaag deur enersyds die middelman uit te sny en vervoerkoste te verminder, terwyl boere se winsgrens andersyds verhoog word.

Dié aanvangsonderneming (“startup”) wat in KwaZulu-Natal gesetel is, verbind landbouprodusente met kopers om die verkoop van produkte tussen kleinhandelaars en boere te vergemaklik. AgriKool help met al die aspekte van landbouhandel – van koopooreenkomste tot die aflewering van goedere.

“Ongunstige weerstoestande en onbestendige krag- en watertoevoer beïnvloed die koste van voedsel drasties, aangesien boere reg oor Suid-Afrika met lae opbrengste worstel. AgriKool stel kleinhandelaankopers in staat om minder vir landbouprodukte te betaal, terwyl boere steeds ’n regverdige wins in die sak kan steek,” sê Zamokuhle Thwala, uitvoerende hoof van AgriKool.

AgriKool versamel data en inligting wat gebruik word om boere oor markneigings, veral prysbepaling, in te lig. ’n Boer lys bloot die produkte wat hy beskikbaar het. Kopers kom met die produsent ooreen oor die prys en AgriKool verseker tydige betaling en vergemaklik die vervoer van die produkte na die koper.

Laer vervoerkoste

“Vervoer en logistiek is verantwoordelik vir aansienlike uitgawes in die landbouvoorsieningsketting. Soveel as 35% van boere se totale bedryfskoste word hieraan bestee. Om hierdie koste te verminder, het AgriKool ’n vennootskap met ’n vragmotorvloot aangegaan.

“Roetes word noukeurig uitgestippel om te verseker dat goedere op elke been van ’n vragmotor se reis vervoer word, wat verbeterde voertuig- en bestuurderbenutting in die hand werk. Dit verminder brandstofverbruik en verlaag vervoeruitgawes tot net sowat 20% van die bedryfskoste,” voeg Thwala by.

Bedryf is ryp vir ontwrigting

Zamokuhle Thwala is die uitvoerende hoof en stigter van AgriKool. (Foto verskaf)

Die landboubedryf is ryp vir ontwrigting, oftewel ’n nuwe tegnologie-gedrewe manier van sake doen, aangesien boere groot risiko’s in die landbouwaardeketting neem en nie kan voorspel of hulle ’n wins of verlies gaan toon nie, sê hy.

“Gewoonlik neem boere hul produkte na markte in pakhuise waar boere en agente (kopers wat die produkte by die boere koop en weer teen ’n wins aan kleinhandelaars verkoop) byeenkom. Die boer kan nie voorspel wat sy wins (of verlies) gaan wees nie, want die agente bepaal die finale prys. Die pakhuis neem boonop 5%-kommissie op die waarde van goedere wat verkoop word, terwyl die agent nóg 7,5%-kommissie opslurp. AgriKool sny dié uitgawes uit.”

AgriKool het ’n aantal groot kommersiële kopers en verskaffers aan boord, insluitend Freshmark (Shoprite se varsproduktebeen) en Boxer. Die platform spog ook met 21 groot kommersiële en 100 klein produsente aan boord, wat die Durbanse varsproduktemark as ’n tussenganger tussen produsente en kleinhandelaars vervang.

“AgriKool is in Pietermaritzburg gesetel en het planne om in die komende jaar ook na ander provinsies uit te brei. Ons inkomste het vanjaar met meer as 400% per maand gegroei,” vertel Thwala trots.

Steun aan belowende sakelui

AgriKool se sukses is te danke aan die ondersteuning van die AlphaCode Incubate-program wat aanvangsondernemings stukrag gee deur finansiering, leiding deur ’n paneel raadgewende kundiges, toegang tot werkruimtes en ander beleggingsgeleenthede.

Die AlphaCode Incubate-program, wat entrepreneurspakkette aan belowende aanvangsondernemings met die ondersteuning van Rand Merchant Investments toeken, het die afgelope sewe jaar finansiering ter waarde van R40 miljoen aan 50 tegnologie-gedrewe ondernemings uitbetaal.

Volgens Dominique Collett, hoof van AlphaCode en ’n bestuurder by Rand Merchant Investments Holdings, was AgriKool een van 200 ondernemings wat vir dié gesogte program aansoek gedoen het. “Dit het dadelik uitgestaan ​​as een van die topondernemings, omdat dit ’n besonderse oplossing bied vir ’n sakedoring in talle Suid-Afrikaners se vlees – hoë voedselpryse. Dit is heerlik om te sien hoe dié onderneming groei en gedy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.