Een van die korona-‘wolk’ se silwer randjies

Riana Crafford. (Foto: Verskaf.)

Deur Riana Crafford

Elke jaar skop ek my reeks lesings vir bedryfsinligtingstelsels 101 af met ʼn aptytwekkertjie om die plek wat IT-stelsels in ons lewens het, aan studente te illustreer. Ek gaan maak ʼn draai by die Vierde Nywerheidsrewolusie (4NR) en ontwrigtende tegnologieë en gebruik my gunstelingaanhaling van Klaus Schwab, voorsitter van die Wêreld Ekonomiese Forum. (Hier ingesluit. Bron: WEF webwerf)

Die eerste reaksie wat ek uit die studentegeledere kry, is ongeloof: “Nie in Suid-Afrika nie, ons is ver agter die res van die wêreld. Ons is nou eers by die derde rewolusie …” (Ek het hierdie sienswyse al in ʼn vorige artikel bespreek.)

My vermoede is dat Schwab se deuntjie as gevolg van hierdie pandemie verander het. Die eintlike ontwrigter is toe ʼn submikroskopiese organiese struktuurtjie genaamd Covid-19, en nie tegnologie nie. Kan jy glo hoe hierdie virus ons leefwêreld fundamenteel kom verander het? Ons praat alreeds almal van die nuwe normaal.

Hoe dankbaar is ons nou nie oor die sogenaamde ontwrigtende tegnologie nie. Ja, juis dit wat baie mense tot nou toe gevrees het. Die studente se tweede reaksie, ná die ongeloof, is gewoonlik vrees: “Rekenaars en kunsmatige intelligensie gaan ons werk afvat!”

Wel, daar is net mooi die teenoorgestelde toe waar. Die ondernemings en werknemers wat tydens vlakke 5 en 4 van die grendelstaat die minste ontwrigting ervaar het, is juis dié wat al begin deelneem het aan die tegnologiese revolusie. Die ondernemings wat al voorheen hul IT-verwerking en berging van data geskuif het na die “wolk” (wolkberging en -verwerking deur middel van die internet), kon grotendeels onverpoos voortgaan met hul noodsaaklike dienste, of ten slegste met geringe aanpassings steeds aan die werk bly.

Dit is juis daarom dat die idioom, “Elke donker wolk het ʼn silwer randjie” die situasie so mooi raakvat. Covid-19 blyk, medies gesproke, ʼn yslike bedreiging (donker wolk) te wees, maar ekonomies gesproke bied die tegnologiese wolk soveel oplossings vir ons afsonderingsuitdagings dat ons op verskeie fronte steeds dienste en produkte kon bly lewer.

Die “wolk” is dus die silwer rand in hierdie situasie!

Foto ter illustrasie. (Foto: Alexandre Debiève/Unsplash.)

Kom ons kyk na die volgende geval:

Die departement van gesondheid se grootskaalse poging om soveel moontlik mense te toets, word deur middel van landwye mobiele toetsing en opsporing van huis-tot-huis gedoen. Hoe word tegnologie aangewend? Daar is nie veel besonderhede bekendgemaak (waarvan ek weet) nie, maar ek kan my verbeelding gebruik: mobiele toepassings en verspreide databasisse, gekoppel deur die internet, sal aan die hart hiervan moet lê.

Ons het ʼn wolk van Covid-19-statusdata begin stoor oor burgers uit elke streek en provinsie. Hierdie inligting word sentraal verwerk en ontleed, heel waarskynlik met die hulp van gesofistikeerde besluitnemingsondersteuningstelsels. Hierdie prosesse vind by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) plaas. In president Ramaphosa se woorde: “Daardie wêreldklas-instelling.” Hierdie inligting word daagliks bestudeer deur die epidemioloë en besluitnemers.

Daarna word die inligting soos riglyne en protokolle na die “veld” teruggestuur. Boonop is die spoed van toetsing, die bekendmaak van uitslae en die opsporing van almal met wie die nuutste slagoffer in aanraking was, asook hul isolering, van die allergrootste belang om daardie gevreesde kurwe so plat as moontlik te kan hou.

Spoed, wie praat van spoed? Dis mos inligting- en kommunikasietegnologie (IKT) se kos! Dankie tog vir uitgebreide IKT-infrastruktuur in Suid-Afrika wat ons ook op hierdie manier kon dien. As daar oponthoude was, kon ons vir seker nie die tegnologie daarvoor blameer nie, maar eerder die implementeerders van die noodmaatreëls.

Dan dink ons ook aan die emosionele en sosiale impak van die isolasie. Hoeveel enkellopers en mense wat van hul families geskei is deur omstandighede en grendeltyd, staan nie die kans om totaal te vereensaam en in depressie te verval nie? Hoeveel ouer mense en hulpbehoewendes sou nie krepeer het van ellende as daar nie gesofistikeerde tegnologie was om mense virtueel te help sosialiseer en hulpkrete uit te stuur nie. Hier verwys ons na enigiets van WhatsApp-video-oproepe en Zoom-sessies tot toepassings wat hulp ontbied onder voorafbepaalde omstandighede. Viva tegnologie! Ná meer as 70 dae van inperking kan ons elkeen getuig van die waarde hiervan!

Suid-Afrikaners, dis maar twee voorbeelde, daar is nog vele ander wat in hierdie tyd soos ʼn paal bo water staan: 4NR is hier, plaaslik, en dit werk hard vir ons!

Soos die uitvoerende hoof van die professionele liggaam, die Instituut vir IT-praktisyns in Suid-Afrika (IITPSA), Tony Parry, in ʼn nuusbrief gesê het: “IT-kundiges het tans ʼn leeueaandeel daarin om die ekonomie en die land suksesvol en produktief te hou.”

Ek wil graag wankelmoediges aanmoedig om hierdie sogenaamde “ontwrigtende tegnologieë” te omhels. Van die vroegste tye moes (en hét) mense bly aanpas by veranderings en dis glad nie anders in die 21ste eeu nie. Dit is nou een ding van die mensdom – ons het ʼn ingeskape vermoë om aanpasbaar te wees. Net jammer dat ons ook ʼn inherente weersin aan verandering het – daarmee moet ons gedurig stoei!

Ons Hemelse Vader het immers nie vir ons ʼn gees van vrees gegee nie, maar een van krag… (2 Tim 1:7). Ons is nie slagoffers van gebeure buite die beheer van ons Vader nie. In geloof en met vindingrykheid kan ons die nuwe normaal blymoedig hanteer met tegnologie om vir ons te werk.

Ná Covid-19 gaan ons lewens in baie opsigte anders lyk as die prentjie wat ons oor ons toekoms gehad het, maar laat dit ons nie bekommer nie. Ons is veilig in die Vader se hande en Hy gee vir ons alles wat ons nodig het, ongeag die omstandighede. In hierdie geval reken ek inligtingstegnologie as deel van Sy voorsiening. Kom ons maak seker ons weet hoe om dit ten beste aan te wend. Kom ons dank Hom daarvoor, ook vir die duisende tegnici wat reg deur die lang weke van grendeltyd kliphard gewerk het om ons tegnologiese lewensreddingslyn(e) in goeie werkende toestand te hou.

Stem jy met my saam dat die sogenaamde tegnologiese wolk die donker koronawolk darem so bietjie ligter laat lyk?

  • Riana Crafford is ’n dosent in bedryfsinligtingstelsels aan Akademia.
  • Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Tegnologie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lekkerdink ·

Riana jou artikel was rerig oulik . Ons geslag van die laat 1940’s was een van die min wat al die veranderinge beleef het . Van slinger telefone , toe knoppies , toe outomaties . sakrekenaars wat net kon optel en aftrek, teleksmasjiene , toe fakse. tot waat ons vandag staan met al die verstommende tegnolgie en ons MOES AANPAS. Ons is geskape om te leer. Die virus gaan beslis die wereld verander . Ek weet dat kantore gaan leegstaan , die paaie gaan minder besig word –ek hoop– die internet gaan die pad word waarop ons sal besigheid doen. Op 74 ek het geleer om te Zoom , videos te neem want as n praktiserende eiendoms konsultant moes ons ook aanpas . Die silwer randjie is reiskoste het radikaal afgeneem ,besoeke aan huise word minder gedoen en kliente word beter gekwalifiseer EN EK IS MEER TUIS . GROETE

OW ·

Goeie skrywe.Ek stem saam met jou vraag aan die einde.Ek sal egter die “nuwe normaal” eerder die “nuwe abnormaal”noem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.