Entrepreneurskap: As die prys reg is, kóóp mense


jaco-gerrits

Jaco Gerrits. Foto: Verskaf.

Hiermee ʼn voorsmakie van Jacques Basson van Klipkouers se onderhoud met Jaco Gerrits, eienaar van CrashDetech.

Watter ander besigheid of industrie is vir jou interessant of ongewoon?

Wat vir my baie interessant is, is kontekstuele bewustheid. Dis daardie soort data wat CrashDetech van gebruikers verkry om na iemand se padgewoontes te kyk. Sodoende kan ons sien hoe duur dit uitwerk en voordele aanbied vir as iemand beter sou bestuur. Op dié manier verlaag ons die versekeringsrisiko. Ons gebruik dit as ʼn kommersiële voordeel in terme van hoe ons tegnologie aan versekeraars lisensieer. Dis beslis ʼn geleentheid vir kontekstuele bewustheid, maar ek dink die wearables-mark is een wat my persoonlik interesseer.

ʼn Voorbeeld is ʼn pastoestel wat vir ons presies sal vertel wat jou daaglikse bewegingspatrone is. Daardie data kan dan toegepas word vir ander gebruike, weereens om te kyk na byvoorbeeld lewensversekering en om jou risiko anders te klassifiseer in terme van die soort data wat jy genereer.

Dit is ook vir my belangrik om altyd die een of ander sosiale aspek in besigheid in te bring. In die laerinkomste-markte is daar baie groot groeigeleenthede hiervoor, veral met tegnologie. Namate tegnologie daar begin binnedring, kan ons kyk na nuwe finansiële dienste, nuwe gesondheidsdienste, kruidenierswaredienste – daar is net soveel dienste wat ons kan eien om mense se knelpunte aan te spreek. Dit is iets wat my baie opgewonde maak.

Daar is fantastiese geleenthede, al dink baie ouens dikwels verkeerdelik dat daar in Suid-Afrika 30 miljoen ouens is wat iets nie kan  bekostig nie. Dit gaan egter nie oor bekostigbaarheid nie, maar eerder oor die regte prys. As die prys reg is, sal die mense koop.

Ook is ons mark uniek. Jy moet altyd na geleenthede kyk wat relevant is vir jou mark. Baie van die maatskappye veg vir die top-10% se besigheid, maar ons het hierdie piramide-effek waar 90% van die mark onderbedien word, terwyl die tegnologie bestaan om vir die laerinkomste-groepe ook voorsiening te maak. Jy moet aanpas by jou mark. Jy kan nie eerstewêrelddenke op ʼn derdewêreldland afdwing nie. Jy moet letterlik aanpas by dít wat jou mark wil hê.

  • Die volledige onderhoud waar Jaco Gerrits sy wenke met entrepreneurs deel, word Donderdag gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trots ·

Ek is baie trots daarop dat my landsgenote hierdie gevorderde tegnologie bemeester.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.