Facebook kan foto’s beskryf vir siggestremdes

Argieffoto (Grafika: Facebook.com)

Argieffoto (Grafika: Facebook.com)

Meer as 2 miljard foto’s word daagliks deur Facebook, Instagram, Facebook Messenger en WhatsApp gestuur en Facebook wil dié ervaring meer toeganklik maak vir blinde mense.

Volgens die sosialemedianetwerk is meer as 39 miljoen mense blind en meer as 246 miljoen mense is ernstig gesiggestremd. “Ons wil ʼn tegnologie bou wat die blinde gemeenskap help om Facebook op dieselfde manier te geniet as enigiemand anders,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.

Facebook stel gevolglik outomatiese alternatiewe teks, of “automatic alt text” beskikbaar – ʼn nuwe ontwikkeling wat ʼn beskrywing van ʼn foto genereer danksy goeie vordering wat gemaak is in voorwerp uitkenningstegnologie.

Persone wat van skermlesers gebruik maak op iOS-toestelle sal ʼn lys van voorwerpe hoor wat moontlik in die foto ingesluit is. Tot dusver kon iemand wat van ʼn skermleser gebruik maak, slegs hoor wie die foto gedeel het, gevolg deur die woord “foto” wanneer dit in die “News Feed” sou verskyn.

Met die nuwe “automatic alt text” sal die persoon byvoorbeeld hoor: “Foto kan moontlik drie persone bevat, laggend, buite” [Image may contain three people, smiling, outdoors].

Die Facebook-toeganklikheidspan werk hard daaraan om die tegnologie selfs nog meer toeganklik te maak vir nog meer persone.

Die funksionaliteit word eerste op iOS-skermlesers en in Engels beskikbaar gemaak, maar dit sal glo binnekort in ander tale en op ander platforms beskikbaar gemaak word.

Lees meer oor die ontwikkeling van outomatiese alternatiewe teks hier, hier en hier
Lees meer oor Facebook se toeganklikheidseenheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.