Facebook-skandaal: Is jy ook geteiken?

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook (Foto: Xinhua/Ting Shen)

Sommige Facebook-gebruikers het vandeesweek ʼn kennisgewing ontvang dat hul data onbehoorlik bekom is deur ʼn maatskappy, Cambridge Analytica. Die maatskappy het onregmatig persoonlike inligting van tot soveel as 87 miljoen gebruikers bekom van persone en hul vriende wat aan die app “This Is Your Digital Life” deelgeneem het.

Die maatskappy, wat deel was van pres. Donald Trump se 2016-verkiesingsveldtog, het na bewering die inligting gebruik om sielkundige profiele saam te stel en kiesers dan met spesifieke advertensies te teiken.

Mike Schroepfer, hoof tegniese beampte van Facebook, beraam dat Cambridge Analytica se praktyke tot 87 miljoen gebruikers raak, waarvan die meeste in die VSA woon.

Cambridge Analytica het egter herhaaldelik ontken dat hulle enigiets verkeerd gedoen het en het verlede week in ʼn verklaring gesê hulle het data slegs van 30 miljoen gebruikers bekom.

Intussen berig EWN dat minstens 59 777 Suid-Afrikaners hierdeur geraak word. Volgens Facebook het 33 gebruikers in Suid-Afrika die app afgelaai en die 59 777 is vriende met diegene wat die app iewers anders in die wêreld afgelaai het.

Die app, This Is Your Digital Life, is saamgestel deur Aleksandr Kogan, navorser by Cambridge-universiteit. Hy het die data wat hy ingesamel het, daarna aan Cambridge Analytica verkoop.

As jy nie ʼn kennisgewing gekry het dat jou inligting met die maatskappy gedeel is nie, kan jy hier klik om te sien of jy deur die databreuk geraak is. (Maak seker dat jy met Facebook ingeteken is.)

Facebook het intussen bevestig hy het die app verbied.

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, het vandeesweek voor die Amerikaanse kongres verskyn om vrae oor die kwessie te beantwoord. Hy is onder andere uitgevra oor Facebook se fundamentele sakemodel, die manier waarop die maatskappy data gebruik en watter tipe maatreëls behoorlik sal wees.

Zuckerberg het onder meer bevestig dat sy eie data ook ingesluit is in die data wat aan derdepartye verkoop is. Hy het getuig dat Facebook nie in hierdie stadium van voornemens is om sy sakemodel te verander nie. Oor riglyne en maatreëls het Zuckerberg gesê hy is nie gekant teen maatreëls nie, maar “mens moet versigtig wees watter tipe maatreëls ingestel word”.

Op ʼn vraag van verteenwoordiger Raul Ruiz, of daar ʼn entiteit moet wees wat “toesig hou oor hoe gebruikers se data versamel, gedeel en gebruik word”, en wat “riglyne kan bied vir internetmaatskappye om seker te maak dat hulle nie die wet oortree nie”, het Zuckerberg gesê dit is “ʼn idee wat goed oorweeg moet word”.

Zuckerberg het benadruk dat die maatskappy in die toekoms sal verhoed dat daar enige inmenging plaasvind tydens verkiesings. Dit het aan die lig gekom dat Facebook-rekeninge, wat met Rusland verbind word, gebruik is om tydens die 2016 Amerikaanse verkiesing verkeerde inligting te versprei. Hy het bygevoeg die maatskappy stel kunsmatige intelligensie in om vals rekeninge op te spoor om die verspreiding van verkeerde inligting te voorkom, maar het erken dat dit nie moontlik sal wees om dit heeltemal te voorkom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Tydens die verskyning van Facebook se Mark Zuckerberg voor ‘n paneel van die Amerikaanse senaat, vra senator Durbin aan Zuckerberg of hy tevrede daarmee sal wees om die naam van die hotel waarin hy gisteraand gebly het mee te deel, waarop Zuckerberg geantwoord het, “Natuurlik nie.” “En dit is presies die probleme wat hier met Facebook ter sprake is,” het Durbin gesê, “watter informasie op Facebook verskyn en met wie dit gedeel word.”

Persoonlik gebruik ek al etlike jare nie meer Facebook nie en het tot uiterste lengtes gegaan om alle inligting wat ek daar geplaas het, te verwyder. Maar dit is ‘n taak wat haas onmoontlik is omdat goed wat ‘n dekade gelede geplaas is net skielik weer op die tydlyn verskyn.

Gesiggie ·

JA HOOR alles gaan oor geld en Facebook is ook maar lekker skuldig en partydig. Ons het al verskeie kere wreedhede aangemeld sowel as blatante rassisme by FB en hulle het net gese dit ‘oortree nie hulle community standards nie’ terwyl hulle al soveel mense geblok het wat durf waag het om ‘n foto van ‘n plaasmoord te plaas. Alle ander gruwelikhede word vertoon op videos, selfs pornografie wat ongevraagd aangestuur word word aangemeld en steeds OORTREE dit nie hulle reëls nie, maar dan word jy geblok vir baie kleiner ‘oortredings’ wat jy nie eers geweet het ‘n oortreding is nie.

Leeu ·

NOOIT?! n besigheid wat gaan oor geld, wie sou dit nou kon raai.

Willem ·

Ek lees en ervaar genoeg van die probleme met die lewe hier in Suid-Afrika en het nie nog die krag om ‘n toep af te laai om ook uit te vind wat die stand van my digitale “lewe” is nie .

Valerie ·

Dis al verby tyd dat Facebook duik, maar dis die gebruikers wat die monster aan die gang hou.
Wil foto’s van jou kinders, ens. wys of die ontbyt wat jy verorber het? Gebruik email.

'n Ander Willem ·

As jy dit email gee jy maar dieselfde inligting vir Google in plaas van Facebook. Dis nou die oukies wat totale beheer het oor daardie GPS in jou (hand)sak met al jou kontakte, fotos, SMS’e, ens. op.

Funny ·

Snaaks hoe mense moan dat hul inligting, wat hul vrywillig op die internet geplaas het, self hul fotos en alle rande inligting self deel, nóú wil kla oor privaatheid. ROFL

Pieter ·

@nanderwillem, glad nie. Dis skokkend watter inligting mense op FB deel.

Fran ·

Stompie van As, jy is skerp!!!!! Ek Facebook nie, ek dink te veel van myself :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.