Facebook-speletjies en ander digitale goggas

Skermskoot van die app op Facebook

Skermskoot van die app op Facebook

As ʼn gereelde Facebook-gebruiker sal jy gereeld sien hoe jou vriende aan allerhande speletjies en peilings deelneem – maar hoe veilig is dit werklik?

Meer as 16 miljoen mense het onlangs binne ʼn paar dae aan ʼn speletjie, “Most used words”, deelgeneem waar ʼn wolkie aandui wat die woorde is wat jy die meeste op dié sosialemedia-netwerk gebruik. Jou vriende (en dalk jy ook) het heel gewillig aan dié app toestemming gegee om toegang te kry tot onder andere jou Facebook-profiel, en profielfoto, ouderdom, geslag, verjaarsdag en ander openbare inligting.

Jy gee ook toegang vir die app tot jou hele lys van vriende, alles wat jy al ooit op Facebook-gepubliseer het, al jou foto’s en die foto’s waarin jy verskyn, jou opleidingsgeskiedenis, alles wat jy al ooit ge-“like” het, jou IP-adres en inligting oor die toestel wat jy gebruik, insluitend jou webblaaier en taalkeuse.

Indien jy nie die app toegang gee tot al dié inligting nie, sal dit nie by jou werk nie.

Comparitech het onlangs ʼn volledige artikel oor die privaatheidskwessies van veral dié app op sy webwerf gepubliseer. In die artikel word die privaatheidsklousule van die app uiteengesit en verduidelik dat die maatskappy wat die app geskep het, Vonvon, dit stel dat die inligting moontlik aan derdepartye beskikbaar gestel kan word.

Vonvon het intussen reageer en ontken dat hy sy gebruikers se inligting verkoop.

Wat kan jy doen?

Indien jy dalk die speletjie gespeel het, stel ons voor dat jy die toestemming wat jy aan die maatskappy verskaf het, dadelik terugtrek.

  1. Maak Facebook op jou rekenaar oop en klik regs bo op die onderstebo pyltjie en klik dan op “settings”
  2. Klik op “apps” in die linkerkantste kolom
  3. Al die apps waarvoor jy reeds toestemming gegee het, sal op die lys verskyn. Soek “Vonvon” (klik op “show all” om dit op te spoor)
  4. Klik op die grys “x” langs Vonvon om dit te verwyder
  5. Klik op “remove” (en bevestig dan “remove” wanneer ʼn kennisgewingsboksie verskyn)

Let wel dat dit slegs Vonvon verhoed om verder inligting van jou te versamel. Dit wat hulle reeds van jou versamel het, kan jy nie verwyder nie.

Wat kan jy nog doen?

Die “Most used words”-app word uitgesonder slegs omdat dit een van die jongste speletjies op Facebook is. Daar is talle ander apps wat ook jou inligting versamel. Vermy dus eerder aanlynpeilings en speletjies wat versoek dat jy Facebook-toegang moet gee, tensy jy vertroud is met die betrokke maatskappy. Neem eerder aan speletjies en peilings deel waar jy nie met jou Facebook-inligting hoef aan te teken nie, byvoorbeeld Buzzfeed.

Lees die volledige artikel op Comparitech.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.