Foongroepe skarrel vir plek in Kerskous

Google spog met twee nuwe fone, die Pixel 6 en Pixel 6 Pro. (Foto: Verskaf)

In ’n besige week op die tegnologiefront is ’n rits nuwe produkte bekend gestel met die oog op die feestyd wat om die draai is. Op die rug van Apple se bekendstelling van onder meer die nuwe iPhone 13, iPad, MacBook Pro en AirPods 3, het ook Google en Samsung seker gemaak hulle bult hul spiere voor Kersvader sy slee begin laai.

Google soek (steeds) vastrapplek

Google spog met twee nuwe fone, die Pixel 6 en Pixel 6 Pro. Dit is die eerste van sy fone wat met die nuwe Tensor-skyfie spog. Ook Apple maak deesdae sy eie skyfies nadat hy vroeër Intel-skyfies gebruik het. Google se fone het tot onlangs nog met Qualcomm-skyfies gespog.

Ofskoon Google se Android-bedryfstelsel op meer as 3 miljard fone wêreldwyd gebruik word, kry die groep net nie vastrapplek in die selfoonmark nie. Iets wat hy hoop dié nuwe fone sal verander.

Google se twee strategiewortels voor die neus van lojale Apple- en Samsung-gebruikers is prys en unieke sagteware. Die Pixel 6 is $100 goedkoper as die vorige model (Pixel 5), terwyl die Pixel 6 Pro in die boonste pryssegment met die iPhone 13 en Samsung Galaxy S21 5G saamgesels.

Wat die sagteware betref, hoop Google dat funksies soos “Magic Eraser”, waarmee jy ’n lastige derde wiel aan die wa uit ’n foto kan vee, of “Face Unblur”, waarmee jy bewegende voorwerpe se fokusskerpte kan aanpas en meer akkurate velkleur kan verseker, fotofanatici sal aanvuur om die Pixel 6 te koop. Die Pro spog ook met ’n derde telefotolens wat 4x optiese “zoom” moontlik maak.

Ander funksies wat danksy die Tensor-skyfie moontlik en maklik gemaak word, sluit in stemdiktering waarmee jy kan sê: “Hey Google, type …” en dan dikteer jy pleks van om ’n boodskap te tik. Regstreekse vertaling (soortgelyk aan Google Translate) is ook moontlik. Jy kan dus jou boodskap in ’n sekere taal tik en dit word, soos jy tik, in jou keuse uit sowat 11 tale vertaal.

Die Android 12-bedryfstelsel op die nuwe fone stel jou in staat om (danksy die “Material You”-funksie, wat nogal aan ’n Madonna-liedjie herinner) jou muurpapier, keuselys en selfs app-groottes en -kleure na jou sin in te rig. Google beloof ook veiligheidsbywerkings van minstens vyf jaar saam met die nuwe fone.

Op die gebied van tegniese spesifikasies, kan die Pixel 6 Pro geheuespasie van tot 512 Gb huisves, terwyl kleinboet Pixel 6 se maksimum bergingsruimte 256 Gb is. Albei se intreevlakmodelle word egter standaard met 128 Gb-spasie verskeep.

Skermgrootte wissel van 6,4 duim tot 6,7 duim. Die batterye wissel op sy beurt van 4 600 mAh in die Pixel 6 tot 5 000 mAh in die Pro en sal glo ná 30 minute lange laaityd op 50% kapasiteit staan. Op volspoed behoort dit ’n hele dag van klets te verseker, aldus Google.

Iets wat talle gebruikers dwars in die krop steek (sluit my gerus hierby in), is die nuwe neiging om foonherlaaikabels afsonderlik te verkoop. Hier volg Google in Apple en Samsung se spore deur die USB-C-kabel eenkant op die rak te hou.

Kyk gerus hier na die nuwe Google-fone.

Ontwerp jou eie slimfoon

Die Galaxy Z Flip3 van Samsung het verskillende ontwerpopsies. (Foto: Verskaf)

Samsung word allerweë as die markleier beskou wat pasgemaakte produkte betref. Dié groep het tydens ’n aanlyn bekendstelling gesê hy wil gebruikers al hoe meer by die ontwerpproses betrek. Sy Galaxy Z Flip3-flapfoon, wat in Augustus bekend gestel is, bied nou ’n handvol ontwerpkeuses waardeur gebruikers hul persoonlikheid- en smaakstempel kan afdruk.

Dit is moontlik om raamopsies in swart of silwer te kies, verskillende kleure (blou, geel, wit, pienk of swart) vir die voor- en agterpanele, of selfs ’n streeppatroon. Die 49 ontwerpkombinasies in die Flip3 bou voort op Samsung se bestaande reeks maak-volgens-bestelling-produkte soos yskaste.

Hoewel hy die markleier is, was hy nie die eerste om ’n verkleurmannetjiefoon uit te rol nie. Motorola het in 2013 altesaam 18 kleuropsies aan die agterkant, sewe afwerkingskeuses en verskillende materiaalopsies, soos plastiek of hout, aan Moto X-gebruikers gebied.

Intussen gee Samsung egter op ’n wye front die pas aan wat produkte in verskillende gedaantes betref. In 2017 het die groep sy raamtelevisie (The Frame) uitgerol wat as kunswerk dien as daar nie iets op die kassie is nie. Sy pasgemaakte yskas is ook in verskillende materiaal en kleure beskikbaar en bied funksies soos temperatuurbeheer wat met behulp van die SmartThings-app na jou pype dans.

Volgens die navorsingsgroep Counterpoint is Xiaomi tans die leier wat wêreldwye slimfoonverkope betref, met ’n markaandeel van 17,1% in Junie 2021, gevolg deur Samsung met 15,7% en Apple met 14,3%.

Loer hier na die Galaxy Z Flip3 se verskillende ontwerpopsies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.