Foutjie begaan op WhatsApp? Stel dit nou só reg

Argieffoto (Foto: arivera, Pixabay)

Die boodskapdiens WhatsApp het vandeesweek bekend gemaak dat hy dit nou vir gebruikers moontlik maak om boodskappe wat aan ander gebruikers gestuur is, uit te vee.

Dié boodskapdiens het vandeesweek in ʼn verklaring gesê die diens is beskikbaar gestel ná ʼn groot openbare aanvraag.

Gebruikers het sowat sewe minute om ʼn boodskap uit te vee wat op albei gebruikers se toestelle sal verdwyn waarna dié opsie nie meer beskikbaar sal wees nie. Ná sewe minute kan gebruikers slegs die boodskap op hul eie toestelle uitvee.

Boodskappe kan in gesprekke tussen twee persone of in groepe uitgevee word.

Wanneer ʼn boodskap uitgevee word, sal daar steeds ʼn kennisgewing wees wat aandui dat ʼn boodskap uitgevee is.

“Die diens word beskikbaar gestel op die jongste weergawe van WhatsApp vir onder meer iPhone, Android, Windows-slimfone en vir WhatsApp se desktop-weergawe. Die boodskap word egter nie ‘herroep’ nie, maar net uitgevee en die gebruiker aan wie die boodskap gestuur is, sal steeds weet dat ʼn boodskap uitgevee is,” lui ʼn verklaring van WhatsApp.

Die boodskapdiens het ook gesê daar mag soms tegniese probleme met dié funksie inglip wat veroorsaak dat die boodskappe nie altyd uitgevee word nie. Gebruikers sal ook nie in kennis gestel word wanneer ʼn boodskap wel nié uitgevee is nie.

Gaan só te werk

  1. Maak seker die jongste weergawe van WhatsApp is op jou slimfoon of rekenaar geïnstalleer.
  2. Stuur ʼn boodskap aan ʼn gebruiker of na ʼn WhatsApp-groep.
  3. Kies die pyltjie in die regterkantste hoek van die boodskap en kies die opsie om die boodskap op beide toestelle uit te vee.
  4. Indien jy dié opsie kies, sal die boodskap op beide toestelle uitgevee wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.