Gesimuleerde stad baan die pad na Mars

‘n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die stad gaan lyk.

Die Verenigde Arabiese Emirate het aangekondig dat hy ʼn gesimuleerde Mars-stad gaan bou.

Die stad onder vier koepels gaan meer as 176 000 m2 beslaan, en verskeie wetenskaplike laboratoriums insluit. Dit gaan sowat $135 miljoen (net meer as R1,8 miljard) kos om te bou. Die plan is om ʼn span vir ʼn jaar lank in dié stad te laat woon om nuwe maniere te ontwikkel om in moeilike omgewings aan te pas.

’n Internasionale span navorsers het sterk aanduidings gekry dat waterys wel in die omgewing van Mars se ewenaar voorkom. Voorheen is geglo dat waterys nié die toestande naby Mars se ewenaar sou kon weerstaan nie.

Indien waterys wel in die omgewing van die ewenaar aanwesig is, al is dit in gebonde vorm ondergronds, skep dit toestande wat die kolonisasie van Mars baie kan vergemaklik. Waterys is al voorheen nader aan Mars se pole opgespoor.

In nog ’n studie het wetenskaplikes vasgestel dat dit nie net waarskynlik is dat daar tonnels, bekend as lawabuise, onder Mars, en die maan, se oppervlak is nie, maar dat dié op Mars en die maan weens die geringer swaartekrag veel groter as dié op aarde is. Waar ’n lawabuis op die aarde tot 30 m in deursnee kan wees, kan dié op Mars ’n deursnee van 250 m, en op die maan tot ’n deursnee van ’n 1 km hê.

Dit maak dié buise groot genoeg om stede ondergronds te bou wat nie aan die skadelike ruimtebestraling of selfs kleiner meteoriete blootgestel is nie.

Op die internasionale ruimtekongres wat in Adelaide, Australië, gehou is, het Nasa en Rosmocos van Rusland ’n ooreenkoms geteken vir samewerking om te werk aan ’n lanseergerief anderkant die maan vir besoeke aan die afgeleë ruimte. Dit sluit besoeke aan Mars in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KLEINTJIE ·

Ek het gedink ons leef al klaar op die maan met al die kraters in ons paaie.

Eric ·

My vraag nog steeds en as bul water op mars kry wat dan ? Sinneloos

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.