
Foto ter illustrasie. (Foto: Ketut Subiyanto/Pexels)
Deur Alex J Coyne
Slimfone verklap dikwels heelwat oor hulle eienaars sonder dat ʼn mens dit eers besef. Selfies en sosiale media reflekteer gereeld deeltjies van jou hele leefstyl op ʼn foon, maar hoe moet ʼn gesonde persoon se slimfoon nou eintlik lyk?
“Oorverbruik van enigiets, tegnologie inkluis, is nooit ʼn goeie ding nie, maar dit kan ook sinvol benut word in die regte hoeveelhede om voedselinname te monitor, asook jou kalorieverbranding dop te hou terwyl jy oefen. Daar is heelwat apps wat jou voedselinname beter kan help beplan,” sê die dieetkundige, Christa Dunn.
Struktuur en beplanning, sê Dunn, mag help vir mense wat maklik oorweldig word deur hulle eetplan.
“Ongelukkig kan dit ook lei tot obsessiewe kalorie-telling, verbind aan eetsteurnisse soos bulimie, anoreksie, of ooreet.”
Dunn raai verbruikers aan om eers ʼn moontlike dieet en oefenproegram met ʼn kenner te bespreek, en om nie net op tegnologie te reken nie.
“Gebruik tegnologie as jou ondersteuning,” beveel sy aan.
Hier is ons lys van die beste apps vir beter gesondheid op jou slimfoon.
Hartsake
ʼn Gesonde hartklop is enigiets van 60 tot 100 slae-per-minuut. Is jou hart so gesond soos wat dit moet wees, of klop dit eerder sjokolade en trans-vetsure?
Apple se Hartmonitor-app
Apple se hartmonitor-app werk saam met die Apple-slimhorlosie en dit meet jou hartklop, maar sal jou ook waarsku wanneer jou hartklop te hoog (of te laag) gaan.
Apple-verbruikers kan ook inligting oor hulle slaappatroon hierdeur verkry.
Samsung se Gesondheidsmonitor
Geen Apple? Samsung het sy eie weergawe van ʼn gesondheidsmonitor, waarmee jy ook maklik bloeddruk kan meet.
Kitshartklop vir Android
As jy nie ʼn slimhorlosie besit nie, kan sekere apps soos hierdie jou hartklop meet deur jou slimfoon se flitslig teen jou vinger te druk. Dit werk soos ʼn oksimeter wat gewoonlik oor jou vinger pas.
Huawei-gesondheid
Huawei-gebruikers kan die Huawei Health-app gebruik vir gesondheidsdoeleindes, met ʼn treë-teller, hartmonitor, en ʼn spesiale slaap-modus.
Fatsecret
Fatsecret vertaal dalk nie so lekker nie, maar dit is wel ʼn heel handige app wat kan help om jou totale kalorieë te tel. Dieselfde app kan jou ook help om jou dieet te onthou, of jy kan loer deur resepte.
Hospitale en dokters
Hoe gemaak met mediese vrae, doktersafsprake, of ongelukke? Probeer hierdie vir hospitale en dokters.
HealthDart en Kena Health
As jy ʼn gesondheidspraktisyn wil raadpleeg oor ʼn brandende kwessie, hetsy fisies of emosioneel van aard, kan apps soos HealthDart en Kena Health jou toegang vergemaklik.
Apps soos hierdie twee verbind jou met ʼn geregistreerde verpleegkunskenner of dokter, wat die regte raad kan gee of selfs verwys na die korrekte spesialis vir die volgende stap.
Ambulansdienste kan ook ontbied word met behulp van hierdie apps.
Vind ʼn dokter
SA Doctors App vergemaklik die proses van soek vir die regte dokter of spesialis. Meer as 100 000 plaaslike dokters is hier gelys, van algemene praktisyns tot oor-neus-en-keelkenners.
Slang(e) in die gras
Enigiemand kan deur ʼn slag gepik word, maar weet jy wat om te doen in so ʼn geval?
Die Afrika-slangbytinstituut het sy eie app wat jou die belangrikste inligting kan gee op die noodsaaklike tydstip.
Al is jy geen slangkenner nie, sal hierdie app jou help om die slang te identifiseer – en vertel presies wat om volgende te doen vir veiligheid.
Babas en kindersorg
Vir die versorging van beide mammas en hul babas het ons hierdie oulike apps gevind.
As jy hulp nodig het met babasorg, voel jy dieselfde as enige ma in vorige eeue, maar vandag is meer inligting beskikbaar deur apps.
Medi-Clinic se baba-app kan gebruik word om ʼn skedule te skep, maar het ook ʼn hospitaalgids vir ma’s wat meer wil weet.
Hierdie app is deur die gesondheidsdepartement geskep. MomConnect gee vir jou van die nodigste inligting oor swangerskap en babasorg op een plek – en dit is beskikbaar in elf tale.
Laat weet ons in die kommentaarafdeling watter apps jy op jou slimfoon gebruik?