Gesprekke op WhatsApp-groepe kan jou dalk jou werk kos

(Foto: Verskaf)

As jy dink die gesprek wat jy met jou groep kollegas gehad het, is ʼn geheim en kan nie jou werk of goeie naam in gedrang bring nie, dink weer.

Volgens Nicol Myburgh van CRS Technologies, ʼn verskaffer van menslike hulpbrondienste en oplossings, is die beste manier om te verhoed dat jy in ʼn stryd beland of selfs jou werk verloor, om nie WhatsApp te gebruik om jou frustrasies met jou kollegas te deel nie, maak nie saak hoe privaat jy mag dink die betrokke groep is nie.

As daar ʼn WhatsApp-groep met ʼn aantal kollegas gestig is om private en vertroulike maatskappy-inligting te bespreek, of om te praat oor hoe swak werknemers behandel word of selfs net te gesels oor die lewe by die werk, moet jy ligloop, meen Myburgh.

“As die gesprekke lelik draai, kan dit deur ʼn werkgewer as gronde vir ontslag gebruik word. Jy mag dink die groep is privaat, maar dit kan eerder beskou word as ʼn soort openbare ruimte, wat beteken die inligting daarop is toeganklik en bruikbaar vir enigiemand.”

Myburgh verduidelik dit kom alles neer op wat onderskeidelik as ʼn private ruimte en ʼn openbare ruimte beskou word.

“Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi), wat vanaf 1 Julie amptelik in werking tree, sit hierdie konsep noukeurig uiteen.

“As een persoon ʼn persoonlike WhatsApp aan ʼn ander stuur en hulle word gevolglik afgedank, sal dit nie wettig wees nie, aangesien hierdie gesprek volgens dié definisie in ʼn private ruimte plaasgevind het. As die gesprek egter in ʼn groep plaasvind, verander die reëls en kan dit as ʼn soort openbare ruimte beskou word.”

Myburgh voeg by dat ʼn werknemer ontslaan kan word indien hy of sy neerhalende opmerkings in ʼn WhatsApp-groep maak, kwaad stook of enige ander negatiewe wisselwerking op so ʼn groep het.

Maroela Media het vroeër berig dat pres. Cyril Ramaphosa op 1 Junie die Wet op Kubermisdaad onderteken het. Volgens die wet sal dreigende, beledigende of eksplisiete boodskappe wat op apps, soos WhatsApp, gestuur word, kan lei tot hofsake oor saakbeskadiging of die aanhitsing van geweld teenoor ʼn persoon of groep. Dit kan ʼn mens verder in die sop laat beland oor wat jy op die internet of op sosiale media plaas.

“As jy een-tot-een-gesprekke met ʼn kollega het oor ʼn probleem in die werksomgewing is dit relatief veilig. As jy met vriende en familie praat, is jy ook betreklik veilig. As jy op ʼn groepsplatform is, kan iemand jou wel aanmeld en jou woorde in die hof teen jou gebruik.”

Myburgh sê die beste praktyk is eenvoudig: “Moenie oor jou werkgewer op enige openbare ruimte kla nie, van WhatsApp tot Twitter of Facebook.”

Hy sê daar is geen reël wat tans bevestig hoeveel mense in ʼn groep as ʼn openbare ruimte in WhatsApp beskou word nie. “Dit beteken ʼn lang en uitgerekte hofgeding as jy wel besluit om die beslissing van jou werkgewer hieroor te betwis. Daar is wel gevalle waar so ʼn hofsaak in die guns van ʼn werknemer bevind het, maar die skade aan die verhouding is dan reeds aangerig.”

Myburgh sê verder dit is belangrik om alles te oorweeg wat jy op ʼn openbare forum wil sê.

“Moenie die fout maak om iemand op sosiale media te beswadder nie.

“Ja, jy kan die bewering uitdaag dat jy nie die kommentaar op ʼn openbare forum geplaas het nie. Jy kan self verduidelik dat jy die kommentaar geskryf het met die verwagting dat dit in privaatheid gedoen word, maar die kans bestaan steeds dat jy jou werk en goeie naam kan verloor.

“Jou verhouding met jou werkgewer sal hierna nooit dieselfde wees nie, so dit is beter om die situasie eerder van die begin af heeltemal te vermy sodat jy nooit in sodanige posisie beland nie.”

Myburgh meen sosiale media kan maklik as ʼn wapen gebruik word, en die beste praktyk is om te verseker dat jy nooit iets op hierdie platforms sê wat maklik teen jou ingespan kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.