Google gee vasteland finansiële inspuiting

(Foto: Brett Jordan/Unsplash)

In ’n poging om stukrag aan die digitale transformasie in Afrika te gee, het die tegnologiereus Google, wat deur die Amerikaanse Alphabet-groep besit word, gesê hy beplan om oor die volgende vyf jaar nog sowat $1 miljard (R15 miljard) in die vasteland te belê.

“Ek is opgewonde om ons verbintenis tot die vasteland te herbevestig. Dié finansiële inspuiting sal nie net vinniger en verbeterde internetverbinding in die hand werk deur middel van die ondersese kabel Equiano nie, maar sluit ook steun aan sakeondernemings in,” het Sundar Pichai, uitvoerende hoof van Google en Alphabet op die eerste Google for Africa- aanlyn konferensie gesê.

Google se Equiano-kabel sal Afrika met Europa verbind en landingsplekke in onder meer Suid-Afrika, Namibië, Nigerië en St. Helena hê. Die kabel sal Nigerië waarskynlik in Maart volgende jaar bereik en later in 2022 ’n landingsplek in Kaapstad kry.

Volgens Pichai is daar die afgelope dekade groot vordering gemaak om die internet meer toeganklik, bekostigbaar en bruikbaar vir die inwoners van Afrika te maak. “Die Equiano-kabel sal internetspoed drie keer vinniger maak en datakoste met meer as 20% laat daal. Baie werk lê egter nog voor.”

Sakesteun

Google het tydens die geleentheid ook sy Africa Investment Fund bekendgestel waardeur hy $50 miljoen in nuwe ondernemings gaan belê. Dié opkomende sakelui sal onder meer toegang tot Google se netwerk en tegnologie geniet.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kleinsakeontwikkeling, het gesê Google het sedert die uitbreking van die koronaviruspandemie baie gedoen om klein en mediumgrootte ondernemings te help.

“Google het die afgelope 12 maande byna 500 000 ondernemings in Afrika bygestaan om aanlyn te kom en nuwe kliënte te bereik.”

Nitin Gajria, besturende direkteur van Google in Afrika, het op sy beurt gesê die innovering in Afrika maak hom baie opgewonde. “Niemand sal die vasteland se uitdagings beter die hoof kan bied as die jong, plaaslike ontwikkelaars en opkomende ondernemings nie. Daarom het ’n verdieping van ons vennootskap met en ondersteuning van innoveerders en entrepreneurs in Afrika baie sin.”

Die maatskappy het bygevoeg dat hy hande met die niewinsgewende organisasie Kiva gaan vat om laerentekoerslenings ter waarde van $10 miljoen aan klein ondernemings en entrepreneurs in Ghana, Kenia, Nigerië en Suid-Afrika te bied om die ekonomiese las wat deur Covid-19 veroorsaak is, te help verlig.

“Kleinsakelui in Afrika sukkel dikwels om kapitaal te bekom omdat hulle nie oor die nodige waarborge beskik wat deur banke vereis word nie. As krediet wel verleen word, is rentekoerse gewoonlik baie hoog.”

Google gaan voorts sy program wat hy verlede jaar in Kenia in vennootskap met Safaricom aangepak het en waarmee kliënte hul 4G-slimfone kan afbetaal, oor die hele vasteland uitbrei in samewerking met selfoonoperateurs soos MTN, Orange en Vodacom.

“Na verwagting sal ongeveer 1,7 miljoen werkgeleenthede in Nigerië en Suid-Afrika teen 2025 geskep word namate die digitale ekonomie groei,” het Google gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.