Google: Nuwe tale, tegnologie en katoeters

Google Pixel 6A (Foto verskaf)

Hoewel sommige van sy vertalings ’n mens se hare laat rys en taalpraktisyns nog lank nie slapelose nagte oor werksekerheid hoef te hê nie, is Google se aankondiging dat hy nóg 24 tale by sy Google Translate-funksie gevoeg het tog welkome nuus én ’n tegnologiese boksprong op die gebied van kunsmatige intelligensie.

Google het sedert sy ontstaan in 1998 ’n onmisbare werkwoord in byna elke huishouding geword en spog met meer as 4,3 miljard gebruikers (meer as die helfte van die wêreldbevolking en 92% van die wêreld se internetgebruikers). Google se houermaatskappy Alphabet se markwaarde staan op meer as R1,5 biljoen (“trillion”), wat dit die vierde waardevolste maatskappy ter wêreld maak.

Die Suid-Afrikaanse tale wat op die nuwe vertaallysie pryk, is Pedi en Tsonga. Afrikaans, Sotho, Xhosa en Zoeloe is reeds deel van dié diens. Altesaam 133 tale is nou op Google Translate beskikbaar.

Volgens Google help Google Translate om taalgrense af te breek en gemeenskappe reg oor die wêreld met mekaar te verbind. “Ons wil taaltoeganklikheid vir nóg meer mense ontsluit, veral diegene wie se tale nie in hoofstroomtegnologie verteenwoordig word nie. Die 24 nuwe tale word deur meer as 300 miljoen mense gepraat,” het die tegnologiereus gesê.

Sanskrit is die “kleinste” nuwe taal wat bygevoeg is. Dit word deur ongeveer 20 000 mense in Indië gepraat. Het jy geweet Mohandas Gandhi se bynaam “Mahatma”, wat “groot siel” beteken, is ʼn Sanskritbenaming?

Die taal met die meeste gebruikers op die nuwe lys is Bhojpuri, wat deur sowat 50 miljoen mense in Noord-Indië, Nepal en Fidji gepraat word. ’n Engelse dialek genaamd Sierra Leonese Krio maak ook sy buiging op Google Translate. Tsonga en Pedi word deur onderskeidelik 7 miljoen en 14 miljoen Suid-Afrikaners gepraat.

Google Pixel 7 en Pixel 7 Pro (Foto verskaf)

Ofskoon sy vertalings allermins perfek is, beskou Google die byvoeging van die nuwe tale as ’n tegniese mylpaal. Dit is die eerste keer wat tale (wat nie ’n groot woordeboekskatkis of stapels vertaalde teks het nie) met behulp van masjienvertaling genaamd Zero-Shot bygevoeg is. ’n Rekenaar “sien” slegs brokkies eentalige teks en “leer” dan dié taal aan ten einde dit in ’n ander taal om te (kan) skakel.

Dié nuwe tale nou op Google Translate

  • Assamees – 25 miljoen gebruikers (Noordoos-Indië);
  • Aymara – 2 miljoen gebruikers (Bolivia, Chili en Peru);
  • Bambara – 14 miljoen gebruikers (Mali);
  • Bhojpuri – 50 miljoen gebruikers (Noord-Indië, Nepal en Fidji);
  • Dhivehi – 300 000 gebruikers (Maledive);
  • Dogri – 3 miljoen gebruikers (Noord-Indië);
  • Ooi – 7 miljoen gebruikers (Ghana en Togo);
  • Guarani – 7 miljoen gebruikers (Paraguay, Bolivia, Argentinië en Brasilië);
  • Ilocano – 10 miljoen gebruikers (in die noorde van die Filippyne);
  • Konkani – 2 miljoen gebruikers (Sentraal-Indië);
  • Krio – 4 miljoen gebruikers (Sierra Leone);
  • Koerdies (Sorani) – 15 miljoen gebruikers (Irak en Iran);
  • Lingala – 45 miljoen gebruikers (Demokratiese Republiek van die Kongo, Republiek van die Kongo, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Angola en die Republiek van Suid-Soedan);
  • Luganda – 20 miljoen gebruikers (Uganda en Rwanda);
  • Maithili – 34 miljoen gebruikers (Noord-Indië) gebruik word;
  • Meiteilon (Manipuri) – 2 miljoen gebruikers (Noordoos-Indië);
  • Mizo – 830 000 gebruikers (Noordoos-Indië);
  • Oromo – 37 miljoen gebruikers (Ethiopië en Kenia);
  • Quechua – 10 miljoen gebruikers (Peru, Bolivia, Ecuador en omliggende lande);
  • Sanskrit – 20 000 gebruikers (Indië);
  • Pedi – 14 miljoen gebruikers (Suid-Afrika);
  • Tigrinya – 8 miljoen gebruikers (Eritrea en Ethiopië);
  • Tsonga – 7 miljoen gebruikers (Eswatini, Mosambiek, Suid-Afrika en Zimbabwe); en
  • Twi – 11 miljoen gebruikers (Ghana).

Nuwe Google-katoeters

 

Google Pixel Buds-oorfone. (Foto verskaf)

Google het benewens die uitbreiding van Google Translate ook verskeie nuwe produkte tydens ’n regstreekse stroming van sy jaarlikse Input/Output-konferensie uit Kalifornië in die VSA bekendgestel. Die nuwe katoeters wat later vanjaar of in 2023 beskikbaar sal wees, sluit in nuwe Pixel-fone, ’n (eerste) slimhorlosie, oorfone en ’n tabletrekenaar.

Die Pixel 6A-slimfoon is die bekostigbare boetie van die Pixel 6 en sal $449 (oftewel ’n rapsie meer as R7 200) kos. Die Pixel 6A is vanaf Julie in drie kleure beskikbaar en word uit herwinde aluminium vervaardig. Dié buksie spog met ’n Tensor-mikroskyfie (Google se eie skyfie), 6.1 duim-skerm en 12-megapixel-kameras (teenoor die Pixel 6 se 50 megapixels).

 Die Pixel Watch, wat Google Maps, Google Wallet en Google Home ondersteun en met Fitbit-integrasie spog, sal later vanjaar saam met Pixel 7-slimfone (met onderskeidelik twee en drie kameras) uitgerol word. Dit is Google se eerste slimhorlosie en hy hoop om ’n stewige sny van die slimhorlosiemarkkoek (waarvan Apple sowat 30% hou) in te palm. Die slimhorlosiemark het volgens Counterpoint Research in 2021 met 24% gegroei.

Die Pixel Buds Pro is Google se eerste oorfone wat met aktiewe geraasonderdrukking (“active noise cancelling” of ANC) spog. ANC stel ’n mens in staat om iemand se stem duidelik te kan hoor terwyl geraas soos wind uitgeskakel word. Dié waterbestande oorfone sal jou $199 (sowat R3 200) uit die sak jaag en in vier kleure beskikbaar wees. Die Buds Pro sal sowat sewe ure se luistertyd bied asook Bluetooth-skakeling tussen verskillende toestelle moontlik maak.

’n Versterkterealiteitsbril (“augmented reality” of AR) is ook tydens die konferensie gedemonstreer, spesifiek die vermoë om tale outomaties te vertaal. Dit wil sê die draer kan ’n intydse vertaling op die lense lees van wat ’n ander persoon sê.

Ander nuwighede sluit in ’n tabletrekenaar, die Android 13-bedryfstelsel, opgeknapte veiligheidsmaatreëls en ’n dikker Google Wallet (vir die e-berging van meer as net jou bankkaarte). Google Maps word ook verbeter om meer geboue te vertoon, 3D-aansigte van stede te bied en die brandstofdoeltreffendste roetes (dankie, Google!) voor te stel.

Google, wat vir die eerste keer syfers oor die aantal Android-foonaktiverings gedeel het (dit het in 2021 die een miljard-toestelmerk oorgesteek), kan stewige mededinging van Apple en Samsung verwag wanneer hy sy Pixel 7-slimfone in die Amerikaanse herfs bekendstel. Apple sal na verwagting sy iPhone 14-reeks in September vrystel en daar word voorts gegons dat Samsung aan ’n splinternuwe opvoufoon vroetel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.