Google vier sy 18de verjaarsdag

Google vier sy 18de verjaarsdag met 'n spesiale Google Doodle

Google vier sy 18de verjaarsdag met ‘n spesiale Google Doodle

Google vier Dinsdag sy 18de verjaarsdag met ʼn spesiale Google Doodle wêreldwyd op webblaaiers.

Dié internetreus het in 1998 sy deure oopgemaak met die stigterslede Larry Page en Sergei Brin.

Die maatskappy vier tradisioneel sy verjaarsdag op 27 September, maar dit wil voorkom of Google self nie seker is wanneer dit tot stand gekom het nie. Sedert 2006 vier die maatskappy die verjaarsdag op 27 September, maar in 2005 was dit op 26 September. In 2004 is die verjaarsdag-doodle op 7 September vertoon en in 2003 op 8 September.

Die maatskappy se eie geskiedenis dui slegs 1998 aan, met ʼn verwysing na 4 September.

Die idee vir dié soekenjin het in 1996 al ontstaan as ʼn navorsingsprojek by Stanford University, toe Page en Brin met die idee vorendag gekom het vir ʼn soekenjin wat webwerwe op ʼn ranglys sou plaas met hoeveel ander webwerwe daarna verwys.

Google het in 2013 na die verwarring oor sy verjaarsdagdatum verwys en erken dat hy sy verjaarsdag al op vier verskillende datums gevier het, maar dit wil voorkom of 27 September nou die aangewese datum is. Die maatskappy het dit moontlik gekies omdat dit die datum was wat die verjaarsdag-doodle in 2002 vir die eerste keer gebruik is.

Google is, naas Apple, die wêreld se magtigste maatskappy, met ʼn markwaarde van ongeveer $541 miljard. Page en Brin is onderskeidelik 12de en 13de op Forbes se lys van die rykste mense ter wêreld, met ʼn nettowaarde van $35,2 miljard en $34,4 miljard onderskeidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.