Helfte van jou Twitter-skakels dalk net vir die spoke

Foto: Pixabay, Geralt

Foto: Pixabay, Geralt

ʼn Onlangse studie deur Microsoft en die Universiteit van Colombia het bewys dat meer as helfte van die skakels wat op Twitter gedeel word, nooit geklik word nie.

Dié studie, wat oor ʼn maand gedoen is en bykans 2,8 miljoen skakels wat op Twitter gedeel is, ingesluit het, het bewys 59% van alle internetskakels wat op dié sosialemediaplatform gedeel word, nooit oopgemaak word nie en dit sluit mense in wat die skakels deel.

Arnaud Legout, een van die navorsers, het gesê die studie het bewys die gebruik van sensasionele opskrifte met die plasing van artikels het tot minder klikke gelei as wat verwag sou word.

“Daar is bevind dat sensasionele of misleidende opskrifte beter is vir gebruikers wat iets oor hulself wil sê as om gebruikers te noop om stories te klik sodat hulle na ʼn webwerf herlei kan word,” het Legout verduidelik.

Microsoft verduidelik hoewel daar groot interaksie met nisartikels is, byvoorbeeld deur mentions, is die persentasie teenoor gebruikers wat klik, baie minder.

Dié studie het glo ook bewys dat Twitter nie noodwendig as ʼn ‘lewendige’ platform beskou kan word nie. “Daar is bevind dat daar selfs ná 24 uur nog interaksie was met skakels, foto’s en video’s op Twitter, wat bewys inligting is nie noodwendig vir ‘net hier en nou’ nie.”

Lees die volledige studie hier.

Bron: Fortune

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.