Hier is SA se gewildste sosialemedianetwerke

TikTok se gewild het drasties in Suid-Afrika gegroei. (Foto: TikTok.)

Die jongste South African Social Media Landscape-verslag, wat vandeesweek deur Ornico en World Wide Worx uitgereik is, wys daar is plaaslik tans ’n paar groot skuiwe in die gebruik van sosialemediaplatforms.

Volgens die studie van sosialemediagebruikers se tendense is Facebook steeds die gewildste sosialemediaplatform vir bemarking, maar TikTok se gewildheid het drasties onder verbruikers en handelsmerkname gegroei. Hierdie jaarlikse studie is voor die afsonderingstydperk gedoen.

Dié verslag word ter wille van bemarkers saamgestel om te wys wat die jongste aanlyn tendense is. Dit beskryf onder meer watter sosialemedianetwerke die meeste aktiewe lede het en hoe mense dit gebruik.

Die top-10 sosiale netwerke in Suid-Afrika, volgens aktiewe gebruikers, is:

  1. WhatsApp 10,1 miljoen
  2. Facebook 9,1 miljoen
  3. YouTube 9,1 miljoen
  4. Instagram 4,7 miljoen
  5. Twitter 4,7 miljoen
  6. LinkedIn 3,7 miljoen
  7. Pinterest 3,4 miljoen
  8. Tinder 3,2 miljoen
  9. Wechat 1,2 miljoen
  10. Snapchat 1,2 miljoen

Mense wat sosiale media gebruik, word basies in twee groepe volgens hul tegnologiese geletterdheid verdeel: dié wat entoesiasties nuwe tegnologie aangryp en dié wat stadiger leer en later aansluit.

’n Groot verrassing in die verslag is dat TikTok plaaslik geweldig groei, ʼn tendens wat voor die afsonderingstydperk wêreldwyd waargeneem is. Wanneer jy by TikTok aansluit, kan jy ’n kort video van 3 tot 60 sekondes plaas. Mense kan hul kreatiwiteit uitleef deur ’n liedjie in die agtergrond van die video te laai en ook spesiale effekte by die beeld te voeg. Daar is onder meer video’s met selfdoen-tegnieke, speletjies met wilde diere, ’n rugbyspan wat braai en mense wat allerhande verspotte dinge aanvang.

Twitter blink uit waar mense hul persoonlike menings wil lug en om die jongste nuus te lees sodra dit beskikbaar is. Die top-4 Suid-Afrikaanse stede wat die meeste aktiwiteit op Twitter genereer, is Johannesburg, Pretoria, Kaapstad en Durban.

’n Gewilde plek om bekendes en sterre te volg, is Instagram. Dit het begin as ’n tuiste vir entoesiaste van fotografie, maar het ontwikkel tot ’n buigsame platform waar mense foto’s en video’s uit hul alledaagse lewe deel om sosiale konneksies te bou.

Maatskappye, professionele beroepslui en entrepreneurs skep ’n kontaknetwerk op LinkedIn. Dit bied ’n geleentheid vir mense wat met hul eweknieë in enige bedyf wil kontak maak ter wille van netwerk- en werkskepping. Die grootste groei die afgelope jaar op LinkedIn was by regeringsorganisasies.

Suid-Afrikaners sal altyd ’n manier vind om sosiaal te verkeer, of dit nou om die braaivleisvuur, met die stuur van ’n grappie, of ’n spogvideo van jou Wunderkind se jongste manewales is. Deel hieronder in die kommentaar watter sosiale netwerke jy die meeste geniet.

Laai die volledige verslag direk by Ornico af.

Volg Maroela Media op Facebook, Twitter, Instagram, YouTube, WhatsApp en Telegram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.