Hoe veilig is jou (kuber)geld?

Eva Crouwel, hoof van finansiële misdaad van die kriptoverhandelingsplatform Luno. (Foto: Verskaf)

Ofskoon bedrog in die finansiëledienstebedryf in Afrika skerp aan die toeneem is, veral in Suid-Afrika, is finansiële misdaad wat met kubergeldtransaksies verband hou, aan die afneem. Só sê Eva Crouwel, hoof van finansiële misdaad van die kriptoverhandelingsplatform Luno.

Die wêreldwye kredietburo TransUnion het vroeër na berig word gesê bedrog en kriminele aktiwiteite wat met finansiële dienste in Suid-Afrika verband hou, het met meer as 187% toegeneem. Hierteenoor het bedrog in die finansiëledienstesektor wêreldwyd met 149% toegeneem.

“Daar is beslis wel ’n afname in onwettige kriptotransaksies volgens die blokkettingontledingsmaatskappy Chainalysis,” sê Crouwel.

“Die Verenigde Nasies se 2020-verslag oor handel en ontwikkeling raam dat bedrog ten bedrae van $88,6 miljoen elke jaar in Afrika alleen voorkom. In 2019 is 2,1% van alle wêreldwye kriptotransaksies as onwettig gekategoriseer, maar in 2020 het hierdie syfer tot 0,34% van alle transaksies in digitale geldeenhede gedaal. Tog beloop dié onwettige transaksies se waarde steeds ’n astronomiese $10 miljard,” sê sy.

In Noord-Korea alleen het kubermisdadigers in 2021 minstens sewe aanvalle op kriptoplatforms geloods en byna $400 miljoen se digitale bates gebuit, het CNN berig. Hierdie aanvalle was hoofsaaklik gerig op beleggingsfirmas en gesentraliseerde beurse (“exchanges”), en het gebruik gemaak van kuberroofaas (“phishing”), kode-uitbuiting en gevorderde sosiale ingenieurswese om fondse uit organisasies se digitale beursies te roof.

Redes waarom skelms munt slaan

Volgens Crouwel is daar ’n perfekte storm van drie hoofredes vir die toename in finansiële misdaad in Suid-Afrika. “Eerstens is finansiële kennis in Suid-Afrika beperk en in kombinasie met die finansiële swaarkry wat deur Covid-19 meegebring is, is mense op soek na vinnige en goeie opbrengste.

“Tweedens is kripto ’n nuwe tegnologie. Gebruikers is onseker oor hoe dit werk en hoe om hulself te beskerm. Voorts is persoonlike data in Afrika nie goed beskerm in vergelyking met Oosterse en Europese markte nie, al het die Popi-wet in 2021 hier van krag geword. Dit maak dit maklik vir mense met slegte bedoelings om persoonlike inligting in die hande te kry,” verduidelik sy.

Volgens haar het Luno 9 miljoen klante in 40 lande, en in ongeveer 95% van dié groep se finansiëlemisdaadsake, is klante bedrieg. “Dit wissel van tradisionele ‘word-vinnig-ryk’-swendelary tot gevalle waar klante mislei word om hul aanmeldinligting aan bedrieërs te gee wat voorgee dat hulle die maatskappy verteenwoordig.”

Regulering, of die gebrek daaraan, is ’n belangrike faktor, sê Crouwel. “Ons ondersteun die regulering van kriptogeld ten volle en glo dat dit sal help om bedrog te bekamp. Maar die realiteit is dat selfs hoogs gereguleerde sektore finansiële misdaad ervaar, veral swendelary,” sê sy.

Aangesien kripto so nuut is, het kripto-ondernemings ’n belangrike rol om te speel om klante te leer hoe om veilig sake te doen en hulself te beskerm. “Luno gebruik byvoorbeeld eksterne blokkettingmoniteringsmaatskappye en beperk kriptobewegings wanneer die data aandui dat klante in gevaar is.

“Interessant genoeg is daar geen spesifieke demografie vir slagoffers nie, ten spyte van die wydverspreide persepsie dat swendelaars óf onkundige bejaardes teiken óf die jonger geslag wat vinnig geld wil maak.”

(Foto: iStock)

Wees wakker en waaksaam

Luno het onlangs die bestaan ​​van sy klante se kubergeld onafhanklik deur Mazars Suid-Afrika laat nagaan. “Dié groep se reserweverslag bevestig aan kripto-eienaars dat hul beursies in werklikheid die spesifieke kriptogeldeenheid bevat en vermy die situasie waar mense dink dat hulle digitale bates het wat nie bestaan ​​nie.”

Die finansiëledienstebedryf volg patrone en bedrogmarges. “Terwyl die risiko-aptyt tussen instellings verskil, sal tradisionele finansiëlediensverskaffers soos banke oor die algemeen bedrogverliesdrempels van 5% of selfs so hoog as 8% as aanvaarbaar beskou.

“Trouens, volgens ’n onlangse PWC-verslag oor bedrogverliese word die meeste bedrog nie eers verder ondersoek nie. Luno se drempel is baie laer teen tussen 0,5% en 1,5%, afhangend van die streek. Hoewel dit dalk ’n gewaagde stelling is, kan Luno op grond van hierdie syfers bevestig dat ons sekuriteit beter is as dié van banke.”

Klante moet egter ook (self) wakker en versigtig wees. Crouwel het die volgende wenke om jou kubergeld veilig te hou:

  • Gebruik ’n erkende, betroubare verhandelingsplatform, aangesien die platform se belegging in sekuriteit sal verseker dat jou geld veilig bly.
  • Die swakste skakel is die mens. ’n Mens vind selde werklike digitale inbraak wanneer dit by kriptobedrog kom.
  • Dit is so dat kriptogeldeenhede wisselvallig is, maar wees bewus daarvan dat as iets te goed klink om waar te wees, dit gewoonlik is.
  • Behandel jou aanmeldinligting met dieselfde omsigtigheid as wat jy jou bankaantekenbesonderhede doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
OW

Die Popi-wet van 2021 beteken ‘n ronde nul.Persoonlike inligting lê die wêreld vol.Banke,Hospitale,Versekeringsmaatskappye,Mediese fondse,Motorhandelaars noem maar op gee inligting uit.As telefoon-nommers eers uitgegee is,word dit gehou deur die maatskappye tot in lengte van dae.Gelukkig is daar tegnologie om dit te blok.Kriptogeld kan maar by my verbygaan.Die moderne weergawe van tussen neus en ore verdwyn.