Hou dié selfoon-Dawid dop

Xiaomi se Mi Mix Fold-foon. Dié voubare foon is in Maart vanjaar bekend gestel. (Foto: Xiaomi)

Hy’s allermins ’n nuwe speler in die selfoonspan, maar die Chinese groep Xiaomi, wat aanvanklik sagteware ontwikkel het en sedert 2011 ook slimfone van goeie gehalte teen bekostigbare pryse bied, wys nou hakskene vir markgoliats Samsung en Apple.

Volgens die gesaghebbende Canalys se kwartaallikse slimfoonverkopeverslag het Xiaomi in die kwartaal tot einde Junie 83% meer fone verskeep teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Die jongste verslag van Counterpoint Technology Market Research beaam dié syfers en sê Xiaomi se verkope het op ’n maandgrondslag in Junie met 26% gestyg, wat dit die snelgroeiendste handelsmerk maak.

Hierteenoor kon Samsung sy syfers met slegs 15% opstoot en Apple syne met 1%. Die Chinese slimfoonvervaardiger BBC Electronics se handelsmerke Vivo en Oppo moet ook nie as veergewigte beskou word nie. Dié twee groepe het die afgelope jaar onderskeidelik 28% en 27% meer fone verkoop.

Xiaomi, wat die afgelope dekade reeds meer as 800 miljoen slimfone verkoop het, het aan die einde van die tweede kwartaal vanjaar die silwermedalje voor Apple se neus weggeraap. Samsung klou net-net aan die goud vas, terwyl Apple tot op die derde trap van die verskepingspodium geknikker is.

Die Suid-Koreaanse tegnologiereus Samsung hou tans 19% van die wêreldwye markaandeel, met Xiaomi kort op sy hakke op 17% en Apple op 14%. Vivo en Oppo hou elk 10%.

Ofskoon byna een uit elke vyf fone wat verkoop word (nog) die Samsung-handelsmerk dra, wen Xiaomi al hoe vinniger veld, veral in Latyns-Amerika en Afrika waar sy verkope die afgelope jaar met onderskeidelik 300% en 150% opgeskiet het.

Een van Xiaomi se Mi-ervaringswinkels in China. Die groep beplan na berig word om binnekort drie van dié winkels plaaslik te open. (Foto: Xiaomi)

Xiaomi kraai reeds vir ’n geruime tyd koning in lande soos Indië en blink ook uit wat huisoutomatisering betref. Die groep het egter nog ’n beperkte vastrapplek in Suid-Afrika – iets waaruit hy na berig word blitsvinnig munt wil slaan.

ITWeb het vroeër berig Xiaomi het ’n verspreidingsooreenkoms met Vodacom beklink en beplan om binnekort verspreidingsooreenkomste met ander selfoongroepe te sluit en minstens drie ervaringswinkels, genaamd Mi Stores, in Suid-Afrika te open.

Hoewel Suid-Afrika nog enorme treë op die gebied van 5G-dekking moet gee, wil Xiaomi sy hand op ’n deel van dié mark lê deur goedkoper 5G-fone na Suid-Afrika te bring.

Volgens Statista het Samsung in Junie vanjaar plaaslik koning gekraai met 45,28% van die markaandeel van verskaffers van mobiele toestelle in Suid-Afrika. Huawei was tweede met sowat 29%, gevolg deur Apple met ’n 16%-markaandeel.

Volgens Ben Stanton, navorsingsbestuurder van Canalys, is Xiaomi se fone tussen 40% en 75% goedkoper as Samsung en Apple se produkte, ’n aanloklike wortel voor vuisvoos verbruikers se neuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Phil ·

Pasop vir huawei, xiaomi en ander chinese fone.. die sjinese kan nie vertrou word met persoonlike data nie

kolonel ·

Ja, en jy kan Apple, Microsoft, Facebook, Google 100% vertrou met jou data. Haha !

koos ·

Ek is nog BAAAIE happy met my Redmi 4A foon. Toegegee, sy fotos is van laer kwaliteit as die nuutste pocket rockets maar ek het letterlik duisende Rande gespaar i.v.g. met die jappies en hulle designer store Samsung en Apple fone. Hoeveel van ons gebruik regtig meeste funksies op hulle fone? Onthou net, jy het daarvoor betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.