Is jy ʼn sosialemedia­roofkyker?

Juanita Vorster (Foto: Verskaf)

As jy daarvan hou om op enige gegewe oomblik net rustig na inskrywings op sosiale media te loer sonder om ʼn daadwerklike bydrae te maak, is jy moontlik ʼn roofkyker.

Só sê Juanita Vorster, ʼn strateeg van die kommunikasie-agentskap At That Point.

“Die benaming is baie interessant, want dit impliseer dat gebruikers skuldig voel daaroor dat gebruikers kyk, maar nie bydra nie,” sê Vorster. “Om slegs te ontvang op sosiale media is absoluut toelaatbaar, en is die voorgestelde beginpunt van waardevolle deelname. Dit is wanneer iemand sosiale media wil aanwend vir bemarking of reputasiebestuurdoeleindes dat slegs kyk nie meer genoeg is nie.”

Die waardebydraes op sosiale media is volgens Vorster groot. Die aard van sosiale media maak dit moontlik, maklik, en goedkoop om idees en inligting met ʼn groot klomp mense te deel.

“Wanneer idees en inligting gedeel word, stel dit mense in staat om besluite te neem oor die aankoop van produkte en dienste. Goeie kwaliteit idees en inligting bou ook die reputasie van die persoon wat dit deel, en dit lei na beter werksgeleenthede of sakegroei. Wat meeste mense daarvan weerhou om aktief by te dra tot die inligting beskikbaar deur sosiale media is ʼn kombinasie van onkunde en vrees.”

Hier is roofkykers se grootste vrese:

Vrees vir minder privaatheid

Mense het ʼn vrees dat hulle geen privaatheid meer sal hê nie.

“Die oplossing vir dié vrees is tweeledig. Elke sosialemediaplatform het heelwat privaatheidverstellings en funksies wat ongewensde oë van persoonlike inligting weghou, en netjies kan klaarspeel met kuberboelies. Die volgende stap is om ten alle tye verantwoordelik op te tree wanneer jy sosiale media gebruik.”

Vrees vir tegnologie

Nog ʼn groot hindernis tot die gebruik van sosiale media is die wanpersepsie dat stewige kennis van die tegnologie van rekenaars en slimfone die beginpunt is.

“Wanneer ek mense oplei om sosiale media te gebruik begin ons by die basiese uitleg van die platforms, en bestee dan tyd aan wat ʼn hutsmerk en die aapstert-teken beteken, en hoe om dit te gebruik,” sê Vorster. “Met daardie basiese kennis uit die weg geruim, verbaas meeste mense hulself deur dan heel gemaklik met die tegnologie-aspek te wees.”

Vrees vir skrywersblok

Sosiale media is lankal nie meer net ʼn klomp sinnelose opdaterings van die daaglikse gang van mense se lewens nie. En om self deel te hê aan die waarde van sosiale media vir bemarkingsdoeleindes, of om ʼn professionele reputasie te bou, is daar ʼn paar doelwitte wat in ag geneem moet word.

“Die heel eerste item waarop besluit moet word, is wat die storie is, of waarvoor jy bekend wil staan. Van daar af moet daar gekyk word kyk na watter soort mense graag opdaterings van die storie wil ontvang, en watter soort idees en inligting gedeel gaan word om die storie te vertel. Die fyner tegnieke van waardevolle sosialemedia-aktiwiteit word mettertyd aangeleer, of kan deur middel van oplees werk of kursusse bekom word.”

Vorster se ZeroToHero- sosialemediawerksessies word op 31 Augustus en 17 Oktober in Centurion, Pretoria, aangebied. Meer inligting is beskikbaar op haar webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

martin cilliers ·

hoekom werk alles dan so mooi op Maroela
en nie op ander media nie ??????????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.