iTickets skep hoop met ‘grootste virtuele gospelbyeenkoms nóg’

iTickets, een van Suid-Afrika se grootste aanlyn kaartjieverkoopwebwerwe, het aangekondig dat dit nou deur tegnologie moontlik is om die wêreld se grootste, regstreekse, virtuele gospelgeleentheid aan te bied.

Dié nuus kom in die lig van die voorsorgmaatreëls wat Sondag deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is in ʼn poging om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Die kaartjiemaatskappy, wat onder meer betrokke was by groot geleenthede soos die Hillsong-, Bethel-, Jesus Culture- en Casting Crowns-musiekkonsert, die Mighty Men- en Worthy Women-byeenkoms, die It’s Time-byeenkoms en Loftus 4 Jesus-samekoms, het Maandag in ʼn verklaring gesê ʼn webdomein is geregistreer wat gebruik gaan word as ʼn kommunikasiemiddelpunt met ʼn regstreekse uitsaaihulpmiddel in ʼn ateljee in Suid-Afrika.

“Sodoende sal ons mense op datum, ingelig, verbind en bemoedig hou. Met tegnologie soos dié kan mense wêreldwyd bereik word deur toestelle soos selfone, rekenaars en televisie,” lui die verklaring.

“Ons het nou ʼn manier gevind om ʼn konsert of preek regstreeks uit te saai. Dit sal die bal aan die rol sit vir die Jesus is King – Trumpet’s Call-konsert, waarvan die kunstenaars en datums nog bekendgemaak sal word. Ons glo ons kan sowat drie miljard kykers wêreldwyd bereik om die goeie nuus van die Evangelie te versprei.”

Die Jesus is King – Trumpet’s Call-konsert sal glo die wêreld se grootste, regstreekse, virtuele gospelgeleentheid wees.

“Die afgelope tien dae was dit noodsaaklik om buite die boks te dink en het dit ons weer eens laat besef hoe belangrik dit is in die tye waarin ons leef. Die wêreld is desperaat, deurmekaar en bang. Maar ons weet hoe om nie in vrees te leef nie.”

iTickets moedig ook die publiek aan om moed te hou onder moeilike omstandighede wat direk verband hou met die koronavirus.

“Elkeen het ʼn vaardigheid, talent of roeping om by te dra tot die samelewing, plaaslik en wêreldwyd. Ons karakter is gevorm gedurende uitdagende tye vir ons nasie, maar nou kan ons die lesse wat ons daaruit geleer het aanwend om ʼn lig te wees vir die res van die wêreld.”

Lesers wat by die geleentheid betrokke wil raak kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.