Ja, jy kan regtig met die maan gepla wees

(Foto: Aron Visuals/Unsplash)

Switserse navorsers het vroeër die maand bevind mense sukkel regtig om te slaap as dit volmaan is, selfs al kan hulle nie dié hemelliggaam sien nie.

Die resultate van ʼn studie met 33 vrywilligers wat in die vaktydskrif Current Biology gepubliseer is, het getoon dat mense langer geneem het om aan die slaap te raak en gedurende ʼn volmaan korter geslaap het.

Die vrywilligers is op twee aparte nagte dopgehou en was nie bewus van die siklus van die maan gedurende hul tyd in die slaaplaboratorium nie.

Navorsers het opgemerk dat mense gemiddeld 19 minute minder geslaap het, en vyf minute langer geneem het om aan die slaap te raak as wanneer daar ʼn nuwe maan was.

“Dit lyk asof die maansiklus wel die mens se slaap beïnvloed, selfs as ʼn mens nie die maan sien nie en nie werklik bewus is van die maan se fases nie,” het Christian Cajochen van psigiatriese hospitaal aan die Universiteit van Basel in Switserland gesê.

Vrywilligers wat aan die studie deelgeneem het, het ook aangedui dat hulle minder uitgerus gevoel het, terwyl hulle ook laer vlakke van melatonien tydens ʼn volmaan getoon het. Dit is die hormoon wat ʼn mens se slaapsiklusse reguleer.

“Na ons wete is hierdie die eerste verslag wat die maan se invloed op objektiewe parameters vir slaap aandui.”

Volgens die navorsers kan nog navorsing help om te bevestig of die maan ook ʼn meetbare uitwerking op gemoedstoestande en verstandelike prestasies het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kerneels ·

My beste helfte slaap altyd sleg met volmaan. “Block out” gordyne ten spyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.