Kansellasiekultuur: Vryheid van mening of onverdraagsaamheid?

(Foto: Pixabay)

Deur Marinda Schutte

“Om karakter te hê, beteken om vas te hou aan jou integriteit wanneer almal om ons alles behalwe integriteit vertoon en druk op jou uitoefen om dieselfde te wees.” – Craig D. Lounsbrough

Kansellasiekultuur (van die Engelse cancel culture) is ʼn frase wat tydens die afgelope dekade ontstaan het en verwys na ʼn vorm van uitbanning, waar ʼn persoon of instansie uit sosiale of professionele kringe geskuif word – hetsy aanlyn, deur sosiale media of in persoon. Daar word gesê so ʼn persoon of instansie is “gekanselleer”. Dit is ʼn tipe boikot om afkeur uit te spreek en sosiale druk uit te oefen.

Kansellasiekultuur beteken dat ondersteuning aan ʼn persoon of instansie onttrek word as daar nie saamgestem word met iets wat hulle sê of doen nie. Dit gaan egter verder as net die onttrekking van ondersteuning. Dit beteken ook dikwels om daardie persoon of instansie tot skande te maak.

Daardie persoon se optrede word as immoreel of onintelligent uitgebeeld, omdat hulle opinie of optrede van ʼn sekere aanvaarbare tendens verskil. Wanneer ons eers iemand gekanselleer het, sien ons nie meer enige waarde in die opponerende opinie nie, maar nou is alles skielik verkeerd met daardie persoon of groep. Dit kan ʼn gevaarlike tendens word.

Die oorsprong van kansellasiekultuur

Die term is relatief nuut. Daar word bespiegel dat die term ontstaan het uit die reaksie op ʼn seksistiese opmerking in ʼn realiteitsreeks op ʼn televisie-musiekkanaal. Na 2015 is die term gebruik vir die boikot van persone of instansies en bespreking daarvan aanlyn of op sosiale media. Die redes wat vir die kansellasie van so ʼn persoon of instansie gegee word, is talryk, maar die belangrikste is die volgende:

  • om te dien as ʼn opvoedingsgeleentheid of om iemand reg te help;
  • om iemand te laat nadink oor die gevolge van sy dade of opmerkings;
  • om onregte soos rassisme en seksisme bloot te stel;
  • om mense te leer om te dink voor hulle praat (of skryf);
  • om iemand verantwoordelik te hou vir hulle optrede of opmerkings.

Die positiewe en negatiewe gevolge van kansellasiekultuur

Die tot-verantwoording-roep van persone vir hul optrede, kan help om dinge soos rassisme, seksisme, seksuele uitbuiting en misbruik van byvoorbeeld fondse of mag te voorkom. Wanneer hierdie sake in die openbaar uitgewys word, het slagoffers ʼn platform. Dit is ʼn rol wat in die verlede hoofsaaklik deur die ondersoekende joernalistiek vervul is. Dit kan help om sosiale verandering te weeg te bring, veral ʼn wanneer onreg uitgewys word.

ʼn Verdere voordeel is dat dit gemeenskappe laat saamstaan teen onreg en misbruik en hierdie gemeenskappe bymekaarbring. Dit is ʼn bekende feit dat ʼn gedeelde vyand twee opponerende groepe gou laat saamstaan. Daar ontstaan ​​woede wanneer ons sosiale onreg aanskou. Dit blyk dat kansellasie mense toelaat om negatiewe emosies vry te laat en geregtigheid te soek. Daarom motiveer dit ons om daardie ongeregtighede reg te stel. In ʼn artikel deur Jared Schroeder en Jessica Maddox, huldig hulle die volgende mening: “Kansellasiekultuur is ʼn ontwikkelende vorm van demokratiese diskoers, waar individue hul vrye spraakregte gebruik om massas te vorm. Hierdie massas oefen druk uit op mense en instellings. ʼn Beter term daarvoor sou ‘aanspreeklikheidskultuur’ wees”. Dit kan dus gesien word as ʼn manifestasie van vryheid van spraak, wat ʼn belangrike demokratiese beginsel is.

Daar is egter ook baie negatiewe gevolge wat hieruit kan spruit. Kansellasiekultuur kan ook gesien word as ʼn vorm van afknouery, wat in ʼn magspel ontaard, waar die individu wat “gekanselleer” word nie toegelaat word om hul standpunt te deel, hulself te verdedig of selfs om verskoning te vra of die misstap reg te maak nie. Die gevaar is dan dat dit juis ʼn kultuur van onverdraagsaamheid skep, in plaas van vryheid van spraak. As iemand skuldig bevind is aan byvoorbeeld geweld of seksuele aanranding, dan moet hulle gestraf word, maar die openbare mening en sosiale media is nie ʼn hof nie en dit kan maklik ontaard in ʼn heksejag wat hand uitruk.

Dit laat ook die vraag ontstaan: volgens watter waardes en norme word geoordeel wanneer ʼn persoon “gekanselleer” word. Dit is ʼn sosiale vraagstuk wat ook met die geweldige invloed van die aanlyn gemeenskap en sosiale media saamhang en bespreek moet word. Aanlyn boeliegedrag neem geweldig toe en ons probeer ons kinders hierteen beskerm en daaroor inlig, maar ons is ook self daaraan blootgestel. Daar word ook twyfel uitgespreek of die openbare vernedering van ʼn persoon werklik verandering in gedrag kan meebring en of dit nie net verdere wangedrag (uit wraak en skaamte) aanmoedig nie. Die invloed wat hierdie optrede op individue en gemeenskappe se geestesgesondheid het, kan nie onderskat word nie.

Die invloed van kansellasiekultuur op geestesgesondheid

Hierdie uitsprake en aksies het ʼn invloed op die “oortreder” (gekanselleerde), die wat aksie neem en op die bystanders. Die gekanselleerde persoon voel verneder, geïsoleerd en verwerp. Dikwels is die persoon nie kans gegee om sy gedrag in oënskou te neem en verskoning te vra nie – iets wat juis nodig is as iemand uit sy foute moet leer en persoonlik moet groei. Dit word dikwels as boeliegedrag ervaar en dit lei tot depressie en angs.

ʼn Persoon het die reg om grense te stel en te besluit wat vir hom of haar aanvaarbaar is en wat nie. Dit beteken ook dat iemand die reg het om ʼn mening uit te spreek. Die persoon of groep wat kansellasie toepas, moet egter voorbereid wees dat die aksie nie die gewenste uitwerking kan hê nie, wat frustrasie en woede kan vererger. Hierdie emosies is ongesond as dit toegelaat word om jou lewe te oorheers.

Vir die persone wat langs die kant staan kan hierdie kultuur ʼn omgewing van vrees en angs skep. Sê nou maar net jy is die volgende een wat (dalk onwetend) iets verkeerd sê of doen? Dit veroorsaak dat mense liewer stilbly, wat natuurlik nie vryheid van spraak in ʼn verdraagsame omgewing aanmoedig nie. Bystanders kan ook skuldgevoelens ontwikkel omdat hulle nie kans sien om iets te doen teen die genoemde onreg nie.

Hoe kan ek myself beskerm?

Dit is belangrik om te besef dat almal verskillende agtergronde, ervarings en oortuigings het. Daar kan dus nie aanvaar word dat wat jy glo en dink, vir almal aanvaarbaar sal wees nie. Wees versigtig met jou woorde en dade. Persepsies word dikwels die werklikheid. Dit maak nie saak of jy dit nie so bedoel het nie, as jy iemand aanstoot gee is die skade gedoen.

Moenie iets doen of sê of op sosiale media reageer, as jy emosioneel is nie. Dit is in die hitte van die oomblik dat ʼn mens dinge sê waaroor jy later spyt is. Maak ʼn vaste voorneme om nie te reageer voor ʼn bepaalde afkoelperiode nie. As jy wel iets wil skryf, vra iemand om jou inskrywing te lees voordat jy dit plaas. Dit help om ʼn tweede mening in te win. Onthou dat sodra daardie enter-knoppie gedruk is, die inskrywing nooit kan verdwyn nie.

Probeer altyd om die saak ook uit iemand anders se oogpunt te beskou. Jy hoef nie daarmee saam te stem nie, maar dit is nodig om ʼn ander se mening te respekteer. As jy baie ontsteld raak oor die nuus of menings in die media, aanlyn of op sosiale media, spandeer minder tyd op jou digitale toestelle. As jy agterkom dat jy toenemend negatief reageer op berigte en angstig en kwaad begin voel, kry iemand om mee te gesels, wat jou perspektief kan gee.

As jy dalk ʼn fout begaan het, vra om verskoning. Wees opreg en vergewe jouself. Skuldgevoelens kan jou geestesgesondheid net benadeel. As jy dalk die teiken van so ʼn aksie was, neem jou woorde en dade eerlik in oënskou en doen moeite om ʼn opregte verskoning aan te bied – en leer uit jou foute.

Vir antropoloë en sosiale wetenskaplikes bied die bespreking oor kansellasiekultuur ʼn insig in die komplekse funksie daarvan in verskillende samelewings. Dit werp lig op sosiale kwessies wat miskien aangespreek moet word of ten minste meer aandag moet geniet. Die term kansellasiekultuur is uiteindelik misleidend en baie moeilik om te definieer. Dit is ook nie so maklik om te bepaal of dit meer voordele of nadele inhou nie. In ʼn samelewing waar morele verontwaardiging sonder die nodige omsigtigheid in die openbaar uitgespreek kan word, is dit die moeite werd om die situasie na te vors voordat ons betrokke raak by kansellasiekultuur. Ons moet evalueer of dit regtig effektief is en ons moet nugter wees oor die effek wat dit op ons geestegesondheid kan hê.

As Christene is daar ook ander oorwegings. Daar word van Christene vereis om te vergewe – ook jou vyand. Voordat jy, as Christen, iemand in die openbaar teregwys of tot skande maak, wees baie seker oor jou motivering en dat jou optrede in lyn met die Bybel is. Jesus het ʼn inklusiewe genadekultuur geskep, daarom moet ons, as sy dissipels, versigtig wees om nie ʼn veroordelende kultuur te skep nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.