Kassetband-uitvinder (94) sterf

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Mayte Wisniewsk)

Lou Ottens, die Nederlandse ingenieur en uitvinder-ontwerper van die kassetband, is vandeesweek in sy tuisdorp van Duizel, Noord-Brabant, dood.

Hy was 94 jaar oud. Ottens se familie het sy dood bevestig.

Ottens het in 1960 hoof van Philips se produkontwikkelingsdepartement geword en dit is daar waar hy en sy span die kassetband ontwikkel het. Hy het in 1986 afgetree.

In 1963 is dié produk vir die eerste keer op die Berlynse skou vir radio-elektronika bekendgestel en het kort daarna wêreldwyd sukses behaal.

Ottens het ʼn ooreenkoms met Philips en Sony bereik om sy oorspronklike kassetmodel te patenteer nadat talle Japanse maatskappye kassetbande in verskillende groottes begin vervaardig het.

Vir die 50ste herdenking van sy uitvinding het Ottens aan Time-tydskrif gesê “dit was ʼn sensasie van die eerste dag af”.

Hy was ook betrokke by die ontwikkeling van die kompakskyf (CD), waarvan meer as 200 miljard eenhede tot op hede wêreldwyd verkoop is.

Sowat 100 miljard kassetbande is na raming wêreldwyd verkoop sedert dit vir die eerste keer in die 1960’s verskyn het. Ottens se uitvinding het die manier waarop mense na musiek luister getransformeer.

Daar was in onlangse jare ʼn oplewing in die gebruik van kassetbande, met kunstenaars soos Lady Gaga en The Killers wat hul musiek ook op kassette uitgereik het.

Volgens die Official Charts Company in Brittanje het die verkope van kassetbande in die eerste helfte van 2020 met 103% toegeneem in vergelyking met dieselfde periode die vorige jaar.

Volgens Nielsen Music het die verkope van kassetbande in die VSA met 23% toegeneem in 2018 in vergelyking met die vorige jaar.

Ottens het in ʼn onderhoud oor sy loopbaan gesê sy grootste berou is dat Sony en nie Philips nie die ikoniese kassetspeler, die Walkman, ontwikkel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert K ·

Laat my terugdink aan my heel eerste kassset – Anton Goosen se Boy van die suburbs. Ek was toe in standerd 6 en het dit saam met ‘n Pick&Pay kassetspeler as persent van my ouers gekry vir my verjaardag. Baie genot en soms frustrasie met kassette gehad. Rus sag Ottens – en dankie

koos ·

Ek stem saam – dankie vir jou innovasie en rus in vrede, Ottens. Jy het baie lewens verbly in ‘n donker wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.