Kindervermaak leer jonges oor Covid-19

Kinders hoor daagliks van die koronavirus (wat die siekte Covid-19 veroorsaak) en dit kan ʼn uitdaging wees om met jou kind, veral peuters en kleuters, oor hierdie onderwerp te praat.

Kindervermaak SA het kragte saamgesnoer met van Suid-Afrika se gunsteling-kinderproduksiespanne om Covid-19 aan kinders te verduidelik, in ʼn taal wat hulle verstaan.

Die kindervermaakkunstenaars Lollos, Buster & Bella en Klikkerland bespreek eersdaags in ʼn aanlyn reeks op Facebook verskeie onderwerpe rakende die virus om jou kind ʼn geheelbeeld te gee oor wat dit behels en watter voorsorgmaatreëls hulle kan toepas.

Kleuters se kwelvrae soos wat is die koronavirus, moet ek bang wees daarvoor, en wat kan ek doen om te keer dat ek siek word, word op ʼn prettige wyse beantwoord.

Die aanlyn reeks sluit drie episodes van ongeveer 25 minute lank elk deur die onderskeie kindervermaakkunstenaars in. Kykers kan ʼn pakket wat al drie episodes insluit, aankoop teen R150. Die pakket sluit onder meer bemoedigende boodskappe van kinders se gunstelingkarakters asook wenke en idees vir speletjies en aktiwiteite in.

Kaartjiekopers moet toegang tot die internet en ʼn aktiewe Facebook-profiel hê om hierdie produk te kan gebruik en sal binne 24 uur ʼn e-pos ontvang met alle logistieke inligting oor die pakket. Die inhoud van hierdie pakket sal slegs vir ʼn beperkte tyd beskikbaar wees.

Gegewe regulasies asook beperkte tyd tot die spanne se beskikking, is dit belangrik om in ag te neem dat hierdie episodes nie in ʼn ateljee geskiet word of redigering behels nie. Hoewel hierdie episodes waardevol is, is dit egter nie noodwendig die gehalte van die DVD-opnames wat oor ʼn paar weke geskiet word nie.

Die eerste episode word Woensdag 1 April om 08:00 beskikbaar gestel. Kaartjieverkope sluit Dinsdag 31 Maart om 14:00. Klik hier om kaartjies te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.