KKNK-kunsuitstallings nou ook aanlyn te sien

Mary Sibande se uitstalling met die titel “In the midst of chaos there is opportunity”. (Foto: Verskaf)

Kunsliefhebbers wat nie vanjaar se kunsuitstallings op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) kon besoek nie, kan dit nou aanlyn besigtig.

Die kunswerke word tot Sondag 5 Junie in ʼn driedimensionele virtuele galery op die KKNK se webwerf uitgestal en dit kan op ʼn rekenaar of selfoon besigtig word.

Besoekers word op ʼn virtuele toer geneem deur al die vertrekke van die Prince Vincent-gebou in Oudtshoorn, waar die KKNK se visuele kunste vanjaar uitgestal is.

“Die fees se virtuele uitstallings was die afgelope twee jaar ongelooflik suksesvol,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.

“Tydens die pandemie was dit nie moontlik om kunsgalerye te besoek nie, maar te danke aan hierdie inisiatief het kunstenaars steeds die geleentheid gehad om te kon skep en hulle werke uit te stal. Kunsliefhebbers het hierdeur ook die geleentheid gekry om kuns te besigtig, te waardeer en aan te skaf.”

Volgens Theart het die virtuele galerye wêreldwyd belangstelling gelok en van die kunswerke is ook deur oorsese kliënte aangeskaf. “Noudat ons weer uitstallings in Oudtshoorn kon aanbied, het ons ook die waarde daarvan besef om die kunstenaars en werke nie nét aan die Suid-Afrikaanse publiek wat nie die fees kon bywoon nie, beskikbaar te stel, maar ook aan kunsliefhebbers regoor die wêreld.”

Dineke van der Walt, die KKNK se visuele kunstekurator, sê sy verstaan dat baie mense om verskeie redes nie fisiek die fees in Oudtshoorn kon besoek en al die aanbiedinge kon geniet nie. Sy voeg by dat die kunsuitstallings steeds baie gewild en deurlopend ondersteun is en dit is veral die gratis kinder-kunsvermaak wat baie gewild was.

“Daar was in ʼn stadium meer as 17 kinders wat binne ʼn uur aan die kinder-kunsprogram deelgeneem het. Ons het tafels en stoele uitgepak en dit was wonderlik dat daar ook kinders was wat nie regtig kuns ken nie, want dit was ʼn wonderlike geleentheid om hulle aan kuns voor te stel. Hierdie soort werk met hulle is ewigheidswerk.”

Aanlyn uitstallings gaan gepaard met kort beskrywings van die uitstallings wat agtergrond en konteks oor die werk verskaf. Besoekers kan ook uitsien na vier bonus-video’s. Die video’s sluit in ʼn dokumentêr deur Lieza Louw oor die skeppingsproses van Karin Preller, ’n vorderingsvideo van die ReWOLusie-hekelkunsprojek wat Mary Sibande se 2010-werk Her Majesty Queen Sophie uitbeeld, Henrietta Scholtz se Life and Time in Place en Cloud Migration van Phumlani Ntuli.

Ander kunswerke wat in die galery uitgestal word sluit in die werk van Nkhensani Rihlampfu, Gregg Price, Dirk Bahmann en Wayne Matthews; die gewilde Oudtshoorn-projek Karoo Kaarte, Prestik and Paper; versamelings uit die Absa-kunsgalery; en ʼn mos-kunswerk deur die tuinboukundige Marcia Visser.

Hoewel van die kunswerke wat deel van die virtuele galery is reeds verkoop is, is daar werke wat steeds vir voornemende kopers beskikbaar is.

Klik hier om die KKNK se virtuele galery te besoek. Vir enige navrae stuur ʼn e-pos na Dineke van der Walt by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.