KragDag: Die doen-jou-eie-ding ekspo

(Foto verskaf)

Dit is byna tyd vir die Sakeliga KragDag 2019 ekspo, vanjaar aangebied van 8 – 10 Augustus op Diamantvallei Landgoed, 20 km oos van Pretoria.

KragDag is die grootste alternatiewe energie en selfstandigheid-ekspo in die land (verlede jaar deur 15 700 mense bygewoon) en word vanjaar reeds vir die elfde keer aangebied.

Die ekspo het in 2008 ontstaan toe alternatiewe vir Eskom-kragvoorsiening nog nie vrylik beskikbaar was vir die publiek nie, en KragDag ʼn handjie vol kragvoorsieners bymekaar gebring het. Dit het egter gegroei tot ʼn ekspo wat vandag vir besoekers ʼn verskeidenheid doen-jou-eie-ding lewenstyloplossings bied. Hieronder val energiebesparing, sonkrag, veiligheid, nuwe tegnologie, opvoedkunde, buitelugkragtoerusting en vele meer. Alhoewel dit ʼn leersame geleentheid is, word dit in ʼn karnavalatmosfeer aangebied en is groot pret vir die hele gesin.

Dit is ook die eerste keer wat ʼn volwaardige landbou sub-ekspo in samewerking met TLU SA, by die bestaande 350 uitstallers gevoeg word, en vandaar ook die tema vir vanjaar: ʼn boer maak ʼn plan!

Besoekers kan vanjaar uitsien na meer as 450 uitstallings, ʼn raadsaalprogram met bekende sprekers waaronder Dawie Roodt, Anthea Jeffery, Francois Durand en Fergus Fergusson. By die landbou sub-ekspo is daar boonop die Toyota Junior-Afslaers se Noordelike Streekskampioenskappe, Diamond L se Slaglamkompetisie, veeras-tentoonstellings en verskeie sprekers in die twee lesingstente wat bekendes insluit soos dr. Faffa Malan, Felix Reinders en dr. Chris van Dijk. ʼn Arena sorg ook vir aanskoulike vertonings soos berede boogskiet, ʼn Middeleeuse gevegdemonstrasie en hommeltuigdemonstrasies.

(Foto verskaf)

KragDag is passievol oor entrepreneurs, en bied weer ʼn Junior Entrepreneurskompetisie aan waar jong mense tot die ouderdom van 21 hulle produkte aan die besoekers kan bekendstel. Groot kontantpryse, asook besigheidsafrigting en kursusse kan gewen word.

Daar is ook vermaak vir die res van die gesin met ʼn snuffelmark, ʼn groot verskeidenheid kosstalletjies, ʼn biertuin om die dors te les en ʼn speelpark en boeresport vir die kinders.

Die opvoedkunde sub-ekspo, wat veral fokus op alternatiewe vir staatsonderwys, verdien ook spesiale vermelding.

Besoek http://www.kragdag.co.za vir besonderhede oor alles wat jy vanjaar by die ekspo te wagte kan wees.

Toegang beloop slegs R90 by die hekke, maar besoekers kry die geleentheid om gratis kaartjies te bekom indien hulle met ʼn unieke e-pos adres op die webwerf registreer. Kinders tot die ouderdom van 18 jaar het ook gratis toegang.

Die oorvloed uitstallings en aktiwiteite wat aangebied word, maak dit eintlik wenslik om meer as een dag van die ekspo by te woon en om soveel as moontlik van die feestelikheid van die ekspo in te drink is daar ’n gesellige kampeerterrein op die perseel ingerig. Vir die wat gemakliker verblyf benodig, is daar ook verskeie akkommodasie-opsies in die omgewing beskikbaar. Besoek gerus die Akkommodasie-blad op die webwerf.

Ondernemings wat inpas by die doen-jou-eie-ding tema en graag by KragDag wil uitstal, kan 087 231 1644 skakel vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.