Kripto laat hom al meer geld

Marius Reitz van Luno. (Foto: Verskaf)

Of jy nou al jou tone in die onstuimige kriptogeldwaters gewaag het en of jy steeds eerder die klingel van muntstukke in jou beursie verkies, daar’s geen keer aan die groei van die digitale geldwêreld nie.

Volgens Marius Reitz, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse kriptoplatform Luno, het veral bitcoin en ethereum, die twee grootste kriptogeldeenhede volgens markkapitalisasie, vanjaar stewige groei getoon.

“Verskeie hoëprofiel-instellings en maatskappye het in 2021 op ’n veel groter skaal in kripto belê en dit het die wêreld van kubergeld se evolusie aangevuur tot ’n multi-biljoen-dollar bateklas.”

Bitcoin se prys het op 5 November deur sy hoogtepunt van $68 000 gebars, wat ’n reuse-sprong is vanaf die vlak van $19 000 waarteen dit middel Desember verlede jaar verhandel het. Dié eenheid het 2021 op $30 000 afgeskop en ry tans wipplank tussen die vlak van $46 000 en $50 000.

Ethereum se prys het ’n jaar gelede nog op $586 gestaan, maar verhandel tans teen sowat $3 800. Ethereum het ’n markkapitalisasie van $443 miljard, terwyl bitcoin se markkapitalisasie dubbeld op $890 miljard is.

Groot groepe koop meer

Dit is so dat dié nuwe alternatiewe bateklas vir talle nog volksvreemd is en die wisselvalligheid in die prys van kripto nog ’n hele ruk sal voortduur, meen Reitz. Maar, voeg hy by, die toetrede van al meer vooraanstaande maatskappye tot dié mark, asook die toename in regulering, gaan die waarde van dié geld al meer stukrag gee.

“In die VSA, waar regulering toegang tot kripto toelaat, betree firmas soos Fidelity, Goldman Sachs en JP Morgan die kriptomark, en die Proshare Bitcoin ETF (die wêreld se eerste Bitcoin ETF – “exchange-traded fund” of beursverhandelde fonds) het ’n rekord-invloei in die fonds gesien.

Microstrategy, die Nasdaq-genoteerde sake-intelligensiemaatskappy, het ook vanjaar bykomende bitcoin gekoop en besit nou sowat $6 miljard van dié eenheid. Skuiwe soos dié word wyd beskou as ’n groen lig vir kripto deur korporatiewe VSA.

“Verskeie tradisionele betalingsverskaffers het ook blokketting- en kripto-oplossings begin aanneem, met groepe soos PayPal, Venmo, Mastercard en selfs Twitter wat kliënte in staat stel om bitcoin vir transaksies te gebruik. In Suid-Afrika het Capitec en Discovery Bank vennootskappe gevorm om kripto as ’n nuwe produkaanbieding te lys,” sê Reitz.

(Foto: iStock)

Word dié tiener volwasse?

Die verhandelingsplatform CoinDesk het vroeër gesê die aantal nuwe digitale beursies wêreldwyd het die afgelope jaar met 45% toegeneem tot ’n geraamde 66 miljoen. Sy eweknie Coinbase het gesê hy het nou meer as 73 miljoen wêreldwye gebruikers, terwyl Gemini op sy beurt onlangs sy “State of US Crypto Report” uitgereik het, wat gevind het dat 21,2 miljoen Amerikaners die een of ander soort kripto-geldeenheid besit.

Suid-Afrika se Luno spog met bykans tien miljoen gebruikers en doen tans in 40 lande sake. “Ons aantal aktiewe maandelikse gebruikers het verdubbel in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar. Waar kliënte hul kriptogeld vroeër net vir gemiddeld drie maande gehou het, is dit nou bykans ’n jaar.

“Dit dui daarop dat ons in die vroeë stadium is om weg te beweeg van suiwer spekulasie na kliënte wat die langertermynwaarde hiervan sien. Die kriptosektor se waarde word tans op meer as $3 biljoen gewaardeer,” sê Reitz.

Ontluikende ekonomieë

Terwyl China in September vanjaar ’n stokkie voor kriptogeld gesteek het, het El Salvador die eerste land ter wêreld geword waar bitcoin as wettige betaalmiddel beskou word, wat beteken dat kleinhandelaars wetlik verplig is om dit as betaling te aanvaar.

Hoewel dié stap met hewige steun én fel kritiek begroet is, bevestig dit die waarde van kripto-geldeenhede as ’n manier vir ontwikkelende ekonomieë om ’n globale finansiële stelsel te omseil wat staatmaak op ongunstige lenings en gerig is op die wêreld se ryker lande en individue, meen Reitz.

Gebrekkige regulering bly die grootste enkele faktor wat beleggers katvoet laat, maar daar is al meer bewegings om dié sektor te reguleer. “Konsepregulasies is in 2021 aangekondig en Suid-Afrika se reguleerders het ’n pragmatiese benadering tot die regulering van kripto ingeneem. Luno is ten gunste van regulering van die sektor en glo dat dit positief vir die bedryf sal wees.”

Volgens Reitz het ’n aantal sentrale banke wêreldwyd begin om digitale geldeenhede uit te reik. “Nigerië het byvoorbeeld vanjaar die e-Naira bekendgestel en Suid-Afrika ondersoek ook ’n digitale geldeenheid. Dit wys dat sentrale banke nie blind is vir die potensiaal wat kripto inhou nie.”

Die toekoms

Daar is tans tussen 18 en 19 miljoen bitcoins in omloop, en slegs 21 miljoen sal eindelik gemyn word. Bedryfskenners wys deurgaans op hierdie ingeboude skaarsheid as ’n groot deel van dié kubergeldeenheid se aantrekkingskrag.

Hoewel ’n prysvoorspelling ’n gevaarlike glasbal is om in te loer, meen verskeie beleggers dat bitcoin, konserwatief gesproke, binne die volgende jaar deur die vlak van $100 000 kan breek.

Dit is egter nie net dié in die kriptobinnekringe wat voorspellings waag nie. Groot finansiële instellings soos JP Morgan meen ’n langtermynhoogtepunt van $146 000 is nie onmoontlik nie, terwyl Bloomberg ’n (baie optimistiese) vlak van soveel as $400 000 voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Alexander

Daat sit lieflike idees agter crypto wat niks met ryk word uit te waai het :D