Kripto: Regulering, rowers en rekords

(Foto: iStockphoto)

Kriptoregulering is voor die deur in Suid-Afrika en kenners meen dit kan nie gou genoeg gebeur nie. Enersyds sal dit aan diegene wat hul hand al aan die wêreld van digitale beursies en ontasbare munte gewaag het, die gemoedsrus gee dat daar ’n wakende oog oor dié ongekarteerde deel van die finansiële landskap gehou word, terwyl kriptoverhandelingsplatforms en finansiële adviseurs die stukrag sal kry om kripto as geloofwaardige bateklas of -instrument aan kliënte te bied.

“Wêreldwyd sien ons al meer stappe om digitale geldeenhede te reguleer en ons verwag die bekendstelling van ’n duidelike Suid-Afrikaanse regulatoriese raamwerk hiervoor, wat baie positief vir die plaaslike kriptosektor sal wees, waarskynlik teen die einde van hierdie jaar,” sê Marius Reitz, uitvoerende hoof: Afrika, van die kriptoverhandelingsplatform Luno.

Kripto en die formele finansiëledienstesektor

In die VSA, waar regulering toegang tot kripto moontlik maak, het maatskappye soos Fidelity, Goldman Sachs en JP Morgan reeds die kriptomark en die Proshare Bitcoin Exchange Traded Fund (ETF), die wêreld se eerste ETF (of beursverhandelde fonds), met mening betree.

In afwagting op plaaslike regulasies, werk verskeie batebestuurders agter die skerms om kriptoprodukte en -oplossings te skep. “Vorige pogings om ’n ETF vir bitcoin op die plaaslike aandelebeurs te noteer, was nie suksesvol nie. Die notering van kripto-instrumente op die JSE sal ’n waterskeidingsoomblik wees wat batebestuurders sal toelaat om dié digitale geldwêreld te ontsluit,” sê Reitz.

Volgens hom sal regulering ook die formele vennootskappe tussen banke en kriptomaatskappye verhoog, wat kriptobelangstelling sal aanvuur en meer mense in staat sal stel om hieruit munt te slaan.

“Sodra regulering gefinaliseer is, sal finansiële adviseurs kriptoprodukte en -dienste aan kliënte kan bied. Luno werk saam met ondernemings om te verseker dat kliënte kriptobeleggings deur betroubare finansiële adviseurs kan doen.”

Kripto en sentrale banke

Louis van Staden, wêreldwye betalingshoof van Luno, verwag om binnekort die bekendstelling van meer digitale geldeenhede deur sentrale banke (Central Bank Digital Currency of CBDC) te sien. “Nigerië het die e-Naira bekendgestel en Suid-Afrika ondersoek ook ’n digitale geldeenheid. CBDC’s is betekenisvol omdat dit die ontmoetingspunt is tussen hoe die tegnologie aangewend kan word en ’n ruimte waarin reguleerders gemaklik is,” sê hy.

Die fokus in die betaalruimte is op naatlose, vinnige en veilige maniere om kripto te koop en te verkoop. Van Staden glo dat maatskappye maniere sal ondersoek om bekende hulpmiddels soos bankkaarte en mobiele geld in die kripto-ekosisteem te inkorporeer.

“Oop bankwese, waar finansiële instellings inligting oor kliënte deel, is reeds taamlik alledaags in die Verenigde Koninkryk (VK) en Europa. Dit is vinnig en inligting kan maklik tussen verskeie instellings gedeel word. Uiteindelik sal stelsels wat transaksies eenvoudiger maak, al meer traksie kry.”

Europa al meer kubermisdaadbrandpunt

(Foto: iStock)

Net soos al meer mense in kripto belê, word mense ook meer bewus van die belangrikheid om hul digitale beursies veilig te hou. Eva Crouwel, hoof van finansiële misdaad by Luno, sê kliënte meld onreëlmatighede vinniger aan en herken die waarskuwingstekens namate bewusmakingsveldtogte toeneem.

Sy waarsku egter dat kuberverwante voorvalle soos gyselware en e-posonderskepping sedert die uitbreking van Covid-19 aan die toeneem is. “Die verskuiwing weg van ’n kantoorgebonde werkomgewing het sy voordele, maar ons sien toenemende kwesbaarheid by maatskappye, wat daartoe lei dat gebruikers mislei word om korporatiewe rekeninginligting te deel,” sê sy.

“Interessant genoeg is Europa besig om al meer ’n finansiële misdaadbrandpunt te word. Ons sien toenemend voorvalle van finansiële misdaad reg oor Europa. Beleggingswendelary, wat kwesbare én welgestelde mense in Frankryk, Italië, Duitsland en die VK teiken, is aan die toeneem,” sê Crouwel.

Kripto-rowers vasgetrek in VSA

Die Amerikaanse departement van justisie het vroeër vandeesmaand beslag gelê op gesteelde bitcoin ter waarde van meer as $4 miljard, die grootste beslaglegging ooit van sy soort, en twee mense in hegtenis geneem.

Die kuberkraker en sy medepligtige het na bewering in 2016 byna 120 000 bitcoin by die verhandelingsplatform Bitfinex gebuit. Dié geld was toe gewaardeer op sowat $71 miljoen, maar die waarde staan nou op meer as $5 miljard. Sowat 94 000 bitcoin is teruggevind.

Dié krakers het oor die afgelope vyf jaar sowat 25 000 van die gesteelde bitcoin deur verskeie rekeninge “gewas” en verskeie metodes gebruik om hul spore uit te wis – van vals identiteite tot die omskakeling van bitcoin in ander digitale geldeenhede. Indien hulle skuldig bevind word, kan hulle tronkstraf van tot 25 jaar opgelê word.

Dit kom ná ondersoekers in die VSA verlede jaar op sowat $2,3 miljoen se kriptogeld beslag gelê en só die losprys teruggekry het wat deur die Colonial Pipeline-maatskappy betaal is om ’n verlammende kuberaanval te beëindig.

Kripto-wipwarit

Die kriptomark het in 2021 met verskeie rekords gespog én ’n paar harde opstoppers gekry. “Kriptogeldeenhede is steeds ’n nuwe alternatiewe bateklas en voortdurende wisselvalligheid is te wagte,” sê Reitz. “’n Langtermynbeskouing wys egter dat kripto sy opwaartse trajek behou, selfs met enorme prysskommelings wat op kort termyn gesien word.”

Die drie grootste kriptogeldeenhede volgens markkapitalisasie is bitcoin ($727 miljard teen ’n prys van $38 000 teen einde Februarie 2022), ethereum ($310 miljard teen ’n prys van $2 700 teen einde Februarie) en tether ($80 miljard teen ’n prys van $1), aldus Bankrate.com.

Bitcoin het 2022 om die vlak van $47 700 afgeskop, terwyl dit die vorige jaar op $34 000 weggespring het. Dié kubergeldeenheid het sedert die begin van 2020 van net meer as $9 000 af opgeskiet tot die sowat $38 000 waarteen dit teen einde Februarie vanjaar verhandel het. Bitcoin se hoogste vlak ooit was bykans $69 000 in November 2021.

Ethereum het op sy beurt in Januarie vanjaar om die vlak van $3 600 verhandel, teenoor sowat $700 dieselfde tyd verlede jaar. Dié eenheid het ook in Januarie 2020 begin vlamvat en van $128 gestyg tot om die vlak van $2 700 teen einde Februarie 2022. Ethereum spog met ’n rekordprys van $4 800 wat in November verlede jaar aangeteken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.