Kry ’n virtuele kultuurinspuiting – van jou rusbank af

Google Arts and Culture is ʼn aanlyn platform wat toegang aan die publiek bied tot hoëresolusiebeelde van kunswerke wat in museums wêreldwyd gehuisves word. (Foto: Igor Miske/Unsplash)

Kultuurliefhebbers wat deur die uitbreking van die korona (Covid-19)-virus wêreldwyd genoop word om noodgedwonge met Jan Tuisbly se karretjie te ry, kan in die gemak van hul eie huise virtuele internettoere van die wêreld se grootste museums onderneem.

Google Arts and Culture is ʼn aanlyn platform wat toegang aan die publiek bied tot hoëresolusiebeelde van kunswerke wat in museums wêreldwyd gehuisves word.

Sowat 2 500 gesogte kunsmuseums, onder meer die Van Gogh-museum in Amsterdam, die Britse museum in Londen, die Musée d’Orsay in Parys en die Guggenheim-museum in New York, verskyn op dié aanlyn platform se museumlysie.

Die kunsversamelings wat ten toon gestel word, verskil van museum tot museum, maar die meeste sluit aanlyn uitstallings, “straataansigte” sodat die museums ook van buite besigtig kan word en galerye van die kunswerke, in.

Virtuele museumgangers kan verdiep raak in wêreldbekende skilderye soos Johannes Vermeer se The Milkmaid in die Rijksmuseum in Amsterdam of Leonardo Da Vinci se Adoration of the Magi in die Uffizi-galery in Florence, Italië, wat ook onlangs sy deure gesluit het.

Google Arts and Culture het ʼn top-10-lys van hul gunsteling- aanlyn toere saamgestel.

New York se Times Square, waar die Broadway-teaterkompleks geleë is. (Foto: Denys Nevozhai/Unsplash)

Intussen het die teatergemeenskap van die Broadway-teaterkompleks in New York in die VSA ook ʼn digitale platform geskep waar sy teatersterre hul vertonings kan lewer totdat die kompleks weer kan open op 12 April.

Living room concerts is geskep deur die teaternuuswebwerf BroadwayWorld.

“Mense koop hul teaterkaartjies en bespreek hul vlugte soms ses maande tot ʼn jaar vooruit. Ons wou net ʼn bietjie vreugde bring in ʼn tyd wat baie moeilik is vir soveel mense,” het Alan Henry, digitale besturende direkteur van BroadwayWorld, aan NBC News gesê.

Die video’s moedig kykers aan om skenkings te maak aan die Broadway Cares/Equity Fights VIGS-organisasie, wat sy jaarlikse Broadway Backwards-fondsinsamelingsgeleentheid moes kanselleer, sowel as aan die Actors-fonds, ʼn organisasie wat hulp verleen aan mense in die vermaaklikheidsbedryf wat in nood verkeer.

“As mense van die video’s hou, kan hulle die geld wat hulle op ʼn Broadway-kaartjie sou bestee, eerder skenk aan ʼn gemeenskap wat in nood is,” het Henry bygevoeg.

Bronne: Fast Company, Google Arts and Culture, NBC News

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.